Dit was die eerste dag terug hok toe vir gr. 7 en matrieks in die land. Rye leerlinge het vanoggend voor skole gestaan, ’n meter van mekaar, waar hulle temperatuur geneem en hulle hande ontsmet is voor hulle vir die eerste keer in weke formele onderrig gekry het.

Foto: Verskaf
Hugo en Nina, 'n tweeling, is vandag terug skool toe by Laerskool Louis Leipoldt in Centurion

Hoe het die eerste dag van skool verloop?

Nina: Dit was baie georganiseerd, ons moes verder stap as gewoonlik want hulle wou seker maak almal stap die regte paadjie tot by jou klas en dat jy minstens drie keer gesaniteer word voor jy by jou klas kom.

Hugo: Daar was klomp mense wat in die klas ingekom het en vir ons klomp goed verduidelik het oor die reëls. Die een juffrou het vir ons vertel hoe om uit te kyk of een van ons maatjies dalk depressie het, soos as hy byvoorbeeld baie anders optree en baie moedeloos is en nie van die goed hou waarvan hy gewoonlik hou nie.

Nina: Juffrou het ook die woord trauma gebruik, want dit affekteer mense verskillend. Sommige mense kan ook anders optree weens die trauma van die alles.

Het hulle vir julle nog reëls neergelê?

Hugo: Ja, soos ons moenie aan ons maatjies vat nie, ons moet ons maskers ophou op ten alle tye en twee tot drie meter wegbly van almal.

Nina: Ons het maskers en skerms by die skool gekry en heeltyd tot pouse deur al die reëls gegaan en eers na pouse eintlik met werk begin, maar dit het hulle ook eers rustig gevat.

Wat het hulle oor skoolwerk gesê?

Hugo: Hulle het gesê ons gaan alles weer doen sodat ons twee maal so goed alles ken.

Nina: Ons Engelse juffrou het vertel dat ons min toetse gaan skryf.

Wat was erg van vandag?

Hugo: Die maskers! Dit was erg om dit heeltyd te dra.

Nina: Niks was vir my te erg nie. Die maskers was eintlik vir my lekker. Dit voel nogal vir my lekker en cool. Maar ek hou van nuwe goed en ek het nie heeltyd die masker gedra nie. Ek het ook die skerm gedra.

Wat was lekker?

Hugo: Ek kon my vriende weer sien en weer begin werk.

Nina: Die juffrouens wat daar was om te help. Dit is soveel beter as om net jou werk van ’n rekenaarskerm af te kry. Pouse was ook nogal lekker . . . anders maar lekker.

Hoe het pouse gewerk?

Hugo: Ons was op die rugbyveld. Daar was kruisies op die rugbyveld gemerk en dan moet jy daarop sit en dan twee meter verder is daar nog ’n kruisie waar iemand kan sit. Al die seuns was op die rugbyveld so jy kon by jou vriende sit maar net twee meter weg. Ek kon my masker afhaal pouse want ons was twee meter weg van mekaar af, so dan is dit veilig.

Nina: Ons kon nie net stap en pouse gaan hou nie. Ons moes saam met ’n onderwyser stap, ’n meter weg van mekaar en ons moes presies op die kol sit (wat gemaak is) anders het ons in die moeilikheid gekom. Hulle het vir ons verduidelik hoekom want as ons naby aan mekaar sit en hy is siek, kan ons aansteek.

Iets waaroor jy bekommerd of angstig was?

Nina: Die temperatuur meet . . . jy wil nie hê hulle moet jou meet en dan kan jy nie ingaan nie. Dit was vir my erg en as dit (hoog) sou wees, gaan almal dink jy is siek en almal gaan van jou af wegbly. Maar gelukkig was ek die regte temperatuur.

Hugo: Die temperatuur neem was vir my ook erg.

Dink julle julle sal gewoond raak aan hierdie reëls?

Hugo: Dit is maklike reëls om te volg en ek dink ek sal kan aanpas.

Nina: Ek dink dit gaan moeiliker wees om aan te pas as ons gewone skoolreëls. Ek wou drie keer vandag vir my maatjie ’n drukkie of ’n high five gee en ek kon nie. Ek dink 'n mens gaan soms net vergeet van die reëls en dit gaan dalk nie heeltemal aanpasbaar wees nie.

Wat mis jy van hoe skool was?

Nina: Ek mis die naskoolse aktiwiteite. Ek is een van die kinders wat meer van die kultuurafdeling hou, so dit is vir my erg. Dit voel sommer onregverdig. Ek kan mos ses meter weg van almal staan terwyl ek my praatjie opsê, maar dit is ongelukkig nie hoe dit werk nie.

Hugo: Wat ek regtig mis van die vorige tyd is omdat dit regtig lekker was om saam met jou vriende pouse te hardloop en rugby te speel, maar nou is dit mos anders want ons moet veilig wees. Dit is wat ek regtig mis.

Moes julle baie hande was?

Albei lag.

Ja!

Hugo: Soveel keer. 'n Mens hoef nie eens aan die bottel te vat as jy jou hande saniteer nie. Jy trap ’n pedaal of jy druk dit met jou elmboog.

Kon jy juffrou mooi hoor tydens klas?

Nina: Ons was in die saal en ek het nogal voor gesit, so ek kon. Ons het die skerms aangehad. ’n Mens so ore is ook mooi oop.

Hugo: Ja, ons was in die klas en het ons skerms aangehad.

Wat sou jy verander van vandag?

Hugo: Pouse. Hulle het ons in die een hoekie gesit maar ek sou regtig graag in die koelte of iets wou wees maar ongelukkig was daar nie baie plek nie.

Nina: Ek sou graag wou kies waar ek in die klas sit. Ek sit langs ’n chatter box en nie noodwendig by my maats nie.

Iets wat jul wil bylas?

Nina: Ek is gek daaroor dat ons ’n meter van mekaar af moet wees. Nou het ons elkeen ons eie tafel en ek kan al my goed lekker uitpak voor my.

Hugo: Dit is regtig lekker om terug te wees by die skool en al my maats te sien.

Skakel ook Vrydae tussen 06:00 en 07:00 in op GROOTfm 90.5, of op die DStv-audiokanaal 820, vir ’n weeklikse bespreking met die Huisgenoot-span oor wat in die nuus is.