Ben Grib (70) het op 29 Maart 2012 ter voorbereiding van die Comrades-marathon oudergewoonte vroegaand gaan hardloop.

Hoewel Ben, wat in daardie stadium in Springs aan die Oos-Rand gewoon het, nie die ongeluk kan onthou nie, het ooggetuies en sy verloofde, Marietjie Brown, vir hom vertel wat daardie dag en die daaropvolgende weke gebeur het.

“’n Man het glo in Nigelweg gery en by ’n rooi lig links gedraai en my onderstebo gery,” vertel Ben.

Ná ooggetuies die nooddienste gebel het, is Ben per helikopter na die Unie-hospitaal in Alberton gevlieg. Marietjie onthou nog hoe die polisie by hul huis opgedaag het. “Ek het onmiddellik geweet daar is fout,” onthou sy.

Ben het onder meer ernstige kopbeserings opgedoen en is aanvanklik in ’n geïnduseerde koma gehou. Hy was ook aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel. ’n Gat is in sy skedel geboor om breinvog te dreineer. Sy regterbeen en linkerskouer was vergruis. Ben kon ook nie sluk nie omdat senuwees wat die bewegings van die slukderm beheer, ook beskadig is. Hy moes daarom voeding deur sy maag kry.

Daar was talle uitdagings wat opgeduik het en terugslae wat Ben vir meer as ses maande in die hospitaal gehou het. Boonop het die skade aan sy slukderm nie net gemaak dat Ben nie normaal kan eet nie, maar ook sukkel om te praat omdat hy nie sy speeksel kan sluk nie.

“Die gevolge van die ongeluk was dat ek nie meer kon hardloop nie en ook nie kon fietsry nie,” vertel Ben, wat in 1984 sy eerste Comrades gehardloop het en dié strawwe wedloop al sewe keer voltooi het. Boonop was hy ook ’n kranige fietsryer wat al elf keer die 94.7-fietswedren en die Kaapstad-fietstoer gery het.

Hoewel Ben, wat ook na die ongeluk met dubbelvisie sukkel, steeds swaar asemhaal het hy hard gewerk om weer te kan loop. “Ek loop gereeld om die blok en loop ook ten minste twee keer per dag op die trapmeul,” sê hy. “Ek het maar aangeneem dat ek nie weer normaal sal kan eet nie, maar het verlede jaar besluit ek wil ten minste my spraak weer regkry,” vertel hy verder.

Ben het in Februarie vanjaar nog ’n operasie aan sy slukderm ondergaan om die beskadigde gedeelte te verwyder.

“Ek was vir sowat tien dae in die hospitaal waartydens ek dun vloeistowwe kon drink,” vertel Ben, wat toe ook eindelik op 2 Maart vir die eerste keer in ses jaar ’n koppie koffie kon proe. “En nadat ek ontslaan is, het ek al gevorder tot verpulpte kosse.”

Sy smaaksintuig is ná al die jare besig om te herstel, sê Ben, so die smaak van die eerste koppie koffie was nie heeltemal soos hy dit onthou nie, maar hy meen dit was wonderlik om te weet dat hy na ses jaar nie meer afhanklik sal wees van dieselfde sakkies kos nie. “Die ervaring van die eerste kos was wonderlik, maar ek het nog ’n paadjie om te stap voor alles weer normaal sal wees,” sê Ben.

Hy sê die afgelope paar jaar was 'n moeilike tyd in sy lewe omdat hy ook nie meer sy stokperdjie, om ou huise op te knap, kan beoefen nie. Tog hou Ben moed en hoop hy om met behulp van spraakterapie binne ses jaar weer te kan praat.

“Ek bly positief deur te glo die Here het nog ’n doel vir my, daarom dat hy my nog ’n kans in die lewe gee.”