Die fris geboude man raak kort-kort stil terwyl hy in dansende vlamme staar, want wat hy daar sien, is vir hom ’n dolksteek in die hart.

Hy krap eers met ’n vuuryster in die kole voor hy sug en sê: “Dit is moeilik . . .”

Wanneer hy so in die vuur staar, sien die 45-jarige Stefaans Engelbrecht die toneel wat hom daardie Saterdag, 26 Mei, in die koshuis van die Hoërskool Stella in Noordwes begroet het.

Op die badkamervloer het sy gelê. Sy Marna-muis . . . dood.

Vir dié introvert is sy eerste mediaonderhoud hier op die plaas naby Vryburg nie maklik nie.

Hy praat in kort sarsies onderbreek deur lang stiltes. Wanneer hy nie in die hart van die vuur staar nie, kyk hy op na Noordwes se sterre, so asof hy sy Marna daar soek.

Marna (links) en Sharnelle was beste vriendinne. Foto: Facebook

Hy kon daardie dag nie naby haar kom nie, hervat hy sy vertelling. Die moordtoneel was afgesper. Maar hy kon haar herken waar sy lê, soos ’n gevalle hoofspeler in ’n verskriklike verhoogdrama. Oral was polisiemanne.

“Toe ek na my dogter kyk, het ek dadelik geweet dit was nie selfdood nie,” sê hy skielik driftig.

In sy ontsteltenis het hy omgedraai en uitgestorm, verby die trapreling waar Marna (16) se beste vriendin, Sharnelle Hough (17), leweloos gehang het voor sy losgesny is.

By sy bakkie gekom, het hy ’n advokaat en ’n privaat speurder gebel en toe gery na die Bylsmas se plaas, waar Xander (19), Sharnelle se ekskêrel, saam met sy pa, Monte, woon.

En toe?

Hier waar hy met sy vuurwapen op sy heup langs die vuur sit, wil hy nie daaroor praat nie. Maar hy sê: “Hierdie yster is altyd by my.”

Daar is skielik geluide in die bosse buite die ligkring van die vuur.

Toemaar, dis net Marna se perd, Vonk, verduidelik Stefaans. “Sy het hom altyd met suiker bederf. Nou kom soek hy sy suiker wanneer hy mense buite hoor.”

Marna se kamer is nog nes sy dit gelos het. Foto: Martin De Kock
Foto: Martin De Kock

Sy dogter het die bruin hings met die wit vlek aan sy voorkop net ’n week voor haar dood gekry.

“Sharnelle was saam toe Marna die perd op die buurplaas gaan uitkies. Ek het hulle twee nog die bakkie gegee om die perd te gaan haal, maar toe ek weer sien, kom Marna op sy rug hier aangery.”

Hy sal altyd na Marna se perd omsien. En hy gesels maar deesdae met die perd oor sy dogter.

“Hy kry steeds sy suiker. Want hoe sê ek vir hierdie dier sy eienaar is vermoor?”

Stefaans bring deesdae baie tyd deur hier by die vuur agter die huis waar hy, sy vrou, Rianette, en hul oudste dogter, Riané (18), woon.

“Die natuur is my medisyne. Mense stel ’n mens teleur,” vertel hy stroef.

Stefaans lei jong boere op en doen ook wateraanwysing vir medeboere. Hy dink elke liewe dag aan Marna, sê hy. “My Marna-muis het vir ons Skepper gelewe. Sy het haar Christenskap baie ernstig opgeneem.”

Later wys hy ons haar pienk kamer in die huis. Dis nog net soos sy dit gelos het ná haar laaste naweek tuis voor sy terug is na die koshuis op Stella.

Dis vol foto’s van Marna en Sharnelle. Teen die muur is ’n briefie van Sharnelle aan Marna opgeplak: Moenie worry nie, jy sal nog die regte ou kry . . . Liefies, Lallie.

Lallie is hoe Sharnelle se geliefdes haar genoem het. Nou sal sy Marna nooit weet hoe dit voel om die liefde van jou lewe te ontmoet nie.

Teen die eetkamermuur in die huis hang ’n gedrukte kalender. By die datum 6 Augustus staan “hof” geskryf. Dis wanneer Xander weer op aanklag van Marna en Sharnelle se moorde moet voorkom.

Stefaans vertel Marna is sowat ’n maand voor haar 17de verjaardag vermoor. “Dit was ’n slegte dag vir ons. Ons het van haar as op my pa se plaas gaan strooi.”

Hy het daardie dag, 3 Julie, ’n foto van hom en Marna op sy Facebook-profiel gedeel met die boodskap:

My Marna-muis, vandag sou jy 17 word! Die verlange vreet my stuk vir stuk op! Pa sal nie rus voor geregtigheid vir julle 2 volbring is nie! Rus sag by Jesus!

Marna het daarvan gedroom om veearts te word. Foto: Facebook

Sy hart krimp wanneer hy dink aan al haar verjaardae en ander mylpale wat hy nou nooit saam met haar sal vier nie. Die drome wat nooit waar sal word nie.

“Marna-muis was baie lief vir diere. Sy wou ’n veearts word.”

Dit was net ná sesuur die Saterdagoggend, 26 Mei, toe Ronnie Hough, Sharnelle se pa, hom bel. Hy moet kom. Hul dogters is dood in die koshuis. Glo selfdood.

Toe hy die nuus aan Riané oordra dat haar suster dood is, het sy dadelik vir hom gesê: “Pa kan Xander Bylsma maar gaan haal,” vertel Stefaans.

“Dit het so onwerklik gevoel. Ek was bef**. Ek is nou nog bef**. Dis nie wat veronderstel is om met jou kind te gebeur nie.

“Vir ’n ouer om ’n kind te verloor is ’n ander storie. By my was sy veilig, maar nou ja, dit was uit my hande.”

Sharnelle se dood was ook ’n groot skok vir hom. “Hulle twee kom al saam vandat hulle in doeke was.”

Ná nog ’n lang stilte sê hy: “Dis ’n baie moeilike pad vir enige ouer om te loop.”

Die drie vroue van die Engelbrecht-gesin het hom altyd om hul pinkie gedraai, vertel Stefaans.

“Marna-muis, haar ouer sussie en hul ma het ’n goeie band gehad. Ek en Marna-muis het mekaar lekker verstaan.

“Maar ’n mens kon nie met hulle stry en wen nie,” vertel hy met ’n hartseer glimlag.

Marna se suster en ma kry ook baie swaar sonder haar, sê hy. Dié ding het hulle gesin aan flarde geruk. 

Xander Bylsma, wat van die moorde verdink word, was Sharnelle se eks en Marna se kleinneef, hoewel hulle nie maats was nie. Foto: Facebook

Die Engelbrechts het onlangs Riané se 18de verjaardag met ’n braai gevier.

“Maar dit was nie dieselfde sonder Marna-muis en Lallie nie.”

Marna en Xander, haar kleinneef, was “nooit meer as kennisse nie. Daar was nie ernstige familiebande tussen hulle nie.”

Tog is dit vir hom moeilik dat hy die vermeende moordenaar ken. “Dalk sou ek makliker berusting gevind het as dit iemand onbekends was.”

Hy vermy nou die Bylsma-kant van die familie. “Maar ek kan nie Xander se pa, Monte, verkwalik nie.

“Daar is dinge wat my pla, maar weens die hofsaak kan ek nie nou daaroor praat nie. Ek sal elke liewe dag in die hof wees. Maar niks sal haar ooit kan terugbring nie. Sy het haar hele lewe voor haar gehad en is dit ontneem,” sê Stefaans.

“Ek mis haar; ek mis haar erg.

“Ek mis die baie drukkies wat sy my altyd gegee het.”

Dan kyk hy weer op na die sterre, dié gebroke man wat in sy binneste worstel met die dinge wat geen ouer moet voel nie.

En hy prewel saggies, byna vir homself: “Ek hoop my Marna-muis kry die geregtigheid wat sy verdien.”