Elke keer wanneer ’n vrou die lewe skenk, gebeur ’n wonderwerk – ’n splinternuwe mensie snak die eerste keer na asem en ’n nuwe lewensreis begin.

Maar vir een egpaar was die geboorte van hul baba 40 jaar gelede selfs meer as die wonderwerk wat miljoene ander ouerpare al beleef het – dit het ook hoop gebring aan al daardie ouers wat gesmag het om swanger te raak, maar nie kon nie.

Danksy die Britse paar John en Lesley Brown en die geskiedkundige geboorte van hul dogter het minstens 8 miljoen vroue op aarde ma geword nadat hulle gedink het hul hoop om swanger te raak is vergeefs.

Deesdae is in vitro-bevrugting (IVB) ’n algemene mediese prosedure en wend baie pare hulle daartoe as hulle sukkel om sonder ingryping swanger te raak.

Maar in 1978 was dit ’n deurbraak, iets wat die mensdom in ’n nuwe rigting gestuur het.

Skielik kon lewe in ’n laboratorium verwek word – natuurlik steeds nie sonder die byeenbring van twee mense se genetika en die wonderbaarlike proses wat dan begin nie.

Haar geboorte op 25 Julie 1978 is as ’n mediese deurbraak begroet en het wêreldwyd nuusopskrifte gehaal.

Louise Joy Brown, die eerste sogenaamde proefbuisbaba, het wêreldwyd die nuus gehaal en op talle tydskrifte se voorblad verskyn toe sy op 25 Julie 1978 gebore is.

Die tydskrif Time het haar geboorte “die mees langverwagte geboorte in 2 000 jaar” genoem. Vandag nog is Louise alte bewus van haar merkwaardige plek in die geskiedenisboeke.

Om met haar 40ste verjaardag in Julie saam te val, het sy ’n essay vir die Britse koerant The Independent geskryf. Daarin bring sy hulde aan die tegnologie wat aan haar die lewe gegee het.

“IVB in sy vele vorme bring hoop vir dié wat voel hulle sal nooit ’n kind hê nie,” sê sy. “Soveel dinge het verander in die dekades wat verbygegaan het, maar paartjies se begeerte om babas te hê het nie.”

Louise verkies om as ’n IVB-baba pleks van ’n proefbuisbaba bekend te staan, want “geen proefbuise is in die werklikheid gebruik nie”. Sy is in ’n laboratorium in ’n glasfles bekend as ’n desikkator verwek.

Dit word vandag in die wetenskapmuseum in Londen uitgestal. Dié verwekking en swangerskap is moontlik gemaak nadat haar ouers hul vertroue in die Britse wetenskaplikes Patrick Steptoe en Robert Edwards geplaas het.

Dié twee dokters het sedert die laat 1960’s na ’n oplossing vir vroulike onvrugbaarheid gesoek.

Louise sê haar ma het nie gehuiwer om ’n proefkonyn vir hul eksperiment te wees nie omdat sy depressief was oor haar onvermoë om swanger te raak.

Die mediese span wat gehelp het om Louise in die lewe te bring. Foto: Twitter/@LouiseJoyBrown

Ná haar geboorte het miljoene ander vroue wat dieselfde soort stille desperaatheid ervaar het hoop gehad. Juis hierom het die dokters aan Louise haar tweede naam besorg.

“Toe ek gebore is, het Patrick en Robert voorgestel my middelnaam moet Joy wees. Hulle het gesê my geboorte sal aan mense vreugde bring,” sê Louise.

“Veertig jaar en miljoene babas later sal baie met die dokters saamstem.”

Louise se geboorte is uit vele oorde met ’n groot ophef begroet, maar kritiek op die behandeling is ook gelewer.

Konserwatiewe groepe het volgehou dit mors met die natuur, en sommige godsdienstige groepe het Patrick en Robert uitgekryt as dokters wat probeer God speel om “Frankenbabas” te skep.

Die Browns is ook uitgetrap dat hulle publisiteit soek. “Deur die geboorte van hul kind in ’n mediageleentheid te omskep het die Browns die kind verneder en geïnstitusionaliseer.

Daarvoor – en nie hul daad van medies gesteunde geboorte nie– behoort die Browns as simbole van die verval van Westerse sedes beskou te word,” lui ’n destydse lesersbrief aan die tydskrif Time.

Maar Louise hou vol haar ouers het nie ’n keuse gehad oor of hulle haar geboorte wou bekendmaak of nie.

“As hulle nie het nie, sou mense hulle gevra het: ‘Hoekom kan ons haar nie sien nie? Wat’s fout met haar?’ ” Sy sê Patrick en Robert moes kon wys die proses was suksesvol en die baba gesond.

“As iets enigsins met my fout was, sou dit die einde van IVB gewees het.”

Lesley se mediese span het ook besluit om Louise se geboorte met ’n keisersnee af te neem sodat die publiek op foto’s kon sien hoe beskadig Lesley se Fallopiusbuise was – dit was immers die rede hoekom sy nie kon swanger raak nie.

Die span het gevoel hulle moet bewys Patrick en Robert is nie met ’n skelmspul doenig nie. Voor Louise se geboorte het die twee dokters eers aan 282 vroue IVB-behandeling gegee.

Al het vyf swanger geraak, was nie een swangerskap suksesvol nie. Maar nadat Louise gebore is, het hul sukseskoers toegeneem.

Vier jaar later het Lesley en John ’n tweede dogter, Natalie, verwelkom – en sy is ook met IVB verwek. Sy was die wêreld se 40ste “proefbuisbaba”.

In haar essay erken Louise kritiek oor die proses sal altyd bestaan.

“My ma sou haar sekerlik nooit voorgestel het waartoe my geboorte sou lei nie,” sê Louise.

“Veertig jaar later verskuif ander wetenskaplikes die grense, embrioloë ontdek nuwe tegnieke, en morele vrae word steeds gevra.”

Vandag lei Louise ’n stil lewe in die suidweste van Engeland saam met haar man, Wesley Mullinder, en seuns, Cameron (11) en Aiden (4) – wat albei natuurlik verwek is. Haar suster, Natalie, het ook natuurlik swanger geraak met haar vier kinders.

Lesley is in 2012 op 64 jaar dood weens komplikasies van ’n galblaasinfeksie, maar sy het voor haar dood die plesier van kleinkinders ervaar, sê Louise.

’n Kiekie van Louise as baba saam met haar ma, Lesley, wat intussen gesterf het. Foto: Twitter/@LouiseJoyBrown

Louise tel haar seëninge dat sy sonder mediese ingryping kon kinders kry, voeg sy by.

“Vroue en mans onderneem hierdie reis daagliks. Eers moet hulle die moed bymekaarskraap om te sê sake werk nie vir hulle nie in die intiemste deel van hul lewe.

Hulle moet hul probleme met dokters en spesialiste deel. Party steek dit van hul naaste vriende en familie weg.

“Hulle het dalk iets eenvoudigs nodig of hulle het dalk operasies nodig – soos my ma gehad het – voor IVB eens probeer kan word. Deesdae kry ’n mens diëte, middels en selfs robotika, en dis moeilik vir iemand aan die middelpunt hiervan om op hul ware begeerte – om hul eie baba in hul arms te kan vashou – gefokus te bly.”

Ondanks die kritiek wat haar ouers moes verduur, sê sy haar ma was nooit spyt oor haar besluit nie.

“Selfs tot in haar laaste dae was sy trots op wie sy was en wat sy gedoen het.”

Mense bedank Louise steeds dat sy en haar ouers die weg vir IVB gebaan het.

“ ’n Mens kry trane in jou oë,” sê sy. “Aan die mans en vroue wat IVB deurmaak, sê ek: ‘Moet nooit hoop laat vaar nie.’ Vir die dokters sê ek: ‘Hou vol met die goeie werk.’ En vir almal wat IVB help ontwikkel het tot waar dit nou is, sê ek: ‘Namens die miljoene babas, dankie vir alles wat julle gedoen het.’ ”

Vordering met In vitro-bevrugting

In die vier dekades sedert Louise se geboorte het die getal babas wat ná IVB gebore is drasties toegeneem.

Die jongste statistieke toon sowat 8 miljoen babas wêreldwyd, maar dr. Gillian Lockwood, ’n konsultant by die Britse vrugbaarheidsentrum IVI Midland, meen dis “ ’n taamlik konserwatiewe syfer.

“Ons weet ’n groot hoeveelheid IVB vind in China en Indië plaas wat nie noodwendig aangemeld of aangeteken word nie,” sê sy.

In Suid-Afrika word sowat 3 000 IVB-babas jaarliks gebore, sê dr. Paul le Roux van die Cape Fertility Clinic.

Die prosedure behels dat ’n ontwikkelde eier van ’n vrou se eierstokke geoes word en dan in ’n laboratorium met ’n manlike spermsel bevrug word.

Die embrio word in die baarmoeder teruggesit om nog te ontwikkel. Die sukseskoers van IVB word dikwels op sowat 40% beraam, maar dit neem drasties af namate vroue ouer word.

“Ouderdom is ongenaakbaar wat vrugbaarheid betref, want eiers het ’n vervaldatum,” sê Tertia Albertyn, eienaar van Nurture, ’n Suid-Afrikaanse eierskenkingsprogram.

“Pasiënte ouer as 40 sukkel baie meer om swanger te raak.”

In Suid-Afrika wissel die prys van IVB tussen R52 000 en R63 000 en word dit gewoonlik in ’n privaat kliniek gedoen. Die prosedure word nie deur mediese fondse gedek nie en die meeste vroue moet die proses meer as een keer deurgaan, sê Paul.

IVB neem toe in Suid-Afrika, veral omdat vroue tot later wag om kinders te kry, voeg Paul by.

“Baie vroue verkies nou om hul eiers te vries as hulle nie ’n maat het nie om hul toekomstige vrugbaarheid te bewaar.”

Bronne: Time.com, USAtoday, Medic8.com, Thetimes.co.uk, The Independent, Daily Mail