Charl Smith Wayne Smith
Dis vandeesmaand al twee jaar sedert die sakeman Wayne Smith op 12 Junie 2019 spoorloos verdwyn het. Sy lewensmaat, Charl Smith (voor), glo hy is dood. Foto: Verskaf

Toe sy lewensmaat twee jaar gelede op ’n koel wintermiddag spoorloos verdwyn het, sou hy nooit kon raai dat daar ’n dag sou kom dat hy sou aanbeweeg nie. Veral nie sonder antwoorde nie . . . 

Maar vir hom was daar geen keuse nie – hy móés aanbeweeg, sê Charl Smith. Ja, selfs al was die gedagte aan ’n lewe sonder sy geliefde ook ondraaglik.

“Dis nie dat jy wíl aanbeweeg nie. Trouens, elke deel van jou menswees smeek jou om nie met die lewe aan te gaan nie . . . Maar omstandighede dwing jou om met die lewe aan te gaan. Jy besef gou die wêreld staan nie stil nie,” sê Charl Dinsdag aan Huisgenoot.

Verlede Saterdag – op 12 Junie – was dit twee jaar sedert Wayne Smith verdwyn het. Wayne was die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die Konferensiebedryf (Saaci) en bestuurder by ’n sakeonderneming in Johannesburg.

Charl Smith Wayne Smith
Charl (links) en Wayne in gelukkiger dae. Foto: Verskaf

Kollegas van hom het destyds vertel die sakeman het op daardie dag tydens middagete gou winkels toe gegaan – glo om ’n das te koop vir ’n troue wat hy en Charl die daaropvolgende naweek sou bywoon.

Maar Wayne het nooit teruggekeer werk toe nie. Sy selfoon is later tot in Tembisa nagespoor en sy silwer Renault Clio is ook later gevind.

“Daardie begindae het my amper gebreek,” onthou Charl vandag. “Dit was asof jy tussen niks en nêrens was nie. Daar is nogal soveel onsekerheid, maar ook die hoop dat hy sal terugkeer.” 

In die twee jaar sedert Wayne se verdwyning is daardie hoop verydel. Trouens, by Charl is daar geen twyfel dat Wayne op die dag van sy verdwyning vermoor is nie.

Charl Smith Wayne Smith
Al was dit vir hom byna ondraaglik om aan te beweeg, het hy geen ander keuse nie, sê Charl. Foto: Verskaf

“Ek wéét Wayne is nie meer saam met ons nie. Hoekom anders sou daar in twee jaar nog geen teken van hom gewees het nie? Dis bitter en dis swaar, maar ek móét aanvaar hy is dood – anders sal ek nooit kon aanbeweeg nie. Dis hoekom ek vir so lank na sy verdwyning ook gevoel het asof ek my eie lewe verloor het,” sê Charl.

Daar was ’n tyd toe daar vlugtig hoop was, onthou hy. Maar ook dit was van korte duur.

Dit was toe die Gautengse polisie in September 2019 minstens drie verdagtes vasgetrek het. Een is later vrygelaat, maar nog twee is vir langer as ’n jaar agter die tralies van die Johannesburg Sentrale gevangenis gehou.

Onlangs is nóg een van hierdie verdagtes vrygespreek, sê kapt. Mavela Masondo, ’n provinsiale polisiewoordvoerder in Gauteng. Die tweede man is tot agt jaar tronkstraf gevonnis vir die besit van ’n gesteelde voertuig – Wayne se Clio.

Charl Smith Wayne Smith
Só lyk Msizi Samuel Nkosi. Die polisie glo hy is ’n sleutelverdagte in Wayne se verdwyning, maar hulle soek al meer as ’n jaar na hom. Foto: Verskaf

Daar is nog hoop op geregtigheid: Die polisie soek steeds na Msizi Samuel Nkosi – ’n verdagte wat hulle glo meer lig op Wayne se verdwyning kan werp.

“Hy is ’n sleutelverdagte in die saak,” sê Masondo. 

Tog bring dít nie vrede nie, sê Charl. As Wayne werklik dood is, kan niks hom terugbring nie.

“Ek dink dis ’n baie gevaarlike ding om aan vals hoop vas te klou . . . Wanneer jy luister na die getuienisse en dit wat ons tot dusver weet, weet ek daar is geen manier dat hy leef nie. Daarom het ek vrede gemaak: Hy is dalk nie meer fisiek hier nie, maar hy lewe nog elke dag voort in my lewe en in my gedagtes.”

  • Lede van die publiek met inligting oor waar Nkosi homself bevind, word gevra om die misdaadnoodlyn te bel by 08600-10111.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe