“Dit gaan nou baie goed,” vertel Juanita (30) opgewonde oor klein Kaylin wat wonderbaarlik oorleef het nadat sy kort voor Kersfees in hul swembad in Middelburg, Mpumalanga, beland het.

“Die pypies is verwyder wat vir haar suurstof en voeding gegee het. Sy eet nou al op haar eie.”

Juanita en Siegfried (39) het ook nog ’n dogtertjie, Ashley (6).

“Kaylin lewe, en is vir ons teruggegee. Die pad na herstel is nog lank, maar ons sal dit maak met God aan ons sy,” vertel Juanita uit die Garden City-hopsitaal in Johannesburg waar klein Kaylin nou versorg word.

Sy het self vir die eerste keer sedert die ongeluk in die swembad weer regop gestaan.

“Sy fokus nog nie lekker nie, weens ontrekking van die sterk medikasie waarop sy was,” voeg Juanita by.

Dit het alles binne sekondes gebeur. Dit was laatmiddag op 23 Desember, vertel Siegfried ook oor die telefoon uit die hospitaal uit.

Die een oomblik het hulle nog by hulle huis in Middelburg, Mpumalanga, met ’n kegelbal – ’n vroeë Kersgeskenk vir Kaylin – gespeel.

“Sy het net vir ’n oomblik onder ons oë uit verdwyn,” onthou Juanita.

“Sy is ’n besige kind en speel graag op haar eie in die kamer,” voeg sy by. En daar is ’n omheining om die swembad.

Maar dis waar hulle eerste gaan kyk het en vir Kaylin gekry het waar sy bewusteloos op die oppervlak dryf. Hulle weet steeds nie hoe sy deur die hekkie ingekom het nie.

Nie een van die ouers is doodseker oor presies hoe laat dit was nie. Vermoedelik tussen vier en vyf, meen Siegfried.

Hulle het met haar na die hospitaal op Middelburg gejaag, waar ’n dokter en verpleegster verklaar het: “Ons kry niks. Sy is dood.”

Hulle was verpletter.

Siegfried en Juanita het egter besluit om aan te hou bid en die dokters het aangehou om haar hartjie weer aan die gang te probeer kry.

“My man was heeltyd in en uit die waakeenheid,” vertel sy.

Siegfried en Juanita Dedekind. Foto: Facebook
Siegfried en Juanita Dedekind. Foto: Facebook

“Toe ek eindelik daardie hartkloppie op die masjien se skerm sien, was dit asof my hele lewe verander het,” sê Siegfried.

“Ek was nog altyd ’n Christen en het geglo. Daardie aand het ek my lewe aan die Here oorgegee vir die lewe van my kind. Ek is nou ’n nuutgebore Christen.

“Ek is nou rustig en glo sy sal heeltemal herstel,” voeg hy by. “Daar is ’n groter plan.”

Nadat hulle Kaylin se hart aan die klop gekry het, het hulle haar dadelik per helikopter na die hospitaal in Johannesburg vervoer, waar die vriesmetode toegepas is om enige moontlike breinskade te voorkom.

Die brein word verkoel en dan word die ligaamstemperatuur stelselmatig gelig.

Woensdagaand is hierdie behandeling gestaak en het sy haar ogies oopgemaak. Sy is steeds in die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal.

Al wat Juanita en Siegfried vra: “Hou aan met bid vir haar.”

Sy word Dinsdag drie.