Michael Handley en sy vervreemde vrou, Schanda. Fo
Lawrence Michael Handley en sy vervreemde vrou, Schanda. Foto: Facebook/MichaelHandley

Lawrence Michael Handley het op Dinsdag 4 Augustus as deel van 'n pleitooreenkoms skuld beken op twee aanklagte van tweedegraadse ontvoering en een aanklag van poging tot tweedegraadse ontvoering.

Dit kan daartoe lei dat die 53-jarige Handley tronkstraf van tussen 15 en 35 jaar opgelê kan word.

En dit alles oor die dwase plan wat slim sy baas laat vang het . . .

Die gesondheidsorgmagnaat het probeer om sy vervreemde vrou te laat ontvoer om haar terug te wen en opnuut op hom verlief te maak. Maar die plan het so lelik skeefgeloop dat albei die ontvoerders dood is.

Die vervreemde paartjie se liefdesbootjie het toe finaal op die rotse geloop. Handley se vrou het van hom geskei en haar hoop uitgespreek dat hy vir die maksimum aantal jare tronk toe gestuur word.

In 2017 het Handley twee mans – Sylvester Bracey en Arsenio Haynes – gehuur om by sy vervreemde vrou, Schanda (50), se huis in Louisiana in te breek, ’n sak oor haar kop te trek, haar hande vas te bind en haar agter in ’n bussie te gooi. 

Die twee moes haar daarna na ’n eiendom in Mississippi neem waar Handley sou opdaag as die ridder op die wit perd en Schanda te hulp snel. Die doel was om haar weer verlief op hom te maak sodat hulle weer gelukkig saam kon wees.

Die bisarre plan het toe ’n dodelike wending geneem toe die polisie Sylvester en Arsenio agternasit nadat hulle Schanda ontvoer het.

Die ontvoerders het die bussie langs 'n besige pad tot stilstand gebring en in ’n kanaal gespring om die polisie te ontduik. 

Die polisie het Schanda agter in die bussie gekry, maar Sylvester en Arsenio (albei 27) het verdrink. Hul lyke is ure later uit die kanaal gehaal. Die polisie het ’n vuurwapen, waarskynlik die twee ontvoerders s'n, in ’n pyp naby die kanaal gevind. 

'n Video waarop Handley die ontvoering beplan, het sy rol as meesterbrein van die mislukte komplot ontbloot en hy is dae later by ’n motel opgespoor en in hegtenis geneem. 

Kevin Stockstill, Handley se prokureur, sê sy kliënt was onder die invloed van dwelms toe hy die ontvoering beplan het. Kevin het ook aan die einde van Julie aan die Washington Post sy verligting uitgespreek dat niemand anders tydens die voorval beseer is nie, behalwe die twee mans wat die ontvoering uitgevoer en verdrink het. Hy het dit destyds ook as een van die mees bisarre sake beskryf waarmee hy nog ooit te doene gekry het.

Schanda is uiters ontevrede oor haar eks se pleitooreenkoms.

“My hoop is dat hy tot 35 jaar tronkstraf gevonnis sal word. Ek dink my lewe, my vryheid, sal tot 'n einde kom wanneer hy uit die tronk stap.”

Bronne: MSN, Washington Post, Insider, USAToday

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe