'Ek sal nooit die reuk wat in die lug gehang het,
'Ek sal nooit die reuk wat in die lug gehang het, vergeet nie, die reuk van rubber en petrol,' sê Irhelma Pieterse. Foto: Getty Images/Gallo Images

Dit was die dag wat ’n geskokte wêreld nooit sal vergeet nie: 11 September 2001, toe die terreurgroep Al-Kaïda gekaapte passasiersvliegtuie soos missiele vol mense teen Amerika se grootste magsimbole vasgeslinger het.

Vandag, presies 20 jaar ná “911”, is die verskriklike tonele steeds helder in die mensdom se kollektiewe geheue: Die vliegtuie wat laag oor Manhattan skeur en in reusevuurbolle in die twee torings van die World Trade Center vasvlieg; die onheilspellende swart rookpilare; loeiende sirenes; vlugtende New Yorkers bedek met grys as, en die desperates wat hulself van ’n duiselingwekkende hoogte uit die geboue se vensters werp om van die vlamme weg te kom . . . 

Met afgryse het jy op jou televisieskerm gesien hoe mense uit die lug reën. Toe syg die twee ikoniese torings neer en begrawe kantoorwerkers, brandweermanne en polisielede onder die rommel. 

In Washington, DC, is nog ’n gekaapte vliegtuig vasgevlieg teen die Pentagon, die hoofkwartier van die Amerikaanse weermag. En bo die platteland van Pennsilvanië het doodsveragtende passasiers die gewapende kapers bestorm en só verseker dat ’n ander gekaapte vliegtuig neerstort voor dit die Withuis of Amerikaanse kongresgebou kon verwoes.  

Die ongevallesyfer: sowat 3 000 dood – waaronder die 19 kapers – en 6 000 beseer. Maar dit was net die begin van die bloedbad. 

Uit die puin het die internasionale oorlog teen terreur verrys, wat volgens ’n nuwe verslag deur Amerika se Brown-universiteit al minstens 920 000 lewens geneem het in Afghanistan, Irak, Pakistan en Jemen. En dis nog lank nie verby nie, soos die onlangse chaotiese onttrekking van Amerika uit Afghanistan bewys. 

Vandag besin die wêreld opnuut oor wat 911 alles beteken het – en ook die Suid-Afrikaners wat daardie dag in New York en Washington was. Hulle deel hul ervarings en herinnerings met Huisgenoot

Irhelma en Kobie Pieterse, New York 

Irhelma en Kobie Pieterse. Foto: Verskaf
Irhelma en Kobie Pieterse. Foto: Verskaf

Dit was angswekkend, ja. Maar die vlam van solidariteit en nasiegees wat die terreuraanvalle in Amerika aangesteek het, het die egpaar begeester om Amerikaners te word. Irhelma en Kobie het destyds in New York gewerk.

“Ons het eers in 2008 ons blou paspoorte gekry, maar daardie Dinsdag in September en die dae daarna het ons Amerikaners in ons harte gemaak.

”Kobie en ’n vriend wat by die World Trade Centre (WTC) gewerk het, het daardie oggend voor werk in Central Park gaan rolskaats.

“Ons het ’n paar keer om die park geskaats toe my vriend sê ons moet nog een keer omgaan, hy sal sy vergadering aanskuif. Dit het waarskynlik sy lewe gered,” vertel Kobie. 

Kobie is terug woonstel toe om aan te trek vir sy kantoor, sowat 15 straatblokke van die WTC, en het toe die moltrein gehaal. Irhelma het intussen gaan inkopies doen.

Toe sy weer by hul woonstelgebou instap, sê ’n man vir haar ’n vliegtuig het pas in die WTC vasgevlieg. 

“Ek het gedink hy grap. Ek het die televisie aangesit en gesien hoe die rook uit die torings borrel.” 

Toe Kobie uit die moltreinstasie kom en opkyk, sien hy die twee brandende torings.

“Ek is van daar af na my kantoor, en toe val die eerste toring. Ek het dit met my eie oë gesien. Dit was die vreemdste ding, asof dit in slow motion gebeur.” 

Dit was een van die ergste terreuraanvalle in mens
Dit was een van die ergste terreuraanvalle in menseheugenis. Meer as 3 000 mense is dood. Foto: Getty Images/Gallo Images

Kobie is terug na die woonstel waar hy en Irhelma die gebeure op televisie gevolg het.

“Ek sal nooit die reuk wat in die lug gehang het vergeet nie. Daar was die reuk van rubber en petrol. Al word ek ’n 100 jaar oud, sal ek steeds daardie reuk onthou,” sê Irhelma. 

Die polsende stad was onheilspellend stil.

“Dit was soos ’n covid-lockdown. Die strate was doodstil. Jy’t net nou en dan ’n sirene gehoor of vegvliegtuie wat oor die stad vlieg.”

Wat hulle bybly, is watter perfekte, wolklose herfsdag dit was – tot die swart rook die son verbloem het. 

Vandag is die paartjie “baie trots Amerikaans, al is ons wortels vir altyd in die suidpunt van Afrika”. 

Riva Da Silva, New York 

Riva Da Silva. Foto: Verskaf
Riva Da Silva. Foto: Verskaf

Hy het op die grondvloer van die Amerikaanse aandelemark, ’n klipgooi van die WTC af, sit en werk toe die hel losbars. Buite is hy deur onbeskryflike chaos begroet. Loeiende sirenes, mense wat blindelings hardloop – en die straat besaai met ledemate. Vingers, hande, bene . . . 

Polisiebeamptes en brandweermanne het wit lakens oor die ledemate gegooi terwyl vegvliegtuie laag oor hulle vlieg.

Riva het nog buite in die straat gestaan toe hy sien hoe die tweede passasiersvliegtuig in die WTC vasvlieg. 

Die gebeure het hom ’n nuwe perspektief op die lewe gegee.

“Dit het my laat besef dat jy een oomblik hier kan wees en die volgende oomblik nie. “Ek het ná die aanvalle die kleiner dinge in die lewe begin waardeer en die lewe self waardeer vir die gawe wat dit is.”

Jonathan Kantor, New York 

Jonathan Kantor. Foto: Verskaf
Jonathan Kantor. Foto: Verskaf

Hy het dalk sy lewe te danke aan die feit dat hy daardie dag verslaap het.

Jonathan het destyds aan die Joodse universiteit Ohr Somayach Monsey gestudeer.

“Ons sou die oggend ’n toer van die torings gedoen het . . . Ek moes in daardie torings gewees het. Dankie tog ek was nie.”

Pleks daarvan het hy in die universiteit se studielokaal saam met huilende medestudente die drama op televisie gevolg. 

11 September 2001 is ’n dag wat ’n geskokte wêreld
11 September 2001 is ’n dag wat ’n geskokte wêreld nooit sal vergeet nie. Foto: Getty Images/Gallo Images

“Ek onthou ons het nog gesien hoe die noordelike toring brand, en daarna hoe die vliegtuig in die tweede toring vasvlieg. Mense het uit ongeloof gegil. Dit was angswekkend.”

Jonathan het deeltyds ook les gegee aan ’n klas met die bynaam “Twin Towers”, omdat die meeste van die kinders se ouers by die WTC gewerk het.

Hy het na die kinders se huise gehardloop om te hoor of hul ouers iets oorgekom het.

Genadiglik was nie een van die ouers in die geboue tydens die aanvalle nie. 

“Ek dink wat my altyd sal bybly, is die sirenes . . . al die mense wat gebid het en die swart wolk oor die hele stad. Dit sal altyd die mees traumatiese oomblik van my lewe wees.” 

Tog was daar ook ’n lewensles. “Haat veroorsaak net pyn. Ek het besef ek kan nie sonder my familie nie. Ek is kort daarna terug Suid-Afrika toe om by my familie te wees.”

Daniel Ngwepe, Washington, DC

Daniel Ngwepe. Foto: Verskaf
Daniel Ngwepe. Foto: Verskaf

Dit was omstreeks 09:30 Amerikaanse tyd toe dié senior diplomaat se sekretaresse sy kantoor in die Suid-Afrikaanse ambassade binnestorm: “Sit aan die TV, sit aan die TV!”

Die tonele uit New York was verbysterend. Toe hy na die hoogste punt van die ambassade gaan, sien hy die rook van die brandende Pentagon-gebou – net 10 minute per motor weg aan die anderkant van die Potomac-rivier.

En toe begin die telefone onophoudelik lui.

“Suid-Afrikaners het histeries gebel om te hoor of hul geliefdes veilig was. Een vroutjie het gebel om te vra of haar kind veilig is, al was hy in Arizona. Mense was paniekbevange.” 

Kort daarna was die telefone dood en is die ambassade-personeel aangesê om huis toe te gaan.

“Dit was chaos op die paaie. Mense was histeries. Daar was orals padblokkades.”

Daniel sê hy sal die paranoia en angs van die Amerikaners nooit vergeet nie. 

“Die mense het in vrees gelewe. Almal het gedink Amerika is veilig en dat so iets nooit met hulle sal gebeur nie. Ek sal nooit die vrees in almal se oë vergeet nie. Dit sal my altyd bybly.” 

Die wreedheid van die aanvalle het hom aangespoor om verdraagsamer teenoor ander mense en hulle standpunte te wees.

“Geen mate van politieke, godsdienstige of ideologiese verskille regverdig hierdie soort optrede teenoor jou medemens nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe