Die 21-jarige Kelvin is een van Baberton in Mpumalanga se belowendste deelnemers aan dié sportsoort.

Sy pa, Douglas van Baalen, sê aan Huisgenoot sy seun het bloot nie die kragkabels gesien toe hy op 29 Junie naby sy tuisdorp besig was om te land nie.

Kelvin was nie te ver van die grond af nie toe sy valskerm aan die kragkabels haak en vlam vat. Die vonke het veroorsaak dat die droë gras op die grond aan die brand slaan, wat daartoe gelei het dat Kelvin se klere begin brand het toe hy die grond tref. 

Kelvin het geland naby waar die Babertonse Valskermsweef- Ope Byeenkoms plaasgevind het. Hy het daaraan deelgeneem.

’n Werknemer van ER24 het aan die gemeenskapskoerant die Laevelder gesê al die klere is van sy lyf afgebrand. Hy was glo nog by sy bewussyn toe paramedici hom te hulp gesnel het. 

“Die pasiënt het ernstige brandwonde opgedoen," sê Russel Meiring, ER24-woordvoerder in ’n verklaring. "Hy is daarna na ’n lughawe geneem en toe per helikopter na die Netcare Milpark-hospitaal.” 

Douglas sê sy seun byt nog vas ten spyte van sy ernstige beserings.

“Hy gaan vandag (Maandag) vir sy derde operasie wanneer hulle sy brandwonde moet skoonmaak. Ons bid nou net,” sê Douglas. 

Douglas wou nie uitwei oor die erns en omvang van die brandwonde aan sy seun se lyf nie.