Nou het die student in argitektuur van Jacksonville in Amerika foto’s gedeel waarop sy bostukloos en met net jeans en ’n denimbaadjie aan poseer op die sosiale media gedeel om te wys sy het “kanker oorwin”. 

Sy het in 2014 klein knoppe in haar regterbors gevoel en in Mei 2016 is fase 3-borskanker eindelik by haar gediagnoseer.  

Ná maande van chemoterapie het sy ’n jaar gelede ’n mastektomie ondergaan en ná nog rondes radioterapie is die bors herskep. 

“Ek het in Junie 2016 met behandeling begin en ses rondes chemoterapie in ses maande gehad. Ek het elke drie weke hospitaal toe gegaan. Ek moes terug huis toe trek en universiteit laat vaar.” 

Jessica sê sy het ’n verskeidenheid simptome ervaar wat haar baie siek laat voel het.  

“Om kanker te hê, is ’n las. Daar is altyd doktersafsprake om na te kom en jy is bang jy raak dalk nie die volgende dag wakker nie.

“Dit is ’n wonderlike gevoel om te weet dit is nie meer in my nie.”

Jessica sê toe sy hoor sy is skoon, het dit haar laat voel sy het kanker “oorwin”. 

“Ek was die jongste in die behandelingsentrum en het altyd met rooi lipstiffie en hakskoene vir my behandeling gegaan. 

“Ek het my vir elke behandeling opgetof. Ek het probeer positief bly.”

Jessica sê nadat sy die mastektomie ondergaan het, het sy eers minder vroulik gevoel.  

“Wanneer jy na jouself kyk, voel jy wat jou ’n vrou maak, is jou hare en borste. Esteties voel jy nie normaal nie, jy voel gestrem.

“Maar ek het nou ’n ander uitkyk en dit is danksy die steun wat ek gehad het. My borste gaan my nie definieer nie. Ek definieer myself as ’n vrou.” 

Al het haar onlangse fotosessie die sosiale media laat gons, sê Jessica sê haar eerste “regte” fotosessie was saam met haar goeie vriendin Carissa Glanton in Februarie nadat sy met radioterapie klaargemaak het.  

“Carissa was die eerste mens aan wie ek my ontbloot het en my storie vertel het. Mense het geweet ek het kanker, maar nie geweet wat ek deurmaak nie.”

Die bostuklose fotosessie saam met haar vriend en fotograaf Nehemiah Nash het eers plaasgevind nadat sy gehoor het sy is skoon. 

“Hy het ’n hele visie daarvoor gehad, wat ’n pienk agtergrond behels het en dat ek ’n T-hemp dra, maar ek het gesê ek dink ek het ’n ander idee.

“Ek wou my visie deel van wat ek gedink het borskanker is. Ek wou vir mense wys jy kan deur die pyn glimlag. 

“Dit was ek wat borskanker verduidelik het en daarom is ek dol oor die fotosessie. Dit was so eg en rou.”

Jessica sê sy hoop haar fotosessie sal ander aanmoedig om nooit op te gee nie. 

“Mense het vir my gesê ek sou nie aan die einde van 2017 hier gewees het nie oor hoe sporadies die kanker was en hoe jonk ek was.”

Sy sê die reaksie op haar fotosessie was wonderlik. 

“Daar was so baie liefde en steun van beide mans en vroue.

“Ek het net ’n piepklein persentasie negatiewe terugvoer gehad, insluitend ’n ou wat gesê het borste is nie borste sonder tepels nie. Maar dit is niks vergeleke met die 99 persent van mense wat steun getoon het nie. 

“Almal is bang om te wys hoe hulle lyk. Ek hoop deur dit te doen, sal dit iemand anders op die lange duur help.”