25 jaar later: HG onthou die Bokke se ikoniese Wêreldbeker-oorwinning teen die All Blacks

akkreditasie
Die herinneringe aan die Springbok-rugbyspan se triomf in die 2019 Wêreldbeker-eindstryd is dalk nog baie vars in ons almal se geheue.

Die wen was die Bokke se derde oorwinning in die toernooi.

Op 24 Junie 1995 het die Springbok-rugbyspan hul eerste smakie Wêreldbeker-glorie geproe toe hulle die Nieu-Seelandse All Blacks met 15-12 geklop het op Ellis Park in Johannesburg. 

Ons kyk 25 jaar later na die toernooi en wat dit vir Suid-Afrika beteken het

Die finaal

Daar was vele oomblikke tydens die finaal wat aanhangers laat regop sit het. 

Net voor afskop is die skare op Ellis Park verstom toe ’n Boeing 747 van die Suid-Afrikaanse lugdiens bo-oor die stadion gevlieg het. Aan die onderkant van die vliegtuig was die woorde “GOOD LUCK BOKKE” gedruk.

Dit het die skare net nog meer begeester nadat president Nelson Mandela voor die wedstryd onder luide toejuiging die spelers van albei spanne op die veld gaan groet het. 

Die wedstryd self was ’n intensiewe stryd. Nadat die telling aan die einde van die tweede helfte op 9 elk gestaan het, is daar na ekstra tyd beweeg. 

Die All Black-losskakel Andrew Mehrtens en sy Bok-eweknie Joel Stransky het elk nog ’n strafdoel aangeteken om die telling 12-12 te maak. Sewe minute voor die eindfluitjie het Joel ’n skepskop oor die pale geklits om die oorwinning aan die Springbokke te besorg.

Mandela, geklee in ’n Boktrui met kaptein Francois Pienaar se nommer 6 agterop, het met trots die William Webb Ellis-beker aan Francois oorhandig. 

wêreldbekertoernooi,nelson mandela,francois pienaa
Die ikoniese oomblik in 1995 toe oudpres. Nelson Mandela die beker aan die Springbokke se kaptein, Francois Pienaar, oorhandig nadat hulle die Kiwi’s in die eindstryd 15-12 geklop het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Na die wedstryd het die All Blacks bespiegel dat hul spelers las gehad het van voedselvergiftiging wat met opset deur ’n kelnerin by hul hotel veroorsaak is. 

Die stadions

Die 1995-toernooi was die eerste toernooi wat deur een land op sy eie aangebied is. Die vorige toernooie is gesamentlik aangebied deur onderskeidelik deur Nieu-Seeland en Australië (1987), en Engeland, Skotland, Wallis, Ierland en Frankryk (1991). 

12 stadions is gekies om wedstryde aan te bied. Van hierdie was Ellis Park in Johannesurg die grootste, met sitplek vir 60 000 toeskouers en was die gasheer vir die geskiedkundige finaal. 

Die openingswedstryd tussen die Bokke en Australië, die verdedigende kampioene, is op Nuweland in Kaapstad gespeel.

Die openingswedstryd van die 1995-toernooi is op N
Die openingswedstryd van die 1995-toernooi is op Nuweland in Kaapstad gespeel. Foto: Getty Images/Gallo Images
Die openingswedstryd van die 1995-toernooi is op N
Die openingswedstryd van die 1995-toernooi is op Nuweland in Kaapstad gespeel. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die WP-rugbyunie het vroeër vanjaar aangekondig dat die ikoniese stadion in 2021 gesloop gaan word.   

Die kleinste was die Universiteit Stellenbosch se Danie Craven-stadion, met net sowat 16 000 sitplekke. 

Die Bokke se semifinaal-wedstryd teen Frankryk is op Durban se King’s Park-stadion beslis, en dit was so amper of die droom van ’n sege op eie bodem was verlore vir die Bok-span. Op die dag van die wedstryd het die reën behoorlik neergestort in die kusstad en die Franse wou met alle mag hê dat die wedstryd afgelas moes word. 

Sou dit gebeur het, was dit die Franse wat deur sou dring na die finaal omdat hul dissiplinêre rekord tydens die toernooie beter was as die Bokke, wat twee geskorste spelers gehad het.

Na ’n laat afskop is die wedstryd op ’n sopnat speelveld voltooi en die Bokke het hul pad na die finaal oopgespeel. 

Die spelers wat al oorlede is

Van die 21 spelers wat daardie dag saam met hul afrigter, Kitch Christie, aangetree het vir die wedstryd, is vier in onlangse jare oorlede. 

Die flank Ruben Kruger is in 2010 oorlede na ’n lang stryd met breinkanker en skrumskakel Joost van der Westhuizen het in 2017 sy stryd teen motorneuronsiekte verloor.

 Ruben Kruger. Foto: Verskaf
Ruben Kruger. Foto: Verskaf
Joost in aksie vir die Bokke teen Skotland, 14 Jun
Joost in aksie vir die Bokke teen Skotland, 14 Junie 2003, op Ellispark. Foto: Gallo Images/Getty Images

In 2019 is die vleuels James Small en Chester Williams albei aan ’n hartaanval dood, twee maande uitmekaar.

Francois Pienaar wens James geluk met een van sy 20 internasionale drieë. Foto: Gallo Images
Chester in 2000 in aksie op die veld saam met die
Chester in 2000 in aksie op die veld saam met die gevreesde Kiwi Jonah Lomu. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Ook Kitch is reeds in 1998 oorlede.

Kitch Christie.
Kitch Christie.

Die lewe ná 1995

Francois Pienaar het in 2009 Advent Sport Entertainment and Media gestig en die maatskappy is aan die stuur van die suksesvolle Varsity Sports-handelsmerk. Hy en Mandela het ’n goeie verhouding ontwikkel en die ontslape president was selfs sy oudste seun, Jean, se peetpa. 

Os du Randt het in 2007 die eerste Suid-Afrikaner geword wat ’n tweede keer die Webb Ellis-trofee verower het as lid van die span wat daardie jaar die eindstryd in Parys, Frankryk, gewen het. Hy is een van net 21 tweemalige wenners, waaronder die agterspeler Francois Steyn, wat dit in 2007 en 2019 reggekry het. 

Os du Randt. Foto: Getty Images/Gallo Images
Os du Randt. Foto: Getty Images/Gallo Images

Joel Stransky en Kobus Wiese het hulself as kommentators gevestig en doen gereeld diens vir SuperSport. 

Verskeie spelers het na aftrede die oorgang van speler na breier gemaak. 

Rudolf Straeuli was van 2002 tot 2003 die hoofafrigter van die Bokke, terwyl Brendan Venter naam gemaak het as afrigter van die Engelse klubrugby-span Saracens. Hy was ook al die verdedigingsafrigter vir die Suid-Afrikaanse en Italiaanse nasionale spanne.

 
Rudolf Straeuli. Foto: Getty Images/Gallo Images
Rudolf Straeuli. Foto: Getty Images/Gallo Images
Brendan Venter. Foto: Getty Images/Gallo Images
Brendan Venter. Foto: Getty Images/Gallo Images

Naka Drotské, ’n plaasvervanger in 1995 nes Straeuli en Venter, was van 2007 tot 2015 die hoofafrigter van die Vrystaatse Cheetahs.

Naka Drotské en Os du Randt
Naka Drotské en Os du Randt. Foto: Facebook

Die fliek 

Die Britse joernalis John Carlin het in 2008 die verhaal van hoe die 1995-finaal die land verenig het vasgevang in sy boek getiteld Playing the Enemy: Nelson Mandela and the Game that Made a Nation.

Die boek is in 2009 omskep in die fliek Invictus

Akteurs uit Hollywood en plaaslikes het in die skoene van die Suid-Afrikaanse rugbyhelde geklim in die fliek onder regie van Clint Eastwood.

Dit sluit in Matt Damon as Francois Pienaar, Scott Eastwood as Joel Stransky, en Morgan Freeman as oud-president Nelson Mandela. Die oud-vleuel Chester Williams het as tegniese raadgewer vir die fliek opgetree. 

  • Die volle wedstryd kan op Wêreldrugby se YouTube-kanaal gekyk word. 

Bronne: rugbyworldcup.com, The Guardian, News24, rugby365.com, Sport24

Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees