Christo van der Rheede, adjunkhoof van Agri SA, het Vrydag sy medelye teenoor die familie van Andries le Roux (38) uitgespreek.

Andries, ’n bekroonde angorabokteler op Matjiesfontein, het homself Donderdag doodgeskiet weens die droogte in die gebied.

Die pa van drie jong kinders laat sy vrou, Estie, agter op sy plaas, Fortuin. “Hy kon nie langer sien hoe sy diere moes ly nie,” sê Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers, wat boere in nood bystaan. Hulle vervoer onder meer geborgde voer na die geaffekteerde plase.

Imitiaz sê aan Huisgenoot hy is erg omgekrap oor die situasie wat boere ervaar. “Ek het nooit geweet dinge is so erg nie.”

Hy sê Andries is die tweede boer wat sy eie lewe die afgelope drie weke geneem het weens die droogte en ander probleme wat boere in die land ervaar.

“Nog ’n boer het daaroor gepraat dat hy homself gaan doodmaak. Gelukkig kon hulle hom oorreed om dit nie te doen nie.”
Imtiaz sê die droogte laat ’n “emosionele en sielkundige wond by die boere en hul families”.

“Hulle verloor hul diere. Hulle verloor hul inkomste.”

Maar die probleem kan gepak word, sê Imtiaz. “Ons kort byvoorbeeld nog tenkwaens om water te vervoer na die erg geaffekteerde gebiede.

“Dié is ’n krisis en die nasionale regering sal meer moet doen. Die boere is desperaat en hulle sukkel,” sê Imtiaz.

Christo sê die boere in die Noord-Kaap se skuldlas hoop al die afgelope vier jaar op weens die droogte wat die gebied teister.

“Die regering gee blykbaar nie om oor die boere se situasie nie. Ek het gedink hulle sou al teen dié tyd met ’n hulppakket vorendag gekom het.”

Hy sê kommersiële boere verskaf werk aan sowat 900 000 mense. “En as hierdie sektor in duie stort, gaan dit lei tot massiewe hongersnood en werkloosheid.”

Die regering moet sy oë oopmaak en die boere help, sê Christo. “Anders gaan ons ál meer boere verloor.”

Huisgenoot het die departement van landbou, bosbou en visserye om kommentaar genader, maar het nog nie ’n reaksie ontvang nie.