’n Vaaldriehoekse hokkiespeler en -afrigter, Brandon Moolman (24), het sy oorfone in sy ore toe ons met hom gesels.

As ’n mens nie van beter geweet het nie, sou jy nooit kon raai dat hy ná sy fratsongeluk verlede jaar nie eens meer ’n knoppie op sy selfoon kan druk en na sy oor toe bring om, soos voorheen, sonder moeite te kan gesels nie.

“Dit gaan baie goed, dankie,” sê Brandon aan Huisgenoot met sy eerste week terug by die huis.

Hy was ná die ongeluk altesaam 174 dae in die hospitaal, en is pas uit die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Aucklandpark.

Brandon terug by die huis. Foto: Facebook
Brandon terug by die huis. Foto: Facebook

“Ek het daarna uitgesien om huis toe te kom. Ons het eers gaan soesji eet, en natuurlik was ek ook baie lus vir ’n alkoholiese verversing,” spot hy.

Ek moes my lyf van voor af leer ken, en oor myself 'mentally'. Ek moes weer leer hoe om te eet sonder die gebruik van my vingers en oor die impak van my beserings.

Maar hy benadruk hy kan geensins meer drink soos voor die ongeluk nie. 

Brandon het nou halfdag ’n versorger terwyl sy ma, Tania, by die werk is. Hy vertel sy omstandighede is nes dié van die akteur, Erik Holm, wat ook ná ’n fratsongeluk verlam gelaat is nadat hy in ’n te vlak dam geduik het.

Erik is vir hom ’n inspirasie omdat hy self as kwadrupleeg so ver moontlik onafhanklik probeer wees.

“Ek het die afgelope drie maande en drie weke baie oor myself en my lyf geleer,” vertel Brandon oor sy tyd in rehabilitasie.

Brandon se tuiskoms word gevier. Foto: Facebook
Brandon se tuiskoms word gevier. Foto: Facebook

“Ek moes my lyf van voor af leer ken, en oor myself mentally. Ek moes weer leer hoe om te eet sonder die gebruik van my vingers en oor die impak van my beserings. Ek het net 15% van die gebruik van my liggaam oor. Ek kan spiere in my nek, my skouers, agter in my vlerkies en my boarmspiere beweeg,” vertel hy.

Huisgenoot het vroeër berig Brandon is in ’n fratsongeluk beseer. Hy en ’n groep vriende het, nadat die inperkingregulasies weens covid-19 in daardie stadium verslap is, daarna uitgesien om vir die naweek by ’n rivieroord naby Bothaville te gaan uitspan.

Nadat hulle die betrokke dag van Saterdag 8 Augustus boot gery het, wou hulle teen sononder op ’n brug hier ’n foto neem. Vir die pret het Brandon, wat steeds sy reddingsbaadjie aangehad het, van die sowat 23 m hoë brug in die rivier gespring.

Brandon Moolman is ernstig beseer nadat hy sy nek
Brandon Moolman is ernstig beseer nadat hy sy nek in 'n fratsongeluk gebreek het. Foto: Verskaf

Hy het egter sy nek gebreek en moes later hoor hy is verlam.

’n Mens sou dink dié lot sou genoeg wees om enige mens, veral iemand soos Brandon, wat sy lewe lank vir sport gelewe het, te knak.

Brandon, wat altyd met die nommer 6 op sy trui vir sy skool se eerstespan uitgedraf en ook vir die Suid-Afrikaanse Bokkiespan (die junior SA skolespan), gespeel het, was ten tyde van die ongeluk ook afrigter by sy alma mater, die Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark.

Vir nou wil ek net eers weer leer hoe om self ’n deur oop te maak.

“Die eerste twee weke ná my ongeluk was vir my ’n struggle,” erken hy. “Ek was ’n ongelooflike groot hokkiespeler . . . Dit was moeilik om te dink ek sal nooit weer op die veld draf nie. Maar ek het daar in die hospitaal besef dit gaan my nie help om daaroor vrae te vra nie. Ek het ’n tweede kans op lewe gekry.”

Die pad vorentoe

Brandon het net drie weke voor die ongeluk gehoor hy het sy B.Com-graad in ekonomie en internasionale handel aan die Noordwes-universiteit geslaag. Benewens hokkieafrigting het ’n blink loopbaan vir hom in die finansiële internasionale handelsbedryf gewag.

BRANDON IS HOME!!! It’s been a long and hard 174 days, but it’s paid off! Brandon is in such a good space in his life,...

Posted by WBF 06 on Friday, January 29, 2021

Maar wanneer Brandon gesels, is dit gou duidelik hy praat nie te ver in die toekoms nie, maar oor die nóú.

Brandon en sy geliefde kat, Whitey. Foto: Verskaf
Brandon en sy geliefde kat, Whitey. Foto: Verskaf
Brandon kry sy eerste haarsny nadat hy ontslaan is
Brandon kry sy eerste haarsny nadat hy ontslaan is. Foto: Verskaf

“Ek het groot doelwitte vir myself gehad, ja, maar ek wil vir eers nie te ver vooruit beplan nie. Dit is een van my doelwitte om eendag by skole te gaan praat, maar vir nou wil ek net eers weer leer hoe om self ’n deur oop te maak. Ek het geleer om klein goedjies te waardeer. Wanneer ek byvoorbeeld musiek luister, luister ek nie net meer soos voorheen nie, ek luister na die lirieke.”

Brandon Moolman saam met die terapeute by die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Aucklandpark. Foto: Verskaf
Brandon Moolman saam met die terapeute by die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Aucklandpark. Foto: Verskaf
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Brandon gaan voortaan steeds fisio- en arbeidsterapie ontvang.

Hy vertel hy is baie dankbaar vir sy familie en vriende vir al hul ondersteuning, maar veral vir die personeel van die Netcare-rehabilitasiehospitaal. Dit was hulle wat hom moes help voorberei vir die lewe tuis.

"Hulle het eers vriende en toe familie geword. Mense praat maklik met my en ek met hulle. Ek glo ek kon hulle ook aanraak. Maar ek dink nie naastenby so ’n groot impak soos wat hulle op my gehad het nie.”