Kol. Thembeka Mbhele het aan News24 gesê ’n besoedelingsbeampte van Transnet het Maandagoggend om 10:00 op Njabulo Mankayi se liggaam afgekom.

“Lede van die Durban soek-en-reddingseenheid en die K9 soek-en-reddingseenheid is na Langebaanweg, Bayhead, ontbied om Njabulo Mankayi se ontbinde liggaam uit die Grunter Gullykanaal te kry,” het sy gesê.

“Die liggaam het in die kanaal gedryf. Die werker het die polisie ontbied. Sy familie het gekom en die liggaam geïdentifiseer,” het Mbhele gesê.

Mbhele het gesê Mankayi het geen sigbare beserings gehad nie, maar dat “die lykskouing die oorsaak van die dood sou bepaal”.

Sy het gesê polisie-ondersoeke het hulle Sondag na die kanaal gelei, maar hulle kon nie Mankayi se liggaam vind nie omdat die kanaal oorstroom was.

Mankayi se vriend, Luyanda Msomi (10), is Saterdag in ’n bos in Montclair, Durban gevind. 

Msomi en Mankayi, albei gr.3-leerders by die Laer Seunskool Clairwood, is laas op Dinsdag gesien toe hulle ’n bus huis toe gehaal het. 

Twee vroue is vir ontvoering en moord in hegtenis geneem.

“Die verdagtes sal nou van twee aanklagte van ontvoering en twee van moord aangekla word. Hulle sal binnekort in die hof verskyn,” het Mbhele gesê.
Volgens berigte was een van die vroue bekend aan die seuns. 

Bron: News24