Drie mense is in hegtenis geneem – twee by die Saxonwold-huis en een elders in Johannesburg.

Die klopjag hou verband met die ondersoek oor staatskaping waarby die Gupta-familie en verskeie hooggeplaastes in die Suid-Afrikaanse regering betrokke is. Die familie word gereeld verbind met Jacob Zuma, wat Dinsdag deur die ANC as president herroep is.

"Ons kan bevestig dat ons lede tans besig is met 'n operasie in Saxonwold waar die Gupta-familie woon. Vanweë die sensitiewe aard van die operasie sal ons in hierdie stadium nie meer inligting bekend maak nie," het Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, gesê.

Luidens berigte is een van die Gupta-broers en 'n sakevennoot in hegtenis geneem. Hulle sal Donderdag in die hof verskyn. Daar word glo ook met nog twee mense onderhandel om hulself oor te gee.

Die Gupta-familie se name duik gereeld op in berigte oor staatskaping, waarby ook een van Jacob Zuma se seuns, Duduzane Zuma, en verskeie ministers betrek word.

Volgens News24 sal die drie ministers, Faith Muthambi, minister van staatsdiens en administrasie, Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, Des van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en twee amptenare, Dan Mantsha, voorsitter van Denel, en Bruce Koloane, ambassadeur in Nederland, volgende ondersoek word.

Bronne: News24, EWN, Enca