Dis die ontstellende beeld van daardie grusame ongelukstoneel wat twee weke ná sy donkerkopdogtertjie (9) se dood nog elke dag by hom spook: In die bestuurdersitplek was sy swaer se lewelose liggaam vasgepen; op die agtersitplek van die motorwrak het die besittings van sy drie kinders gestrooi gelê.

Weke ná die ongeluk waarin sy drie kinders, suster en swaer betrokke was, voel dit kompleet of ’n deel van hom op daardie dag saam met Angel-Lee gesterf het, sê Tommie Blignaut (41), wat in die mynwese werk, aan Huisgenoot.

“Ons is stukkend en totaal hartgebroke. ’n Mens weet nie hoe om so ’n verlies te verwerk nie,” sê hy.

Angel-Lee
Angel-Lee se gedenkdiens. Foto: Verskaf

Die gemeenskap in eMalahleni, Mpumalanga, waar Tommie saam met sy vrou, Jaen-Mari (33), en hul drie kinders, Angel-Lee, Caylin (13) en Jesse James (5), woon, is geruk deur die skokdood van die dogtertjie wat familielede as ’n sonstraal beskryf.

Dit was op 29 Junie dat sy donkerste nagmerrie ’n werklikheid geword het, onthou Tommie. 

Dit was net voor 17:00. Hy en Jaen-Mari het ná ’n gesinsuitstappie in Pretoria pas in eMalahleni tuisgekom toe Jaen-Mari se selfoon lui.

Jaen-Mari het die oproep van die onbekende nommer beantwoord. “Mevrou, het jou kinders saam met jou skoonsuster gery?” het die stem aan die anderkant van die lyn gevra.

“Hulle was in ’n verskriklike botsing betrokke – kom asseblief so gou as moontlik . . .”

Angel-Lee, Caylin en Jesse James was in die motor saam met Tommie se suster, Rina Marais, en dié se lewensmaat, Koos Meyer, op pad om vir hulle grootouers te kuier toe hulle in ’n botsing reg van voor op die N14 betrokke was. 

Tommie en Jaen-Mari het in hul motor gespring en na die ongelukstoneel gehaas.

“ ’n Nooddiensparamedikus het my van die toneel gebel en my op hoogte gehou. Die verskriklikste dinge gaan deur jou kop. Jy weet nie wat jy op die ongelukstoneel gaan teëkom nie – jy bid net dat jou geliefdes leef.”

Maar met sy aankoms op die toneel was Koos reeds dood verklaar. Rina, Caylin en Jesse James is met ’n ambulans na die Lenmed Randfontein-hospitaal geneem. Angel-Lee is met ’n helikopter na die Busamed-hospitaal geneem.

“Ek wou nie hê Jaen-Mari moes die verwoesting sien nie. Ek het alleen na die motor geloop en gesien hoe Koos se liggaam nog vasgepen was. My dogter se skoentjies was op die agtersitplek. Dit was ontsettend traumaties,” vertel ’n gebroke Tommie.

Rina het haar oogbank en kakebeen gebreek. Haar linkerarm was vergruis. Jesse James het erge kneuswonde gehad en sy long het platgeval. Caylin het ’n gebreekte pelvis, skouer en kakebeen opgedoen.

Angel-Lee
Sy was 'n sonstraalkind, vertel haar pa. Foto: Verskaf

“Angel-Lee was kritiek – daarom is sy elders geneem. Haar bene was morsaf gebreek. By die hospitaal het ’n slagaar inwendig gebars.”

Minstens een ander passasier in die ander motor is ook oorlede. Meer inligting oor die ander insittendes is nie bekend nie.

Tommy vertel Angel-Lee se toestand het deurlopend versleg. Op 1 Julie, twee dae ná die ongeluk, het dokters die gesin na die hospitaal ontbied.

“Die dokter het vir ons gesê hulle is besig om haar te verloor. Dit was 12:15. Ek het hom gevra om my terug te bel, en hy het die selfoon teen haar oor gesit. Ek het vir haar gesê: ‘My liefie, mamma en pappa is op pad. Byt net vas.’

Angel-Lee
Die Laerskool Klipfontein neem afskeid van Angel-Lee. Foto: Verskaf

“Dit was ’n verskriklike toneel om haar daar in die hospitaal te sien. Daar was pype in haar keel; haar oë was toegeplak. Hulle het net vroeër ’n breinoperasie gedoen. Ons kon sien hoe sy met elke oomblik verder en verder wegglip en het haar net voor 14:00 daardie middag vir die Here gegee. Ek en Jaen-Mari het albei vir God gesê: Dis reg, Hy kan haar maar kom haal. En Hy het sy engel kom haal.”

Nou probeer die gesin saam die stukke optel. Caylin en Jesse James is reeds uit die hospitaal ontslaan, en Rina is steeds in die hospitaal, maar glo in ’n bestendige toestand.

Angel-Lee
Die egpaar se oudste dogter, Caylin, in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Ons huis het nog nooit so leeg gevoel nie. Dit voel heeltyd of daar iets kort – en daar doen: ons dogtertjie. Die kinders vra na haar, maar wat sê ’n mens? Sy is by Jesus – dis al wat ons kan sê. Ons weet nie of ons ooit aan die verlies gewoond sal raak nie; of dit ooit sal ophou seer wees nie. Maar ons weet sy’s by God – en dis al wat nou troos bring.”

’n Gedenkdiens is op 11 Julie vir Angel-Lee gehou.

Angel-Lee
Klein Jesse James. Foto: Verskaf