Niemand kyk twee keer na hom waar hy op die perron van die Brussel-Suid-stasie op die 15:17-trein na Parys wag nie. Op 21 Augustus 2015 is die blink sneltrein veral bedrywig, met meer as 500 passasiers in sy 12 waens.

Dis ’n Vrydagmiddag. Talle van dié aan boord is sakemense op pad huis toe vir die naweek. En omdat dit somertyd is, is daar heelparty toeriste wat al die trein in Amsterdam gehaal het of in Rotterdam of Antwerpen opgeklim het.

Maar Ayoub el-Khazzani (25) is nie op ’n sakereis nie. Nog minder is hy ’n toeris. Toe hy op die trein in die Belgiese hoofstad klim, het hy ’n sak by hom. Daarin is ’n 9 mm-Luger- semi-outomatiese pistool, ’n mes, ’n hamer, ’n bottel petrol en ’n AK-47-aanvalsgeweer met nege magasyne met ammunisie. Hy het op die trein geklim om massamoord te pleeg.

Ondersoekers spring aan die werk kort nadat die trein stilgehou het waarop die terreuraanval kort te­vore gefnuik is. El-Khazzani se oogmerk was om soveel passasiers moontlik om die lewe te bring.

Kort nadat die trein die grens met Frankryk oorgesteek het en teen sowat 240 km/h ry, staan El-Khazzani op en gaan na die toilethokkie in eerste klas. Op sy foon kyk hy eers na ’n YouTube-video waarin djihadi’s gelowiges aanhits om hul wapens in die naam van die Profeet op te neem. Daarna trek hy sy bolyf kaal uit en maak sy rugsak oor sy borskas vas sodat hy makliker sy ammunisie kan bykom.

Toe hy met sy AK-47 uit die hokkie te voorskyn kom, kom hy dadelik twee mans teë. Een is ’n 28-jarige Franse bankier wat later bloot as “Damien A” geïdentifiseer sou word. Die ander een is Mark Moogalian (51), ’n skraal professor met deurmekaar, donker hare.

Die twee verskrikte passasiers probeer El-Khazzani keer. Mark gryp na die aanvalsgeweer en ruk en pluk tot dit uit die terroris se hande val. Maar toe haal El-Khazzani sy pistool uit en skiet Mark in die nek. “Ek’s geskiet,” skree hy na sy vrou, Isabella, wat toe al agter haar sitplek op die grond hurk. “Ek’s geskiet.”

Paniek bars los en ’n treinwag hardloop verby, maar die aanvaller lyk houtgerus. Hy tel sy aanvalsgeweer op, stap terug tot in die eersteklaspassasierswa en blokkeer die enigste uitgang. El-Khazzani het 270 rondes ammunisie by hom en ’n stampvol treinwa met ongewapende passasiers as slagoffers. Mark lê op sy maag terwyl bloed uit sy nekslagaar spuit, kyk na sy vrou en kry twee woorde uit: “Dis verby.”

En dit sou gewees het. Maar dit was nie. Mark se vrou sou later onthou hoe sy iemand hard verder af in die treinwa hoor roep het: “F** hierdie k**!” Toe sien sy ’n man in die gang afstorm en op El-Khazzani afpyl.

Pres. François Hollande het Frankryk se Legioen van Eer aan die drie Amerikaners en die Britse sakeman Chris Norman toe­geken. Van links is Chris, Anthony, Hollande, Spencer en Alek.

Die man is jonk, maar lank en fris met ’n borselkop en ’n hemelsblou polohemp. Sy naam is Spencer Stone en hy is ’n 23-jarige medikus in die Amerikaanse lugmag. Waar hy reguit in die smal gangetjie aangehardloop kom, is hy so ’n maklike teiken as wat jy kan kry.

El-Khazzani lig sy aanvalsgeweer en mik. “Ek het geweet hierdie ou sou almal aan boord doodmaak en het gedink ek moet hom doodmaak of hy gaan my doodmaak,” sou Spencer later sê, en met sy opgeruimde, praktiese houding in die omstandighede kruip hy in ’n mens se hart in.

“As ek sou teruggegaan en op daardie oomblik met myself gepraat en gesê het: ‘Hei, Spencer, dink jy jy sal dit daar anderkant oorleef?’ sou ek waarskynlik geantwoord het: ‘Beslis nie. Ek gaan nou doodgaan. Maar ten minste probeer ek . . .”

WAT daarna volg, is ’n morsige, dolle twee minute van bloed, geweld, verwarring en loutere geluk.

“Daar was minstens vyf dinge wat as dit op enige gegewe oomblik anders verloop het tot ’n heel ander uiteinde sou gelei het,” sê Spencer.

Hy was daardie middag op die trein as deel van ’n Europese droomvakansie saam met twee vriende uit sy jeugjare. Alek Skarlatos (22), wat langs Spencer in Sacramento, Kalifornië, grootgeword het, was kort tevore nog in Afganistan as lid van die Amerikaanse nasionale wag.

Anthony Sadler (23) was by hulle, ’n student met geen militêre ondervinding nie afgesien van die eindelose windbuksgevegte wat hulle drie as kinders ná skool of naweke gehou het.

Wat is die kans dat jy 'n terreuraanval sal oorleef, en dan dat jy dit sal help keer?

Spencer is 1,9 m lank, met ’n vierkantige kakebeen, bakore en innemende persoonlikheid. Anthony, die lang, skraal seun van ’n pastoor, lyk dierbaar en lag. Alek is gespierd – die rokjagter onder die drie – met ’n stoppelbaard en sanderige hare wat in ’n rif opgekam is.

Op foto’s wat hulle in die dae en ure voor die aanval in die sosiale media geplaas het, lyk hulle soos tipiese jong Amerikaanse mans in die buiteland: groot glimlagte, groot, sakkerige kortbroeke, nuuskierig oor alles om hulle.

Hulle het hulle verlustig in die geskiedenis van die plekke wat hulle besoek het en die nuwigheid geniet van wyn drink – iets wat geeneen al tevore beproef het nie.

Hulle het ook die opwinding daarvan geniet om ’n eetplek met braaihoender in Berlyn op te spoor, iets wat hulle gedink het onmoontlik sou wees. Kortom: Hulle het groot pret gehad.

Toe hulle in die eersteklaswa gaan sit, het Spencer ’n foto geneem en dit op Facebook gelaai en daarby geskryf: “Eersteklas, baby!”

Spencer, Alek en Anthony kry ereburgerskap van Sacramento, Kalifornië.

“Ons het nie verwag dit sou gebeur nie,” vertel Alek, die stemmigste een van die drie, in sy sagte, diep stem. “Die een oomblik het ons nog ’n Europese vakansie geniet en toe skielik moes ons om ons lewe veg. Dit was soos van nul tot 100, onverwags, sonder waarskuwing.”

Spencer grinnik en verduidelik: “Ons wou net kuier en alles geniet.”

Dit was blote toeval dat hulle in dieselfde wa as El-Khazzani beland het. Die vriende het hul tydjie in Amsterdam so geniet dat hulle dit oorweeg het om nog ’n dag daar te bly, voor hulle besluit het om tog na Parys te vertrek.

Op die trein het hulle hulle eers in standaardklas-tafelsitplekke tuisgemaak, al het hulle eersteklaskaartjies gehad. Hulle het net na hul eintlike sitplekke geskuif in ’n poging om ’n beter Wi-Fi-sein te kry. Spencer en Alek het daarna besluit om plekke om te ruil sodat eersgenoemde langs die gang en laasgenoemde by die venster gesit het.

As Spencer nog in Amsterdam was, of in standaardklas of in die eersteklas-venstersitplek, sou hy nie kon opspring en op die aanvaller afpyl nie.

Maar hy was op die regte plek. Oomblikke tevore het hy nog geslaap; die knal van die pistoolskoot, gevolg deur die voetstappe van die treinwag wat in die gang afhardloop, het hom laat wakker skrik. Die drie vriende het omgedraai en El-Khazzani met sy hemplose bolyf en AK-47 gesien.

'Ons was buitengewoon gelukkig.'

“Ek het gedink, is dit werklik?” sou Anthony later onthou. “Skeer iemand dalk die gek?”

Ná ’n enkele hartklop beveel Alek: “Gaan, Spencer!” en sy vriend spring uit sy sitplek op en hardloop na die gewapende aanvaller soos die Amerikaanse hoërskoolvoetbalspeler wat hy nie so lank gelede nie nog was. El-Khazzani mik – hy kan nie misskiet nie – en trek die sneller. Maar . . . niks gebeur nie.

Hy trek ’n tweede keer die sneller, en weer gaan geen skoot af nie. Die geweer weier weer.

“Dit gebeur miskien een uit 2 000 keer,” sê Alek. “So die kans net daarvan . . .” sê hy, en dwaal vir ’n oomblik af. “Ons was buitengewoon gelukkig.”

Tot sy eie en al die ander se verbasing vorder Spencer tot by die aanvaller sonder dat hy doodgeskiet word. Hy duik op El-Khazzani af wat sy geweer rondswaai en Spencer se kop daarmee oopsny voor die twee mans op die grond neerval. En toe begin die geveg.

Hulle is weer op hul voete, hulle stoei, en El-Khazzani lyk ongelooflik sterk vir iemand wat so seningrig is. “Hy was kleiner as ek, maar het hard baklei en was bereid om te sterf,” sê Spencer.

Maar Spencer ken joejitsoe. Hy wikkel hom agter sy teenstander in en probeer hom in ’n wurggreep beetkry, maar El-Khazzani slaan te hard en worstel te veel om oorrompel te word.

Skielik is Anthony en Alek daar, en laasgenoemde hou die AK-47 teen El-Khazzani se kop. “Stop, f*****!” skree hy, maar El-Khazzani stop nie.

“Skiet hom!” skree Spencer. “Ek probeer,” antwoord sy vriend, wat sukkel om die regte hoek te kry sodat hy die terroris kan skiet sonder dat die koeël ook Spencer tref. Eindelik trek Alek die sneller. Kliek. Niks.

Die terroris: Ayoub el-Khazzani

Daarna raak die volgorde van die gebeure effens vaag. In ’n stadium pluk El-Khazzani ’n mes uit, steek Spencer meermale in die nek en sny amper sy duim af. Hy gryp sy Luger en mik dit reguit na Spencer se kop, maar dié keer – kliek-kliek – is dit die pistool wat nie afgaan nie.

Alek wikkel die pistool van hom weg en probeer El-Khazzani weer skiet. Weer wil dit nie vuur nie. Tussen dit alles deur skree El-Khazzani: “Gee my pistool terug!”

Al die gebeure, erken Alek, was “baie verwarrend”.

Hoe hy hul optrede opsom – waarvoor hulle binne die volgende 72 uur die Legioen van Eer (Légion d’Honneur) van Frankryk se pres. François Hollande sou ontvang – verleen amper ’n komiese element aan die geveg.

“Ons het nie regtig geweet wat ons doen nie,” sê Spencer, “maar ons het probeer.”

Hy kon dit eindelik regkry om El-Khazzani te wurg tot hy sy bewussyn verloor, maar dit het waarskynlik gehelp dat Alek hom herhaaldelik met ’n AK-47 oor die kop geslaan het. Net daarna het Chris Norman, ’n 62-jarige Brit wat in Frankryk woon, die drie kom help. Hy het El-Khazzani eers vasgepen en toe met kabels en sy das die aanvaller se arms en bene vasgebind.

Intussen het Spencer die bloeding uit Mark Moogalian se nekslagaar met sy vingers probeer stop. Alek het die AK-47 geneem en seker gemaak daar is geen ander terroriste op die trein nie.

Hy het ontdek die pistool se magasyn het uitgeval; daarom wou dit nie skiet nie.

Anthony het alles op sy foon verfilm: die vasgebinde terroris, sy bloeiende vriend, die ammunisie.

Die trein het nog beweeg, maar alles was so rustig dat dit onwerklik gevoel het. “Dit was vreemd stil,” vertel Alek.

Voor die trein by Arras stilgehou het, waarheen dit herlei is, het Anthony en Alek langs mekaar gestaan en net gelag oor die absurditeit van die gebeure.

“Ons was uitsonderlik gelukkig,” sê Alek, “want wat is die kans dat jy in ’n terreuraanval sal wees, en dit sal oorleef, en dan dat jy dit sal help keer, en die kans dat daardie koeëls nie afgevuur word nie? Dis astronomies. Ons behoort beslis nie te geleef het nie.”

Oombliklik was hulle helde, ’n ervaring wat net so onwerklik sou wees as die aanval self. Terwyl Spencer se duim geopereer is, het Anthony en Alek ’n konferensieoproep van Barack Obama, toe nog die Amerikaanse president, ontvang.

“Staatsamptenare het ons ondervra en vir ons gesê die president gaan bel,” sê Anthony. “Um . . . hoe nou?

“Die foon se luidspreker was aan en ons hoor hierdie stem sê: ‘Hei, Alek en Anthony!’ En selfs dan kyk jy in die vertrek rond en dink: ‘Wag . . . wie . . . ek?’

”Hulle het in ’n motorkade in Parys opgedaag wat reguit na die Amerikaanse ambassadeurswoning gejaag het waar 10 warm Pizza Hut- bokse opgestapel was. In hul weelderige gastekamers het reuse-bottels sjampanje gewag.

“Ons kry kamerjasse!” het ’n stralende Alex uitgeroep. Hy en Anthony het op en af op die beddens gespring terwyl Spencer deur FaceTime met sy suster gesels het.

Daar was medaljes – Franse medaljes, Belgiese medaljes – en pryse en ’n militêre bevordering vir Spencer. Daar was ’n ontmoeting met Obama in die Ovaal Kantoor, waar nog medaljes aan hulle oorhandig is: ’n medalje vir dapperheid aan Anthony; die lugmagmedalje en ’n Purple Heart-medalje aan Spencer; die soldatemedalje aan Alek.

Hulle het sterre geword. Hulle het saam met Arnold Schwarzenegger aandete geëet. Anthony het op Jimmy Fallon se Tonight Show verskyn; Spencer was op Jimmy Kimmel Live! Alek het aan Dancing with the Stars deelgeneem.

“Ek het sowaar die eindstryd gehaal,” sê Alek. “Ek het derde geëindig. Ek weet nie of dit is omdat ek so ’n goeie danser is of omdat mense simpatie met my gehad het nie. Maar dit was groot pret.”

Prof. Mark Moogalian is in die nek gewond terwyl hy die aanvaller probeer ontwapen het.

Hulle sê die surrealisme van hul roem was op ’n manier ’n goeie ding. “Ons het dit nie werklik toe verstaan nie, maar om besig te bly het ons regtig gehelp om die gebeure te verwerk, want ons moes baie in onderhoude daaroor praat,” sê Alek.

Dit beteken nie daar was geen sielkundige nagevolge nie. Anthony sê ná die aanvalle in Parys, minder as drie maande later, het hy teksboodskappe ontvang van mense wat sê hulle het hom in die Franse hoofstad nodig gehad. Hy het homself oortuig die aanvalle op Parys, waarin 130 mense dood is, was in ’n sekere opsig uit weerwraak vir die bloedbad wat hulle gekeer het.

Hy het geglo hulle het al die geluk wat hulle in die lewe sou kry op daardie trein opgebruik, en gebeure daarna het dit blykbaar bevestig: Spencer is in daardie Oktober tydens ’n aandjie uit in Sacramento gesteek. ’n Groep mans het van sy vriendinne lastig geval, hulle het handgemeen geraak en hy is in die rug gesteek. Hy moes ’n opehartoperasie ondergaan om sy lewe te red.

Die vorige week was daar ’n grootskaalse skietery by die Umpqua-gemeenskapskollege in Oregon, waar Alek studeer. Nege mense is dood. As Alek nie toe by ’n repetisie vir Dancing with the Stars was nie, sou hy op die kampus gewees het. “Dit het gevoel asof ’n donker wolk op ons neerdaal,” sê Anthony. “Ons moes op mekaar steun; op ons vriendskap steun.”

Die wolk het eindelik verdwyn. Maar hul lewe het geensins na normaal teruggekeer nie. Hulle het ’n aangrypende boek oor hul ervarings die lig laat sien – The 15:17 to Paris – met die opsie om dit te laat verfilm. Clint Eastwood is as regisseur aangestel.

“Hy het ons gedurig na Los Angeles laat vlieg vir vergaderings om ons siening te vra,” sê Anthony. Die drie het toe maar aanhou Los Angeles toe vlieg, want as Clint Eastwood dit van jou vra, dan doen jy dit. Maar eendag het die vergadering anders verloop.

“Hy het al daarvan gepraat om akteurs vir oudisies te laat kom en ons het gedink ons sou dalk die ouens ontmoet wat ons sou speel,” vertel Anthony. “Tydens die gesprek het hy gesê hy wil hê ons moet voor die kameras uitbeeld wat ons op die trein gedoen het. Ons het gesê: ‘Oukei, dis reg so. Ons sal dit vir die akteurs uitbeeld sodat hulle kan sien wat ons gedoen het.’ En toe sê hy: ‘Hoekom speel julle ouens nie net julself nie?’

“Dit was ’n totale verrassing vir ons,” sê Spencer. “Ons het eers op die nippertjie daarvan gehoor.”

“Ons monde het oopgehang,” voeg Anthony by.

Dis moeilik om jou ’n groter waagstuk voor te stel wat die rolverdeling betref. The 15:17 to Paris word volgende maand uitgereik, en jy kan self oordeel. Maar daar is ten minste ’n beweegrede agter die besluit.

“Niemand anders sou die dinamika tussen ons drie kon regkry nie,” sê Spencer. “Met akteurs sou ek net gesê het: ‘Dit is nie ek nie.’ ” Hy glimlag. “Dit was ’n geleentheid waarvoor ons nie kon nee sê nie. Nie baie mense kry die kans om in ’n Clint Eastwood-fliek oor hulself te speel nie.”

Hulle stem almal saam om die boek te skryf en in die fliek te speel was ook ’n loutering. Clint het ook ander werklike passasiers op die trein hulself laat speel, en om saam met hulle na ’n model van die treinwa terug te keer was net nog ’n onwerklike oomblik in ’n reeks onwerklike oomblikke.

Maar dit was ook insiggewend, sê Alek. “Ons kon soveel meer uitvind oor wat alles gebeur het; oor wat die ander passasiers en die treinpersoneel toe gedoen het.

“Ons het uitgevind die koeël waarmee Mark in die nek geskiet is, het deur sy liggaam getrek en tussen my en Spencer se kop deurgevlieg. As ons net in ’n terroristeaanval was en nie ’n boek geskryf of in ’n fliek gespeel het nie, sou ons waarskynlik in die duister gewees het oor baie van die besonderhede.”

'Ons was net drie doodgewone ouens wat in ’n gekke situasie beland het.'

Hulle wil al drie hê die fliek moet wys hoe doodgewoon hulle is. Agterna is aanvaar hulle moes almal vlootsoldate, aksiemanne met gevegslittekens, gewees het.

Maar hulle was nie. “Ek is ’n medikus in die lugmag,” sê Spencer. “Ek het drie jaar lank in ’n pediatriese eenheid gewerk. Ek is net ’n gewone ou.”

Alek was in Afganistan, maar as ’n nasionale wag was hy nie in die voorste linie of in enige gevegte nie. En hy het dit ook nooit voorgegee nie. Anthony benadruk dit.

“Die ander twee is as hierdie G.I. Joes uitgebeeld wat al baie oorlogservarings gehad het. Maar ons was net drie doodgewone ouens wat in ’n gekke situasie beland het.”

“Ek dink elke dag daaraan,” sê Alek. “Ons was net baie gelukkig.”

  • Mark Moogalian is in Lille en Parys behandel en het van sy besering herstel. Die Franse Legioen van Eer is in 2016 aan hom toegeken. Ayoub el-Khazzani word steeds as verhoorafwagtende aangehou.
  • Die fliek The 15.17 to Paris word van 9 Maart af in Suid-Afrika vertoon.
© Ben Machell/The Times Magazine/News Licensing; Foto's: Gallo Images/AFP, Gallo Images/Getty Images, AAI/Fotostock, Greatstock/Shutterstock, Achmed Meguini/Twitter