Wayne, voorsitter van die Suid-Afrikaanse vereniging vir die konferensiebedryf (Saaci), het op 12 Junie in sy 2018-model Renault Clio geklim en na sy werk toe gery in die noorde van Johannesburg. Toe verdwyn hy spoorloos.

Intussen het die polisie Wayne se SIM-kaart van sy selfoon by ’n man in Thembisa opgespoor.

Sy motor was ook op sosiale media te koop aangebied maar die plasing is kort daarna verwyder.

Tot nou toe is daar nog geen teken van Wayne, sy selfoon of sy motor nie. 

“Elke dag is net moeiliker en moeiliker,” vertel Wayne se eggenoot, Charl Smith, moedeloos aan Huisgenoot. 

“Partykeer sukkel ek om myself bymekaar te hou en wonder elke dag waar is Wayne. Aan die ander kant moet ek sterk wees want daar is steeds ’n huishouding om te onderhou en rekeninge om te betaal.

“Ons het nog geen idee waar Wayne is en of hy nog lewe nie. Ons hoop en bid net dat die verdagtes met antwoorde vorendag kom.” 

Volgens Charl gee die verdagtes nie in hierdie stadium hulle samewerking nie en wil hulle nie met inligting na vore kom oor waar Wayne mag wees nie. 

“Dit is nou al amper twee maande sedert hy weg is en elke oggend is vir my ’n uitdaging. Om wakker te word en te besef hy is nie by my nie, is hartverskeurend.” 

Die drie verdagtes verskyn Dinsdag (30 Julie) in die landdroshof in Johannesburg waar hulle aansoek op borgtog sal doen. 

“Ek hoop nie hulle kry borgtog nie. As hulle eers op vrye voet is, sal die polisie hulle dalk nooit weer kan kry nie. En dan gaan ek ook nooit antwoorde kry op waar my man is nie.” 

Kapt. Tintswalo Sibeko, polisiewoordvoerder, het bevestig dat drie verdagtes vroeë vandeesmaand in hegtenis geneem is, maar wou weens die aard van die saak nie verder inligting bekendmaak nie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.