Sy was van haar middellyf af ondertoe verlam en kon niks vir haarself doen nie.

Toe Marie Sander (30), ’n grafiese kunstenares van Lindenhurst, V.S.A., in April 2016 skielik moeër as gewoonlik begin voel, het sy dit aan haar besige werkrooster en te min slaap toegeskryf.

Marie, 'n ywerige atleet, het ondanks haar moegheid ’n week later aan ’n halfmarathon deelgeneem. Maar ’n paar dae daarná het sy gesukkel om te loop en teen die volgende naweek was sy van haar middel af ondertoe heeltemal verlam, haar arms was swak en haar gesig verlam.

Nadat Guillian-Barré-sindroom by haar gediagnoseer is, het sy ’n maand in twee hospitale deurgebring waar sy mediese en fisioterapiebehandeling ontvang het.

“Ek kon, liggaamlik gesproke, niks vir myself doen nie; ek kon nie eens badkamer toe gaan nie.  Ek kon myself nie voer nie, en selfs as iemand anders my kos gegee het, was dit te uitputtend om te eet,” het Marie verduidelik.

“Wat my verstand betref, was dit een van die moeilikste, ontstellendste dinge wat ek nog deurgemaak het. Ek hou nie daarvan om hulp te vra nie. Net nadat ek siek geword het, moes ek vir die eerste keer in my lewe hulp aanvaar.

Ek kon, liggaamlik gesproke, niks vir myself doen nie, ek kon nie eens badkamer toe gaan nie.

“Van my atletiekvriende het geld bymekaargemaak en vir my en my man ’n Visa-geskenkkaart gestuur om kruideniersware mee te koop. Dit was uiters vrygewig van hulle en ek waardeer hul goedheid en vrygewigheid tot vandag toe, maar ek het dit gehaat om in daardie soort posisie te wees.

“Toe die diagnose aanvanklik gemaak is, het ek ongeveer ’n maand in twee hospitale deurgebring. In die eerste hospitaal het ek ’n farmaseutiese behandeling gekry wat, by gebrek aan ’n beter uitdrukking, ’n 'strawwe herprogrammering' van my immuunstelsel was. Die behandeling, binneaarse immunoglobulien, het veroorsaak dat my liggaam begin het om die skade te herstel.

“Ek het ook met ’n bietjie fisioterapie begin. Dit was net stap in die voorportaal af; as dit wat ek in daardie stadium gedoen het, beskryf kan word as 'stap'. Ek het my voete gesleep omdat ek op daardie tydstip nie sterk genoeg was om hulle op te lig nie, ek het aan 'n loopraam vasgehou en daar was ’n rol-gemakstoel agter my, net ingeval ek moes ophou.

“Die terapeut het daarna ’n aantal ligte krag- en beweegbaarheidsoefeninge op my bene gedoen. Elke sessie het ongeveer ’n halfuur geduur.

“Die tweede hospitaal het op fisioterapie en rehabilitasie gekonsentreer. Ek het elke dag twee uur fisioterapie ondergaan en een uur arbeidsterapie. Die fisioterapie was baie meer intens en dit het bestaan uit verskillende versterkende oefeninge, koördinasie-oefeninge, loop langs ’n muur, langer tye met ’n loopraam loop, met die trappe opklim en selfs fietstrap-oefeninge.

“Die sessies was so straf dat ek daarna telkens vir 'n uur of twee ’n uiltjie moes knip.

“Daar was ook ’n trapmeul in die terapie-afdeling en ek het my terapeut daarna uitgevra. Hy het my ingelig dat die meeste pasiënte nie gereed is om daarop te klim voordat hulle die hospitaal verlaat nie.

“Ek het hom gesê my doelwit was om op daardie trapmeul te klim voor ek huis toe gaan. Vyf dae voordat ek ontslaan is, het ek vir tien minute op daardie trapmeul geklim teen die spoed van 0,08 km/h getrap. Ek wou nie vinnig trap nie, ek wou dit net doen.”

Foto: Magazine Features.

Guillain-Barré-sindroom is ’n baie seldsame siekte wat die senuwees aantas. Dit tas hoofsaaklik die voete, hande en ledemate aan, wat ongevoeligheid, swakheid en pyn kan veroorsaak. Vroeë simptome kan oor dae en weke vererger en in ernstige gevalle kan dit lei tot verlamming en moeitevolle asemhaling en/of sluk.

Dit het ses weke geduur voordat Marie met gemak en sonder hulp kon loop ná haar diagnose, en sy reken haar hardlopery het haar gehelp om stamina en koördinasie op te bou tydens haar hersteltydperk. Sy is nou handelsmerk-ambassadeur vir Just Strong, ’n kleremaatskappy in die VK, wat fiksheidsklere vervaardig. Hul missie is om vroue te bemagtig en om hulle aan te moedig om hul beste moontlike self te wees.

“Hardloop het ’n groot rol gespeel in my herstel. My neuroloog het in een stadium vir my gesê hy voel die krag van my bene was die rede waarom die verlamming gestop het. Ek was van my middel af ondertoe heeltemal verlam, maar ek het nooit die gebruik van my arms verloor nie. Hy reken daar was baie om aan te val in daardie deel van my liggaam (van my middellyf af ondertoe),” het sy gesê.

“Hardloop het my ook gehelp om my koördinasie en stamina te verbeter. Dit het my geestelik ook gehelp, aangesien ek voel dat ek die persoon is wat ek was voordat ek siek geword het.

“Dit help my ook, net soos vantevore, om myself uit te daag en om die druk te verlig ná ’n lang dag of wanneer ek gespanne is. Dis ’n uur of so waarin ek kan vergeet dat ek ’n chroniese kwaal het.”

Terwyl Marie met haar rehabilitasie voortgaan, ondervind sy goeie sowel as slegte dae, maar sy meen die moeilikste aspek van haar herstel was om te aanvaar dat sy nie meer die energie het wat sy altyd gehad het nie, en dat sy steeds soms mense moet vra om haar te help.

“Ek ondervind nog goeie en slegte dae. Op ’n goeie dag voel ek nie siek nie. Dit voel nie vir my asof hierdie swart wolk gedurig oor my hang nie,” het sy gesê

“Ek kan op ’n slegte dag erg gefrustreerd raak met myself oor ek nie dinge kan doen wat ek voorheen kon doen nie. Op daardie dae is ek nie net hartseer oor myself nie, maar ek verwyt ook my siekte. Waarom het dit met my gebeur? Op daardie dae laat ek myself toe om kwaad en gefrustreerd te wees, en ek beloof myself dat dit môre weer beter sal gaan.

“Die moeilikste ding tydens my herstel was om te leer om nee te sê, om na my liggaam te luister. Ek het nie dieselfde soort energie as voorheen nie, dus leer ek steeds om te delegeer wat dadelik gedoen moet word en wat kan wag. Ek moet ook nog soms hulp vra en, soos ek reeds gesê het, vind ek dit uiters moeilik.

“My vriende en familie is in die wolke oor my vordering. Hulle sê altyd ek lyk wonderlik. ’n Meisie wat voorheen saam met my gewerk het, het die beste ding gesê wat ek nog gehoor het: ‘Jy begin weer lyk soos vantevore’.”

Marie het ten slotte haar advies gedeel met ander mense wat moontlik ook pas ’n diagnose van Guillain-Barré-sindroom ontvang het: “Dit raak beter. Jy sal hier deurkom. Ek weet dis nou goor, maar alles sal oor ’n paar maande soos ’n aaklige droom voel."