Haar seun, Terrance Gates (39), se lyk is naby die Vaalrivier gevind. Patricia wag nou vir die polisie om 'n nadoodse ondersoek af te handel voor hy veras kan word. Intussen worstel sy met vrae oor haar geliefde seun se dood. 

“Ek sal so graag antwoorde oor sy dood wil kry,” vertel sy telefonies aan Huisgenoot.

“Hy is nou al ’n maand dood en ek het gedink die verassing sou nou al plaasgevind het. Ons het al ’n diens vir hom gehou,” vertel Patricia.

Terrance is die pa van twee seuns, onderskeidelik 13 en 20 jaar oud. “Hulle vat dit baie sleg. Hulle bly in Boksburg en het hom ses jaar laas gesien,” vertel Patricia verder.

Volgens Patricia is daar gerugte dat Terrance op Dinsdag, 6 Junie, laat die aand gemartel, geslaan en aan ’n paal vasgebind is.

Terrance se liggaam is naby die rivier in die Dick Fourie-stadion gekry, bevestig kapt. Fikile Funda, woordvoerder van die Vereeniging-polisiekantoor.

Nou spook ontstellende gedagtes by Patricia: Het dit alles regtig met haar seun gebeur? Het haar seun gely?

Patricia se man, Terrance snr., is twaalf jaar gelede op die ouderdom van 49 aan emfiseem oorlede. “Terrance was my enigste kind. Ek is nou alleen agtergelaat,” sê sy.

Terrance se liggaam is na die staatspatoloog geneem, sê kapt. Funda. Die polisie is besig met 'n geregtelike doodsondersoek en wag vir die uitslae van die nadoodse ondersoek voor hulle kommentaar sal kan lewer oor of Terrance verdrink het en of gemartel is.

"Ons het nog geen inligting om vir ons te vertel wat met hom gebeur het nie," voeg kapt. Funda by.

Vroeër die jaar is twee ander lyke in die Vaalrivier gevind.

Die vermoorde Gerrit Schoonhoven van Potchefstroom. Foto: Facebook

Die lyk van Gerrit Schoonhoven (53) van Potchefstroom is in Desember in die Vaalrivier naby Villiers gevind.

lyke,Vaalrivier,Terrance Gates
Eric Lyell

’n Voormalige prokureur van Vereeniging, Eric Lyell (68), wie se lyk in Januarie in die Vaalrivier gevind is, is volgens ’n kollega van hom wreed vermoor. 

Daar is verdagtes in verband met hierdie moorde in hegtenis geneem, het die polisie bevestig.