Haar man, Kelvin, ook ’n pastoor by die Grace Family Fellowship, sê sy vrou het reeds twee operasies ondergaan.

“Die eerste een was vir rekonstruksie aan haar gesig en wangbeen en die tweede was aan haar ken,” sê hy.

Cyzelle was ’n passasier op ’n veldvoertuig. Sy is onder die voertuig vasgepen nadat dit omgeslaan het. 

“Niemand anders is beseer nie. Ek self was nie in die voertuig nie, maar was binne minute by haar,” sê hy.

Kelvin sê sy vrou kon nog met hom praat voor haar eerste twee operasies, maar dokters het haar daarna aan ’n ventilator gekoppel.

“Sy wou net weet hoe gaan dit met die kinders en het gesê ek moet seker maak hulle is oukei.”

Cyzelle en haar man, Kelvin Fincham. Foto: Facebook
Cyzelle en haar man, Kelvin Fincham. Foto: Facebook

Die egpaar het twee dogters en ’n seun van onderskeidelik 13, 12 en nege jaar oud.

“Sy is nou in die lug op pad na die Eugene Marais-hospitaal in Pretoria waar ’n bekkenspesialis haar gaan opereer. Ek het probeer om plan te maak om saam te gaan maar volgens die hospitaal se beleid word in hierdie stadium geen besoekers toegelaat nie. Dit is moeilik, maar ek bly nou by ons drie kinders om hulle te help om die trauma te hanteer,” het hy aan Huisgenoot gesê.

Die Fincham-gesin. Foto verskaf
Die Fincham-gesin. Foto verskaf

Hulle drie kinders was ook op die perseel waar Cyzelle seergekry het, maar het “gelukkig” nie hulle ma gesien na sy beseer is nie, sê Kelvin. 

Kelvin klink gedaan na die afgelope naweek se hospitaalbesoeke. Hy sê die gemeenskap in Mbombela is uiters ondersteunend.

“Dit is eintlik oorweldigend,” bieg hy.

Cyzelle is stabiel en sal na verwagting vandag of more weer geopereer word.