Só beskryf Charné Ludick (26) haar dogtertjie, Chardiney Ludick (4), se ongelooflike herstel na die reuse breinoprasie wat sy pas ondergaan het.

“Selfs die dokters kan nie glo hoe goed sy herstel nie,” vertel Charné. “Sy speel rond en teken graag. Ons sukkel om haar stil te hou.”

In Februarie is klein Chardiney met ’n gewas op haar brein gediagnoseer. Vir Charné, ’n bemarker, en haar verloofde, Willem Stork (37), ’n privaatondersoeker van Pretoria was dit ’n paar bitter moeilike maande.

Veral omdat hulle ook ’n tweeling, Sebastian and Alexander, het wat slegs ’n jaar en twee maande oud is.

Chardiney Ludick
Chardiney Ludick en haar twee boeties, Alexander en Sebastian.

Dokters kon daarin slaag om 70 persent van die gewas, wat in deursnee vier sentimeter groot was, te verwyder.

Charné en Willem wag nog om te hoor of die gewas kwaadaardig is.

Dit het alles begin met ’n toeval wat sy gekry het nadat sy met die RS-virusinfeksie gehospitaliseer was. Die virus tas jou asemhalingstelsel aan en kom veral onder kinders voor.

“Ek het gedink sy is nog swak van die virus, maar toe dit die tweede keer gebeur het ons begin wonder hoekom,” vertel Charné.

Na ’n elektro-enkefalogram wat haar breinaktiwiteit vir ’n nag lank gemonitor het en ’n MIR-skandering het die dokter iets opgemerk.

“Hy kon nie duidelik sien of dit ’n gewas is en of haar brein nog nie ten volle ontwikkel het nie.

”Sy het medikasie gekry, maar die toevalle het voortgeduur en uiteindelik was ’n operasie die enigste uitweg.

“Dis moeilik,” erken Charné. “Sy is my eerste kind en my enigste meisiekind, so ek is baie erg oor haar. Maar daar is soveel mense wat vir haar gebid het."

Chardiney Ludick
Charné Ludick bid vir haar dogtertjie, Chardiney.

Voorheen het Chardiney met haar spraak gesukkel en hoewel Charné toe nie geweet het wat die rede is nie, sê dokters die gewas kon die oorsaak gewees het.

“Sy sal nou spraak en- arbeidsterapie kry sodat sy kan inhaal,” vertel Charné.

Chardiney Ludick
Chardiney Ludick met haar sertifikaat vir dapperheid.

Die terugslag was vir die gesin finansieel ook baie moeilik, aangesien Charné ’n hospitaalplan het, maar dit nie naastenby al die mediese onkostes dek nie. 

“Willem was op pad bank toe om ’n lening aan te gaan toe ’n vriend hom bel en vra wat hy doen. Die vriend het nie eens geweet hy is op pad bank toe nie en toe hy vir hom vertel het hy uitgebars in trane. Die vriend het toe voorgestel dat hy ’n Whatsapp-groep skep, wat vir hulp vra aangesien daar so baie mense is wat omgee.”

Die pleit om hulp het vrugte afgewerp en Charné en Willem kon daarin slaag om vir die mediese behandeling te betaal nadat dit wyd op sosiale media gedeel is. Charné sê wanneer Chardiney ten volle herstel het sal hulle sal graag die res van die geld wil skenk aan ander kinders wat siek is.

Chardiney se herstel na die operasie het die dokters so beïndruk dat sy die derde dag ná die operasie van die hoësorgeenheid na ’n gewone saal oorgeplaas is en ’n dag later kon sy huis toe gaan.

Chardiney Ludick
Klein Chardiney Ludick in die hospitaal.

Nou wag hulle vir haar om verder te herstel voordat hulle weer toetse kan doen om te sien of die gewas gegroei het voor die dokters besluit hoe om die gewas verder te behandel.

Charné sê Chardiney moet vir die volgende agt weke tuis bly voor sy weer skool toe kan gaan. 

“Sy is eintlik so besig op die oomblik, ons probeer haar stilhou sodat sy haar nie beseer nie en sodat haar brein kan rus.

“Hierdie hele ding het my weer in wonderwerke laat glo,” sê Charné.