Die ongeluk het in die stad Timisoara in Roemenië plaasgevind toe vyf kinders alleen in die woonstel gelos is.

Die oudste, wat 14 jaar oud is, is in beheer van sy sibbes gelaat. 

Volgens die plaaslike media het die 14-jarige, wie se naam nie bekendgemaak is nie, na die kombuis gegaan om melk vir sy sibbes Alexandra (6), Andrei (4), Antonia (2) en Adrian (4 maande) warm te maak.

Maar toe hy terugkeer na die vertrek waar al sy broers en susters was, kon hy nie ingaan nie, want dit was in dik rook gehul. 

“Die seun het uitgegaan en om hulp begin skree,” het ’n onbekende getuie aan die media gesê. 

“Die ma het 10 tot 15 minute later daar aangekom. Sy was wanhopig toe sy die toneel sien en het by die woonstel probeer ingaan, maar kon nie as gevolg van die dik rook.”  

Die nooddienste het op die toneel aangekom en die 14-jarige seun en sy ma, Ana Maria, na die hospitaal gehaas.

Hulle is vir koolstofmonoksiedvergiftiging behandel wat hulle opgedoen het nadat hulle herhaaldelik by die gebou probeer ingaan het om die kinders binne te red. 

Brandweerbeamptes het termografiese kameras en suurstofmaskers gebruik om die kinders in die woonstel te vind en uit te bring. 

Al vier is op die toneel dood. 

Een van die bure beweer Ana het die kinders op die aand van die voorval alleen gelos om te gaan inkopies doen.

Brandweerbeamptes se aanvanklike ondersoek toon ’n vonk uit die kaggel het die brand laat ontstaan. Die polisie ondersoek die saak.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.