Dis nou al meer as sewe jaar ná die gruvoorval wat die land geruk het.

Op haar lang, pynlike pad na fisieke herstel moes die 32-jarige Kim McCusker al sowat 40 operasies ondergaan nadat sy daardie verskriklike dag in September 2011 byna ’n kilometer ver onder ’n minibustaxi gesleep is.

Die vel en weefsel wat van haar rug en arms gestroop is, het intussen weer geheg en genees.

Dit moes die einde van Kim se ontbering gewees het. Maar nie voor haar taxisleephel nog ’n slagoffer geeïs het nie: haar huwelik.

Die aantreklike blondine praat vandag hier in haar skoonheidsalon in Northcliff, Johannesburg, vir die eerste keer openhartig oor haar egskeiding van Lourens Grobler (43) ’n jaar gelede.

Sy is vriendelik en elegant in ’n koningsblou somerrokkie wat die meeste letsels aan haar lyf bedek, maar die groot seer van haar mislukte huwelik lê vlak.

Sy glo haar lewe sou anders gewees het as Patlet Thamage, wat vandag steeds ’n voort­vlugtige is, nie in die padwoedevoorval oor haar gery het nie.

“Ek sou ’n loopbaan as advokaat gehad het. Ek sou kinders gehad het. Ek sou nie vol letsels gewees het nie. Ek sou nie ’n lewe van pyn gelei het nie. Ek het destyds ’n lewe beplan wat baie anders sou gewees het as wat dit vandag is.”

In 2016 het Kim vertel Lourens, aan wie sy ten tyde van die taxivoorval verloof was, het ’n kortstondige verhouding met haar vriendin gehad.

Hulle het egter besluit om weer te probeer. Maar ná nog sowat 18 maande het hulle besef dis verby.

“Ek weet vandag ek het nooit oor sy ontrouheid gekom nie,” vertel sy.

Haar trauma die afgelope sewe jaar was nie net aan haar beserings te wyte nie, sê sy.

Dít was die moeilikste om my mee te versoen: my verlies aan ’n normale lewe.

“Ek dink dit was ’n kombinasie van alles,” vertel sy. “My verlies aan ’n ­huwelik. Die verlies aan ’n lewe wat ek vir myself beoog het.”

Sy is ’n oomblik stil en beklemtoon dan: “Dít was die moeilikste om my mee te versoen: my verlies aan ’n normale lewe.”

Dit was sowat vyf maande voor hul troudag, wat hulle vir Februarie 2012 beplan het, dat Kim en Lourens ­oudergewoonte saam gimnasium toe is.

13 September 2011

Op pad huis toe is hul motor skrams deur die taxi ­getref. Hulle het stilgehou en na die ­ander voertuig gestap om die bestuurder se besonderhede te kry, maar hy het weggetrek en bo-oor Kim gery.

Thamage, aan wie destyds borgtog van R5 000 toegestaan is, word vandag steeds deur die polisie gesoek om tereg te staan op aanklagte van poging tot moord en roeke­lose en nalatige bestuur. Hy het in Desember 2015 spoorloos verdwyn.

In haar boek, Scarred – But Not for Life (2016), beskryf Kim haar ontbering en die pyn en trauma van haar genesing. ­Benewens die 58% van haar weefsel en spiere wat afgestroop is, het sy ook ver­skeie rugwerwels en ribbes beseer.

Maar deur alles het Lourens haar bygestaan.

En nadat hulle weens die taxi­sleepvoorval hul troudag met drie maande moes uitstel, het hulle oplaas in Mei 2012 voor die kansel gaan staan.

Vandag glo Kim die taxivoorval het omstandighede geskep waarin hul huwelik nie kon oorleef nie. Hulle het naamlik by haar ouers, Douglas en Patricia, in die Johannesburgse voorstad Fairland gaan woon. Patricia, ’n verpleegster, sou help met Kim se versorging.

Kim moes al byna 40 operasies ondergaan.

“Vir my en Lourens om as pasgetroude paartjie by my ouers in te trek was uit­dagend. Ons was almal onder dieselfde dak,” sê Kim.

“Ek dink ook Lourens het daarmee gesukkel dat alles ’n lang tyd net oor my gegaan het. Daar was soveel mense wat sy rol as eggenoot vervul het. Ek dink hy het onbelangrik gevoel.”

Sy voel dis waarom hy hom ná meer as vier jaar van die “abnormale omstandighede” in haar ouerhuis tot haar vriendin gewend het vir aandag. Dié verhouding, in 2014, het glo vier maande geduur.

“Dit was net so ’n groot vertrouensbreuk,” sê Kim.

“Nog ’n slag.”

Hulle was enkele maande lank vervreem, maar het later besluit om hul ­huwelik nog ’n kans te gee. Hulle het uit haar ouerhuis getrek en vir die eerste keer tydens hul huwelik hul eie woonplek gekry.

Maar 18 maande later het hulle tot die slotsom gekom dit werk nie.

Ek is ’n lojale mens, en wanneer iemand ’n mens se vertroue verbreek, is dit die grootste seer.

“Miskien kan party mense ná ’n affair teruggaan na daardie oorspronklike vlak van vertroue. Maar vir my is dit oor die ­algemeen moeilik om teenoor ander oop te maak en te vertrou,” sê Kim.

“As daardie vertroue verbreek is, is dit net soveel moeiliker om weer terug te gaan. Ek dink dit is selfs onmoontlik vir iemand soos ek. Ek is ’n lojale mens, en wanneer iemand ’n mens se vertroue verbreek, is dit die grootste seer.”

Depressie

En op ’n manier het die lewe saam met haar ouers normaal geraak. Vir haar en Lourens om ná amper vyf jaar alleen te wees was byna ’n skok vir haar.

Met haar liggaam so te sê genees en die uitgerekte eis teen die Padongelukkefonds agter die rug, was dit skielik asof sy geen doel gehad het nie.

“Die eerste twee maande het ek baie depressief gevoel. Nie soos in hartseer en huilerig nie, maar neerslagtig en on­gemotiveerd,” verduidelik Kim.

“En ek kon dit nie verstaan nie, want ek het kort ná die ongeluk of tydens die drie maande daarna in die hospitaal nooit daardie gevoelens ervaar nie. Nie eens met al die letsels wat nog op my lyf is nie. Trouens, die depressie het gekom in ’n tyd toe dit veronderstel was om ­beter te gaan.”

Sy het dit deeglik deurdink.

“Ek het toe besef dis omdat ­alles weens die taxivoorval verander het. Ek het geen duidelike vooruitsigte meer oor­gehad nie.”

Sy het haar salon, Lady Grace Nail & Body Boutique, in Mei 2016 geopen.

Kim het in Desember 2016 vir Huisgenoot vertel sy aanvaar haar letsels as deel van die mens wie sy vandag is.

“Ek wou nie weer vir enigiemand werk nie; ek wou by my eie ure hou en meer aanpasbaar wees,” verduidelik sy.

“Ek het tot laatnag hier in die salon sit en skryf eerder as om huis toe te gaan,” sê sy oor die boek wat sy gepubliseer het.

Dit was in dié tyd dat haar huwelik op die rotse geloop het en sy en Lourens uitmekaar is.

Sedert sy en Lourens in Maart 2017 amptelik geskei is, woon sy weer by haar ­ouers en fokus sy op haar skoonheidsalon. Sy hanteer haar egskeiding soos alle ander terugslae, vertel Kim.

Kim is in 2017 van haar man, Lourens Grobler, geskei.

“Met wilskrag en die regte ingesteldheid kan jy enigiets die hoof bied.”

Sy sit nie en huil in ’n hoekie nie.

“Selfbejammering kry ’n mens nêrens. Jou ­situasie is wat jy daarvan maak. Jy leer iets in elke verhouding.

“ ’n Mens moet oor die verlies van elke verhouding treur en nie die bagasie in jou volgende verhouding indra nie,” verduidelik sy.

Sal sy haar weer oopstel vir die liefde?

Sy aarsel net ’n oomblik: “As die tyd reg is en die regte mens kom in my lewe.”

  • Lourens het Huisgenoot se versoek om kommentaar van die hand gewys.
FOTOS: ONKGOPOTSE KOLOTI, MDUDUZI NDZINGI, MARTIN DE KOCK, FACEBOOK