Die model Reeva Steenkamp het die aand van 13 Februarie 2013 by Oscar se huis in die Silver Woods-landgoed in Pretoria gaan oorslaap en is in die middernagtelike ure in sy badkamer doodgeskiet. 

Ná ’n lang en uitmergelende hofsaak is Oscar in Oktober 2014 deur regter Thokozile Masipa in die hooggeregshof in Pretoria aan strafbare manslag skuldig bevind en tot vyf jaar korrektiewe toesig gevonnis. 

Die staat het hom tot die appèlhof gewend, wat die uitspraak na moord verander het.

Nadat Masipa die vonnis na ses jaar verander het, het die staat weer geappelleer en op 24 November verlede jaar is Oscar se vonnis van ses jaar tot 13 jaar en vyf maande verleng.

Die vonnis wat hy reeds vir strafbare manslag uitgedien het, is toe ingereken om altesaam die minimum vonnis van 15 jaar te weerspieël.

So het Huisgenoot in Februarie 2013 die eerste keer oor die gebeure berig:

Oscar se buurman-vriend vertel van sy en Reeva se verliefdheid, hul laaste dae saam en die lemnaeler se pynlike verlange na sy ‘trouvrou’.

Agt minute oor drie die oggend van Valentynsdag skrik Christo Menelaou wakker van iets wat vir hom na drie donderslae klink.

In sy huis op die Silver Woods-landgoed, oos van Pretoria, lê hy en wag dat die reën kom, maar hy hoor geen druppels val nie. Sowat ’n uur later gaan hy badkamer toe.

Toe hy die venster oopmaak en buitentoe kyk, kan hy sy oë nie glo nie.

Sy venster kyk uit op ’n leë erf en die Olimpiese en Paralimpiese atleet Oscar Pistorius se huis. Die twee is boesemvriende.

“Sy huis was altyd snags pikdonker, behalwe vir een lig wat altyd gebrand het,” vertel Christo (34). Daardie nag het al die ligte gebrand en daar was ook ’n klomp blou en rooi ligte om die huis.

“Ek het net geweet hier kom groot moeilikheid,” onthou hy.

Oscar en Christo Menelaou.

Vir die eerste keer sedert Oscar aangekla is van die moord op sy meisie, die model Reeva Steenkamp, vertel Christo nou in ’n eksklusiewe onderhoud en met sy vriend se medewete van die tragiese gebeure wat die lemnaeler se aanhangers wêreldwyd geskok het.

Christo het daardie oggend blitsvinnig gestort en met sy motor na Oscar se huis gery.

Hy het die eerste veiligheidswag wat hy teëgekom het, gevra wat aangaan.

“Hy het gesê Oscar het sy meisie geskiet en ek wou weet of sy oukei is. ‘Nee, sy is dood,’ het hy gesê.

“Ek kon dit nie glo nie. Keer op keer het ek gesê: Dit kan nie wees nie; dit kan nie wees nie. Die wag het my vertel Oscar het gedink dis inbrekers.”

Die polisie het Oscar tot omtrent elfuur die oggend ondervra en toe in hegtenis geneem.

Christo Menelaou.

“Hy het by die deur uitgeloop gekom in sy vaal Nike-sweetpakbroek en -baadjie. Die kappie was nie toe op sy kop nie.

“Toe hy by my kom, het hy my vasgegryp en styf vasgedruk. Hy het in my oor gesê: ‘Ek het gedink sy is ’n inbreker.’

“Daardie 15 m van die deur tot by die polisie se wit Volkswagen Polo het vir my soos 100 m gevoel,” vertel Christo.

“Die polisieman het hom aan die passasierskant agterin die motor gelaai en die kinderslot aangesit.

“Die bestuurder het agteruit by die oprit uitgery, en toe hy in die straat draai, het Oscar met ’n leë uitdrukking na my gestaar.”

Dis vir Christo ondenkbaar dat Oscar Reeva opsetlik sou seermaak. “Hy het haar soos ’n prinses behandel.”

In selfoonboodskappe aan Christo sê Oscar aanhoudend hy verlang ongelooflik baie na “Reeves” en kan nie sy lewe sonder haar indink nie.

Dit was ook die eerste meisie van Oscar teenoor wie hy openlik liefdevol was. “Hy het nie omgegee om te wys hoe hy voel nie. Nadat hy Reeva ontmoet het, het hy vir my gesê: ‘This one is a keeper.’

Oscar se selfoonboodskappe aan Christo ná reeva se dood.

“Hy mis haar so baie dat hy aan niks anders kan dink nie,” vertel Christo. Hy het gereeld kontak met die verhoorafwagtende atleet en besoek hom ook waar hy nou ingevolge sy borgvoorwaardes by sy oom Arnold Pistorius in Waterkloof bly.

Christo sê Oscar beskou Arnold as sy pa, “want hy en sy regte pa het nie ’n goeie verhouding nie”.

By sy oom se huis sit Oscar ure op die stoep en staar net voor hom uit. “Hy het ’n dik baard gekweek en dis asof hy daarmee binne-in hom probeer wegkruip. Hy eet nog gesond, maar ek kan aan sy borsbeen wat ál sigbaarder word, sien hy het gewig verloor.”

Oscar huil omtrent heeltyd wanneer hulle bymekaar is, vertel Christo. “Hy wroeg oor wat hy gedoen het, maar nie net daaroor nie, ook oor hoe hy ander seergemaak het. Hy sê aanhoudend hoe jammer hy is dat hy een van my vriendinne weggevat het.”

Hy glo Reeva se skietdood was ’n ongeluk, “want anders sou Oscar nie nou so emosioneel gewees het nie. Sy gewete sou hom nie so gepla het nie.”

Vandat hy op borg vrygelaat is, leef Oscar soos ’n kluisenaar en sluit die meeste van sy vriende uit. “Sy vriende het hom nie afgeskryf nie; hy het hulle weggestoot. Hy lees 90 persent van die tyd sy Bybel. Dis asof hy daarin antwoorde en berusting soek.

“Oscar was nog altyd gelowig, maar nooit so erg nie. Elke Sondag gaan hy saam met sy familie na ’n Johannesburgse kerk en ’n pastoor besoek hom gereeld by die huis. Hy spreek sy sielkundige drie of vier keer per week.”

’n Twitter-foto wat Oscar van hom en sy hond Enzo opgelaai het.

Saans teen halfnege gaan Oscar slaap en word selfs so vroeg soos drieuur weer wakker. Waar hy in die verlede altyd volgens sy streng roetine ’n middagslapie geniet het, slaap hy nou net snags, vertel Christo.

Oscar weier om antidepressante of slaappille te drink.

“Dis asof hy homself straf. Hy voel so sleg oor al die honderde ander mense wat hy seergemaak het. Hy kan nie vrede maak met wat gebeur het nie. Hy sê oor en oor: ‘Ek is jammer; ek is jammer.’

“Hy is baie emosioneel. Hy huil heeltyd, regtig baie, en vra die Here moet die pyn wegvat. Ek kan sien hy is werklik in fisieke pyn.

“Ek het gesê hy moet begin kyk na homself, maar dis asof hy my nie hoor nie. Elke keer dat ek so iets sê, antwoord hy my net met iets wat hy van Reeva onthou.

“Dis asof hy nie besef dat hy kan tronk toe gaan nie. Hy dink nie daaraan nie. Hy sê net: ‘Ek verlang so baie na Reeva.’ Niks maak meer vir hom saak nie. Hy praat net heeltyd oor wat Reeva sou gesê het en wat Reeva sou gedoen het.

“Hy weet sy is dood, maar dis asof hy dink daar is iets wat hy kan doen om haar terug te bring. Hy kyk gedurig na sy foto’s van haar.”

Begin van ’n vriendskap

Christo en Oscar is die afgelope vyf jaar sulke hegte vriende, Oscar het al gesê hulle is soos broers. Hulle trek ook verstommend baie op mekaar.

Christo onthou nog baie goed hoe hulle mekaar ontmoet het. Dit was by die Virgin Active in Hazeldean.

“Hy het ’n lang sweetpakbroek aangehad en met my begin praat oor watter werk ek doen,” vertel die projekbestuurder in die boubedryf.

“Sy Mini Cooper was voor die gim langs my bakkie geparkeer en uit die gereedskap wat agterop was, kon hy sien ek weet iets van handewerk. Hy het gesê hy het waterdrukprobleme by die huis en gevra of ek dalk sal kom kyk of ek vir hom raad het.

“Nadat hy by die huis vir ons koffie gemaak het, het hy na die tweede verdieping gegaan. Toe hy afkom in ’n kortbroek, het ek eers besef dis dié Oscar Pistorius!”

Daarna het hulle oor en weer begin kuier, gereeld gebraai en soms saam gaan uiteet.

Oscar se profielfoto op sy selfoon.

Wanneer sy atletiekverpligtinge hom nie oorsee besig gehou het nie, het hy graag sy vriende vir etes by sy huis genooi.

“Oscar was baie lief vir kos maak en Sondagmiddae het hy graag genoeg mense genooi om sy twaalfsitplektafel vol te sit.

Hy het altyd self gebraai, die mengelslaai gemaak en soms pap en sous ook gekook. Hy het ook self die tafel mooi gedek met kakiekleurige plekmatjies met roomkleurige strepies en gesorg vir ’n bottel rooiwyn, koeldrank en koue water.

“Dit was hoe hy altyd vir jou gewys het jy is een van sy naaste vriende. Hy was op sy gelukkigste wanneer sy gaste die kuier geniet.”

Hy het selde saam nagereg geëet, maar altyd gesorg dat sy gaste kan weglê aan iets soets, soos roomys of kolwyntjies.

Almal het lekker gekuier oor middagete, maar wanneer die nagereg klaar voorgesit is, was dit tyd vir huis toe gaan, vertel Christo met ’n effense laggie. “Dan sou Oscar reguit sê: ‘Oukei, dis nou tyd vir my middagslapie.’ ”

Oscar was gereeld lang rukke oorsee en die eerste twee weke ná sy terugkeer was hy maar stil, vertel Christo.

Die afgelope net meer as ’n jaar woon hy ’n hanetree van die atleet, net sowat 200 m ver. “Dan sou hy skielik net een oggend sesuur aan my deur kom klop en sê hy wil koffie hê.”

Die dae voor daardie ramspoedige nag...

Christo kan die week voor die skietvoorval byna oomblik vir oomblik onthou. Hy het Oscar gereeld gesien, want hy het opknappingswerk aan die atleet se huis gedoen.

“Hy was so opgewonde oor die huis in Athol, Johannesburg, waarop hy ’n aanbod gemaak het. Hy wou sy huis opknap om dit te verkoop of te verhuur. Ons het ’n houtdakkie oor die borrelbad opgesit en die huis geverf. Hy was so beïndruk met hoe mooi dit gelyk het dat hy gespot het hy moet liewer aanbly,” vertel Christo.

Tog wou Oscar Johannesburg toe trek, want die meeste van sy borge was daar en hy moes gereeld daarheen gaan vir vergaderings. Die meeste van sy vriende woon ook glo in Johannesburg.

Hy sou nog in Pretoria oefen, maar hy het gedink dit sou makliker wees as hy nie laatnag ná kuiers by vriende soontoe hoef terug te ry nie.

Foto: Instagram.

En natuurlik was dit vir hom ’n pluspunt dat Reeva in Johannesburg gewoon het. “Hy het nog gesê die huis sal perfek wees vir hulle twee en sy kan dan moontlik by hom woon. Voorheen kon sy net so twee nagte per week by hom oorslaap omdat dit so ver is om te ry.

“Ons het nog gesê ons gaan mekaar mis, maar hy het my verseker ons is soos broers en sal tyd maak om mekaar te sien.”

Sondag 10 Februarie

Die Sondagoggend voor Valentynsdag het hy by Oscar se huis verbygery en ’n wit BMW M6 Cabriolet daar sien staan. Hy het hom gebel en gesê: “Haai, broer, lekker ryding, is dit jou nuwe speelding?”, want Oscar is baie lief vir luukse motors.

Die atleet het gesê dis eintlik sy goeie vriend Justin Divaris, die uitvoerende hoof van die Daytona-motorgroep, s’n en hy leen dit net. Hy het Christo genooi om die oggend saam met hom, Reeva en Martyn Rooney, ’n Britse Olimpiese 400 m-atleet wat by hom kom kuier het, na ’n hardewarewinkel daar naby te ry. Reeva wou gaan kandelaarhouers koop waarmee sy ’n muur op die stoep langs Oscar se borrelbad wou opkikker en hy wou glas laat sny vir ’n venster in sy huis wat gebreek het.

Reeva saam met haar en Oscar se gemeenskaplike vriend Justin Divaris, die uitvoerende hoof van die Daytona-motorgroep.

“Baie werkers van Builders Warehouse het met hul selfoon foto’s van hulle saam met Oscar laat neem en hy het tyd gemaak vir elkeen. Hy was so gaaf met almal en het keer op keer gevra: ‘Hey, brother, how are you?’ Hy het die woord ‘brother’ nogal baie gebruik,” vertel Christo.

Dit was ’n kenmerk van Oscar dat hy altyd sou tyd maak vir sy aanhangers, maak nie saak waar of wanneer nie.

Net so vrygewig soos wat hy met sy tyd is, is hy ook met sy geld, vertel Christo. Daardie middag in die parkeerterrein het ’n ouerige motorwag Oscar kom gelukwens met sy vertoning by die Olimpiese en Paralimpiese Spele.

“Ek was so trots op jou,” onthou Christo die man se woorde aan Oscar. “Het jy nie dalk vir my ’n los werkie by jou huis nie?” Oscar kon hom nie daarmee help nie, maar het ’n rol note uit sy beursie gehaal en dit onopsigtelik in die man se broeksak gesteek. “Ek hoop dit help jou ’n bietjie,” het hy gesê.

“Dit was seker R600,” vertel Christo.

Net daarna het hulle met die BMW by ’n vulstasie stilgehou. “Oscar het so ewe vir die petroljoggie gesê om vol te gooi. Toe kyk hy so vir die pomp en tel af: R600, R700, R800, en toe dit by R900 kom, sê hy: ‘Nee, stop, stop, ’n mens het ’n groot beursie nodig om so ’n groot tenk vol te maak!’ ” Oscar het die joggie ’n fooitjie van R100 in die hand gestop.

Die laaste middag van Martyn se kuier het Reeva vir hulle tortillas met guacamole, maaskaas, feta, bokkaas, hoenderstukkies en gemengde roerbraaigroente by Woolworths vir middagete gaan koop.

Oscar en Martyn Rooney. Foto: Instagram.

Oscar het vir almal koffie gemaak met die Nespresso-koffiemasjien wat hy Kersfees present gekry het.

“Hy was so beïndruk met sy nuwe speelding en wou vir almal koffie maak. ’n Week tevore, toe ’n elektrisiën by sy huis was, het hy die werkers gaan haal waar hulle besig was en gesê hy moet eers vir hulle van sy spesiale koffie maak,” onthou Christo.

Martyn het daardie aand teruggevlieg en Christo het gesê hy sal hom lughawe toe neem. Hulle twee is van Oscar se huis eers na Christo se huis toe, ’n entjie laer in die straat, maar net ’n ruk later het die Paralimpiese atleet en Reeva daar opgedaag om weer hul Britse vriend te groet.

Min het Christo toe geweet dit sou die laaste keer wees dat hy die paartjie saam sou sien. Hy kan net onthou hoe gelukkig hulle was. Hy het ook die laaste foto van hulle twee saam geneem.

“Oscar het Reeva gekielie en sy het hardop gelag. Hulle het mekaar gereeld geterg en gespeel. Hulle was nie net geliefdes nie; hulle was ook werklik vriende. Dit was die heel eerste meisie van Oscar met wie hy so openlik liefdevol was,” vertel Christo.

“Met Samantha (Taylor, Oscar se vorige meisie) kon ek altyd sien hul gevoelens is nie so diep nie. Dis goed en wel om voor te gee jy is lief vir iemand; dis iets heel anders wanneer dit werklik is, soos met Oscar en Reeva. Hy sou voorheen nie voor my met sy meisies flankeer nie, maar met Reeva het hy nie omgegee om te wys hoe hy voel nie.”

Christo, Oscar se vorige meisie Samantha Taylor en Oscar.

Vir die twee was dit liefde met die eerste oogopslag. Hulle het mekaar in November tydens ’n geselligheid by die Killarney-renbaan ontmoet en Oscar het Christo later vertel toe hy haar sien, het hy net geweet dis die vrou vir hom. Hy en Samantha was toe nog saam, al was hul verhouding al troebel. Maar die volgende dag het hulle uitgemaak en die aand het Reeva vir die eerste keer by die Suid-Afrikaanse Sportprysaand saam met hom in die openbaar verskyn.

“Sy het nog vir hom gesê dis nie nodig om haar saam te neem nie, want dis nog ’n baie nuwe verhouding, maar hy het daarop aangedring,” vertel Christo.

Maandag 11 Februarie

Christo en Oscar het mekaar nie daardie dag gesien nie, maar wel ’n paar keer oor die foon gesels.

Dinsdag 12 Februarie

Twee dae voor die voorval het hulle mekaar weer te sien gekry. “Oscar het my nog gewys hoe sy program vir die jaar lyk. Hy sou op 20 Maart oorsee gaan deelneem en gereeld oorsee gewees het. Hy het geglo ’n goeie en suksesvolle jaar lê vir hom voor.”

Christo het hom gevra of Reeva saamgaan. “Hy het nog geantwoord dit maak nie werklik saak nie, want sy verstaan. Sy sal soms saamgaan en dan weer huis toe kom, want sy is ook besig.

“Hy het ook gesê Reeva is die heel eerste meisie wat hy werklik kan sê hy date; die ander meisies het hy eintlik net ‘gesien’. Hy het gesê sy verstaan hom en die wêreld waarin hy leef. Sy is nie jaloers wanneer meisies op Facebook vir hom boodskappe stuur of in die openbaar voorkeer nie. Hy hoef ook nooit vir haar te sê hoe om aan te trek of te reageer wanneer hulle êrens heen gaan nie. Die handskoen het haar net gepas.”

Daardie oggend het hy ook ’n selfoonboodskap van Reeva vir Christo gewys. Sy het dit gestuur nadat hy haar met ’n werkkontrak gehelp het wat sy moes onderteken. Sy waardeer al sy hulp en leiding in haar loopbaan, het sy geskryf, en sy sal hom graag wil help waar sy kan, al is dit net met iets kleins. “Hy het die woorde so baie waardeer,” vertel Christo.

Die middag het hulle saam na ’n werkperseel van Christo gery. “Toe ons by die deur uitstap, het Oscar skielik besef hy het nie ’n hemp aan nie. Hy het Frankie, sy huiswerker, geroep.

“Toe hy ’n hemp met ’n groot kraag bring, het Oscar sy hande in die lug gegooi en gesê: ‘Ek is nie ’n gangster nie; ek is nie ’n rapper nie; ek is Oscar! Ek kan nie daai hemp dra nie,’ ” onthou Christo en lag. Dit was altyd pret om saam met sy vriend te wees.

“Hy kon daardie dag sien ek is baie gespanne en het gevra wat makeer. Toe ek sê dis maar werksake, het hy gesê as daar enigiets is wat hy vir my kan doen, moet ek sê, want sy oom is ook in die boubedryf.

“Ek het tot ná die ongeluk nooit werklik geweet hoe ’n groot naam sy oom Arnold werklik in die bedryf is nie. Dis hoe nederig Oscar is; hy het nooit oor sy familie gespog nie.”

By die kompleks waar Christo bouwerk gedoen het, het ’n eienaar wat pas daar ingetrek het, Oscar kom groet. Hy het hom genooi om te kyk hoe die eenhede binne lyk.

“Oscar het ’n ophef gemaak oor watter lekker plekkie die man vir hom gekoop het. Dis hoe hy is; hy laat ’n mens goed voel oor wat jy bereik het.”

Christo het hom toe vir middagete by sy huis genooi: frikkadelle met broccoli en blomkool daarby, wat sy huiswerker, Lizzy Mosupyoe, gemaak het.

“Oscar het my vertel hy sal sy uitgawes moet begin besnoei, want daar lê vir hom nog net so vyf of ses jaar se atletiek voor. Hy het gedink dit sal ’n goeie idee wees as Frankie ook vir hom kook, pleks dat hy Woolworths-kos eet. Hy het Lizzy gevra of Frankie elke middag wanneer sy kos maak daarheen kan kom sodat hy kan leer. Sy was so beïndruk.”

Maar dit het toe nooit gebeur nie, want dit was die laaste keer dat hy sy goeie vriend gesien het voor die tragiese nag wat alles sou verander.

Christo het dié foto van die gelukkige paartjie – en een van sy troetelapies – die Sondag voor Reeva se dood geneem. Hy vertel sy was die eerste meisie met wie Oscar openlik liefdevol was omdat hy haar regtig liefgehad het.

Woensdag 13 Februarie

Op die laaste dag van Reeva se lewe het Christo haar die middag by Oscar se huis raakgeloop. Sy was besig om kussingoortreksels in sy braaikamer af te haal sodat dit gewas kon word. Sy was dié middag kinderlik opgewonde oor Valentynsdag, die volgende dag.

“Sy het vertel sy gaan vir Oscar lekker ontbyt maak en sommer net ’n kombers oopgooi vir ’n piekniek. Sy was nog nie seker of sy dit bo op die stoep of onder in die tuin sou doen nie. Sy het nog gevra wat ’n mens koop vir iemand soos Oscar Pistorius en gesê sy wil liewer net met haar dade wys hoe baie sy vir hom omgee.”

Maar die volgende oggend was die jogurt, gaar hoenderborsies en kasies wat sy gekoop het, nog net so in die koelkas.

Reeva het aan Christo gesê Oscar het daardie week die eerste keer met haar ouers oor die foon gepraat en dit was asof hy hulle al jare ken. Hy was baie gemaklik met hulle.

“Sy het my vertel woorde kan nie beskryf wat sy vir Oscar voel nie en dat haar en Oscar se liefde so sterk is, dis asof hulle een mens is. Sy kon nie glo dat sy binne net drie maande so lief vir iemand kon word nie.”

Sy het ook gesê sy het in die verlede gehoor Oscar het kort-kort ’n nuwe meisie en sy het gedink hy is ’n rokjagter, maar nadat sy hom werklik leer ken het, het sy besef hoe ’n goeie mens hy is.

“Oscar het so baie vir Reeva omgegee, hy sou enigiets vir haar doen,” sê Christo.

“Wanneer sy smiddae gebel en gesê het sy ry nou by die landgoed se hekke in, het hy enigiets waarmee hy besig was, net so gelos en die deur vir haar gaan oopmaak. Hy sou dan haar oornagtassie by haar vat en dit opdra na sy kamer toe. Hy het altyd gevra wat hy vir haar kan doen. Hy het haar soos ’n prinses behandel.”

Donderdag 14 Februarie

Sy eerste gedagte toe hy die oggend van Valentynsdag al die ligte in en om Oscar se huis sien brand, was dat daar ’n inbraak was, vertel Christo.

Twee jaar tevore het diewe een nag Christo se leer gevat, daarmee tot op die tweede verdieping geklim en ’n klomp waardevolle items gesteel. ’n Werknemer van die maatskappy wat die landgoed beveilig, is later daaroor aangekeer.

“Ek het dadelik gedink dis wat met Oscar gebeur het: Hulle het by sy huis ingeklim en hom iets aangedoen.”

En met dié dat hy aan Oscar se huis gewerk het, het sy leer daar in die erf gelê, verduidelik Christo, steeds merkbaar ontsteld.

Hy het later gehoor polisiebeamptes op die toneel vertel vir mekaar Oscar praat van ’n leer wat op die perseel rondlê.

Oscar verlaat sy huis kort ná sy inhegtenisneming.

Net ’n paar weke tevore het Oscar Christo glo ook vertel daar was ’n aanslag op sy lewe, maar hy het nie besonderhede daaroor verstrek nie. Twee weke voor Reeva se dood het hy gesê die probleem is opgelos, hy kan nou ontspan.

“Oscar is ’n ou wat iemand dalk sal vloek, maar hy sal nie iemand doodmaak nie,” sê Christo beslis.

Ná die moordnag

In die dae ná die nag van die skietery mag Christo Oscar nie in die polisieselle besoek het nie. Hy het probeer, maar die polisie het hom weggewys.

“Ek het maar net probeer help waar ek kon deur die honde te versorg en te sorg dat Frankie kos het.”

Frankie was getraumatiseer, veral omdat hy daardie nag in sy buitekamer by die huis niks gehoor het nie, vertel Christo. “Dit het hom baie gepla en hy was ook baie huilerig aan die begin.”

Oscar soek nou nuwe huise vir sy twee honde, ’n wit-en-swart bulterriër en ’n bruin Amerikaanse veghond. Hy voel skuldig omdat hy nou vir ’n lang ruk nie by hulle kan wees nie en hy weet sy toekoms is onseker.

Foto: Instagram.

“Dis vir hom ’n baie emosionele saak. Daai honde is vir hom soos mense; hulle was altyd in die huis.

“Oscar is baie lief vir diere. Hy het eenkeer op ’n snelweg gesien hoe ’n hond raakgery word en dadelik afgetrek. Hy het die hond langs die pad gesoek, veearts toe gevat, gesond gemaak en toe huis toe geneem.”

Foto: Instagram.

Omdat hy op dieselfde landgoed as Oscar woon, mag Christo volgens die aanvanklike borgvoorwaardes nie met Oscar kontak gemaak het nie. Nadat dit verslap is, wou Christo hom graag sien. “Voor die tyd het ek vreeslik gewroeg,” vertel Christo, “maar ek het geweet hy het my nodig.”

Eindelik het hy vir Oscar ’n boodskap gestuur: “Ek kan nie beskryf hoe baie ek jou mis nie. Sal jou graag wil sien. Ek is baie lief vir jou. Die landgoed voel leeg sonder jou.”

Hy het gewonder of sy vriend sal antwoord. “Dalk was hy kwaad vir my oor die leer of dalk het hy te skaam gevoel oor wat gebeur het. Ek het heeltyd gedink aan redes waarom hy liewer nie sal antwoord nie.”

Tien minute later was hy verlig toe hy die antwoord kry: “Mis jou onbeskryflik baie. Sal jou in die week sien. Jy beteken die wêreld vir my en ek weet nie wat ek sou doen of hoe ek deur elke dag sou kom sonder jou gebede nie.

“Ek is so gebroke sonder Reeves. Ek weet sy was ook baie lief vir jou. Ek is jammer en dankbaar vir alles wat jy doen.”

Oor Oscar se ‘donker’ kant

Kort voor Reeva se dood het sy aan Christo gesê Oscar is die eerste ou met wie sy nie eintlik baklei nie. Sy het gesê sy wonder heeltyd wanneer hulle die eerste keer werklik gaan baklei.

“Reeva sou nie toegelaat het dat Oscar haar sleg behandel nie. Toe hulle eenkeer wel stry, het sy net vir hom gesê: ‘Tot siens, sien jou later,’ en weggery. Sy het hom eers twee dae later weer gebel.”

Hy verstaan nie wat Samantha met “Oscar se donker kant” bedoel nie. Sy sou ’n Sondagkoerant daarvan vertel het, maar het op grond van regsadvies daarteen besluit.

“Ek weet nie waarvan sy praat nie. Sy en Oscar was verlede jaar saam op ’n eilandvakansie, en toe hulle terugkom, kon ’n mens sien hulle het die tyd saam geniet. Die ding is net, Samantha was ’n meisie vir Oscar; Reeva was sy trouvrou,” meen Christo.

Hy verstaan ook nie hoekom Samantha se ma, Trish, op haar Facebook-blad beweer het Oscar was voor haar dogter onverskillig met sy versameling gewere nie. Sy het gesê sy is bly haar dogter is uit sy kloue.

“Oscar was paranoïes en paraat,” gee hy toe. “Sy gewere was nooit in sig nie, maar ek het altyd geweet dis naby wanneer ons in sy huis is.”

Christo voeg by hy glo nie die gerugte nie dat Oscar, wanneer hy nie kon slaap nie, na die naaste skietbaan gegaan het om ’n paar skote af te vuur om sy spanning te verlig. “Wanneer hy nie kon slaap nie, het hy gelees. Hy is baie lief vir lees.”

’n Keer of wat het Oscar gedink hy hoor ’n inbreker in die huis en dan het hy met groot bravade en sy bofbalkolf gaan ondersoek instel. Eenkeer was dit net sy honde wat aan die houtraam van sy glasdeur gekou het en ’n ander keer ’n vriend wat by die motorhuis se oop deur ingekom het.

Christo weier ook om die bewering te glo dat Oscar dwelms gebruik het. “Ek het hom eenkeer gevra wat ek kan gebruik om groter spiere te bou in die gimnasium, toe sê hy as ek enigiets gebruik, sal hy nooit weer met my praat nie.”

Tog is daar van die atleet se vriende van wie Christo nie hou nie. “Laat ek dit net so stel: Ons was Oscar se pleb-vriende wat aan huis by hom gekuier het, maar in Johannesburg het hy vriende gehad wat saam met hom na luukse motors en duur horlosies gaan kyk het en saam met hom na kuierplekke gegaan het.”

Foto: Instagram.

Hy weet nie of dit waar is dat Oscar onlangs in ’n nagklub in Johannesburg gekuier het nie, want die vriende wat glo saam met hom daar was, praat nie eintlik met Christo nie. Maar as dit waar is, kan hy nie glo Oscar het gedrink en met ander meisies flankeer nie.

Tog verstaan hy ook dat Oscar ’n bietjie uit die huis sal wil wegkom, want hy is amper dag en nag alleen daar.

Met dié dat Christo so baie na Oscar lyk, verstaan hy ook wat sy vriend deurmaak wanneer hy wel sy gesig in die openbaar wys. “So twee weke gelede het ’n tannie my in ’n winkelsentrum sommer kom stamp en gevra: ‘Wat het jy gedink? Wat het jy gedoen?’ Sommer so onbeskof. Toe ek sê ek is nie Oscar nie, was sy baie jammer.”

Christo het gehoor Oscar oefen soggens by ’n privaat gimnasium in Pretoria, maar wanneer hy hom vra of hy weer sal hardloop, sê die atleet net hy sal begin oefen wanneer sy kop weer reg is daarvoor.

Foto: Instagram.

Net baie tyd, baie ondersteuning en die Here sal Oscar hierdeur kry, sê Christo. “Die Oscar wat ek nou sien, is ontroosbaar, maar hy is nie iemand wat gaan lê nie.”

“As ’n mens net die horlosie kan terugdraai. . .” sug hy. “Oscar is ’n goeie ou. Ons almal gaan uit en kuier en raak aan die stry, hy ook, maar Oscar was meer ’n ou wat vrede maak. Baie mense het hom al voor my lelik kwaad gemaak, maar nog nooit het hy uitge-freak nie.”

Die Oscar wat hy leer ken het, was vir die wêreld ’n glorieryke lemnaeler, maar vir Christo was hy net ’n vriend wat jy kan bel wanneer jy die dag bedruk voel. “Hy sou jou beter laat voel.”

In hierdie krisistyd in sy lewe is die bordjies nou verhang.

In ’n boodskap wat Oscar op Christo se selfoon gelaat het, sê hy: “Baie dankie dat jy daar is vir my, vir my lief is en jou vriendskap wys.”