Mense is bang en moedeloos. Wanneer sal dinge eendag beter word? In dié tyd gryp baie mense na enige sprankie hoop – soms in verrassende plekke.

Daarom het Huisgenoot vyf Suid-Afrikaners wat glo hulle is heldersiende gevra of hulle lig aan die einde van die pandemietonnel sien.

SARINA ENGELBRECHT, Medium van Nieu-Bethesda wat ook van astrologie en numerologie gebruik maak

Sarina Engelbrecht. Foto: Facebook/SarinaEngelbrec
Sarina Engelbrecht. Foto: Facebook/SarinaEngelbrecht

“Op ’n astrologiese vlak het ons op 8 Augustus die Lion’s Gate-portaal binnegegaan. Dit sal nuwe energie, oplossings en insig bring ná die afgelope paar maande se verwarring en radikale veranderings waaraan ons gewoond moes raak. Hierdie energie lyk positief vir ons as Suid-Afrikaners wanneer ons nou meer as ooit nuwe sake-idees sal begin ontgin.

“Daarmee saam gaan mense ál meer geneig wees om hulle met die regte mense te omring. Dit sal ’n positiewe invloed, wat finansiële gesondheid insluit, op ons lewe hê.

“Covid-19 gaan die val van die bekende patriargale stelsel en gevestigde denkpatrone aktiveer. Hieruit sal voortvloei die skep van ’n nuwe manier van hoe dinge in die toekoms gedoen gaan word wat voordelig vir die hele mensdom sal wees. In die nabye toekoms sal daar wêreldwyd ’n ál groter oplewing van vroue in leiersrolle wees.

“Vroue vertrou hul aanvoeling en sal die mensdom meer leer om dieselfde te doen, pleks van om inligting van ’n eksterne bron te kry om veilig te voel. Die antwoorde wat ons soek, is binne onsself opgesluit.

“Dit beteken nie ons is al naby daaraan om uit die gevaarsone van die pandemie te kom nie. Die inperking moet gebruik word om selfondersoek te doen en om weer op ’n emosionele vlak in voeling met ons geliefdes te kom. Ál meer mense sal in die toekoms hul ou gevestigde waardestelsel herevalueer om dít te vind wat werklik vir ons innerlike geluk bring.

“Vir baie mense was die inperking onverwags, dramaties en pynlik. Baie het hul werk en inkomste verloor, en ons almal moes afstand doen van baie vryhede. Teen die einde van die jaar gaan die mensdom dit eerder as ’n seën begin beskou aangesien dit vir almal die geleentheid gegee het om weer in voeling met onsself te kom en te herontdek wat ons doel in die lewe is.”

GERALD BURGER, Heldersiende van Kempton Park en aanbieder van die kykNET-reeks Die siener (2019)

Gerald Burger. Foto: kykNET
Gerald Burger. Foto: kykNET

“Die res van 2020 sal as gevolg van die covidpandemie nog baie deurmekaar wees voor dinge eers in Februarie volgende jaar sal verander. Daarna sal dit met Suid-Afrika beter gaan. My visie wys ook mense sal ál meer bekommerd oor hul finansiële welstand raak en moed en geloof verloor. Baie gaan dit oorweeg om ’n einde aan hul lewe te maak eerder as om so te sukkel.

“Mense gaan verder verhonger en verarm en gaan in opstand kom.

“Ons moet in hierdie tyd almal as gelowiges bymekaarstaan en bid, want ek glo die Here het ons op ’n vreemde manier kom wys ons moet meer gelowig raak.”

BELINDA BRAS-NEL, Vanderbijlparkse medium wat vertel sy kry boodskappe van engele

Belinda Bras-Nel. Foto: Sharon Seratlo
Belinda Bras-Nel. Foto: Sharon Seratlo

“Ons moet onthou ons het in ons diepste wese gekies om in hierdie tyd te leef en deel te wees van die veranderings van die tyd. Die pandemie bring baie swaarkry en hopeloosheid na die oppervlak, maar dit help ook die mensdom om te herevalueer hoe ons funksioneer en wat ons vir onsself glo.

“Hierdie jaar dwing ons om almal saam deur dieselfde krisisse te werk. Hoewel ons die hele wêreld se pyn aanvoel, is elkeen steeds vir homself en sy eie optrede verantwoordelik. Die pandemie bring vir ons die geskenk om die hele mensdom se manier van doen na empatie en samehorigheid te verskuif.

“Die gevolge daarvan gaan oor die volgende ses maande nog groot verskuiwings bring. Selfsug is nog aan die orde van die dag en gaan meer aan die lig kom om in die res van 2020 skoongemaak te word. Augustus tot Oktober is ’n kritieke tyd vir die samelewing om te kies om meer bewustelik te leef.

“Van Januarie 2021 sal meer mense die pyn van die verlede agterlaat en wil saamwerk om ’n beter toekoms vir almal te bou. Tog bly dit elkeen se keuse en gaan die swaarkry van die wêreld net kan verskuif as meer mense gewillig raak om saam te staan en te herbou. Ons gaan ’n fantastiese nuwe tydperk binne en sal dit beslis van 2023 af ’n werklikheid sien word.”

BELINDA SILBERT, Medium van Kaapstad en aanbieder van die SABC3-reeks Making Contact (2017)

Belinda Silbert. Foto: Facebook/Belinda Silbert
Belinda Silbert. Foto: Facebook/Belinda Silbert

“Ek voorsien Suid-Afrika sal die skokeffek van die pandemie nog ’n paar jaar voel. Dit is ’n rowwe rit wat vir ons voorlê.

“Die huidige politieke toneel sal oor ’n paar maande anders daar uitsien. Die ANC se posisie sal verswak en ons sal ál meer ’n bestel van koalisiepolitiek kry.

“As ek na die energievelde van Suid-Afrikaners kyk, is daar tans nie ’n verenigde bewussynsvlak nie. Mense is net in ’n oorlewingsfase terwyl elkeen op sy eie voortgaan. Maar wat interessant is, is dat daar in die toekoms ’n draaipunt gaan kom waar die gees van gemeenskappe die rigting sal bepaal waarin die land beweeg.

“Gemeenskappe gaan mekaar ondersteun met dinge soos koskoopbewyse. Ons gaan terug na die basiese beginsel van mense wat daar is vir mekaar en as ’n eenheid saamleef.

“Die onderwysstelsel is ’n groot bekommernis as ek op ’n heldersiende manier daarna kyk: Ek sien die negatiewe impak wat dit op ons leerders en studente het, wat ’n hele generasie sleg gaan beïnvloed.

“Die toekoms is nie in sement gegiet nie – ons bewussynsvlakke verander en vorm dit in ooreenstemming met die besluite wat ons neem.

“Die situasie tans in Suid-Afrika is een van moedeloosheid, maar die boodskap wat ek vanuit die geesteswêreld kry, is dat ons moet saamstaan om die beste uitkoms en scenario te kry.”

MARIETTA THEUNISSEN, Heldersiende van Bloubergstrand en aanbieder van die vyf kykNET- seisoene van die reeks Die ander kant (2004 tot 2010)

Marietta Theunissen. Foto: Martin de Kock
Marietta Theunissen. Foto: Martin de Kock

“Die mensdom is besig om die planeet te vernietig, maar met die wêreldwye inperkingsmaatreëls het die natuur- en dierelewe reeds tekens van herstel begin toon. Dié herstelproses sal oor die volgende paar maande voortgesit word. Nog mense gaan oor die volgende vier maande hul werk verloor. Dié wat hul werk behou, moet dankbaar daarvoor wees.

“Maar mense moet weet jy kan nie die werklikheid rondom jou verander nie; jy kan wel jou ingesteldheid daaroor verander.

“Ek sien daar kom op globale vlak baie gebed. Dit sal ’n aksie van glo en bid wees. Dan sal mense ook meer besef ons is nooit alleen nie: Ons word altyd met die goddelike energie omring.

“Die virus sal wel nooit volkome uitgewis word nie. Almal gaan dit in die een of ander stadium in die komende paar jare kry.

“Van middel Augustus tot die einde van September gaan die wêreldenergie baie gewelddadig wees. Mense gaan in dié tyd in opstand kom teen regerings en instansies.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe