Don Steenkamp, 'n voormalige leerder aan die spogskool Grey-kollege in Bloemfontein, het ses jaar gelede op Goeie Vrydag sy gesin op hul plaas naby Griekwastad uitgewis.

Huisgenoot het gaan uitvind hoe dit nou met hom gaan.

Steenkamp stoei steeds om sy matriek klaar te maak terwyl hy ’n effektiewe vonnis van 20 jaar vir die moord van sy gesin en die verkragting van sy jonger suster, vandag ses jaar gelede op Goeie Vrydag, moet uitdien.

'Dit gaan goed'

Sy poging om teen sy vonnis te appelleer en die polisie se ondersoek te heropen, is nog nie afgehandel nie. Dit blyk ook nie 'n vinnige proses te wees nie.  

“Dit is maar ’n frustrerende besigheid,” het Bennie Heckroodt, ’n jare lange familievriend van die Steenkamps, kort voor die sesde herdenking van die grumoorde, aan Huisgenoot oor die appèl gesê.

Don Steenkamp op 27 November 2013 in die hof, Kimberley. Foto: Gallo Images/Getty Images

Soos met Don se 21ste verjaardag op 15 Augustus 2017 het Bennie weer volgehou dit “gaan goed met Don onder die omstandighede”.

Bennie vertel die voormalige leerder aan die spogskool Grey-kollege, wat sy dae in ’n enkelsel in dié gevangenis slyp en steeds probeer om sy matrieksertifikaat te behaal, het vanjaar van vakke verander.

“Hy het maar gestoei met die wiskunde en wetenskap, hy het dit nou met aardrykskunde en toerisme vervang,” vertel Bennie oor Don, wat nie soos sy klasmaats drie jaar gelede, kon matrikuleer nie.

“Don ontvang afstandonderrig van Orania,” het hy onthul.

'Hy is as 'n monster geskilder'

Riaan Bode van Engelsman Magabane Prokureurs in Kimberley, Don se opdraggewende prokureur het aan Huisgenoot gesê Don bly positief.

“Ek het al baie tyd met hom gespandeer en hy was nog altyd positief. Hy is iemand wat sy omstandighede nog altyd goed hanteer het.”

Riaan is nog duidelik ontevrede met hoe sy kliënt tydens sy verhoor in die media uitgebeeld is.

“Dit is nie waar dat Don sonder enige emosie was nie, ook nie op die dag van die moorde nie. Hy het groot dele van die nag en die volgende oggend gehuil. Hy is in die media net as ’n monster geskilder.

“Die media en die teenwoordigheid van die media het ’n geweldige impak op Don gehad. Ek onthou hoe ek letterlik oor kabels moes trap. Wanneer Don onder na die selle gestap het, het dit geklink soos masjiengewere soos die fotograwe hom afneem. Jy kan dit nie van ’n kind verwag nie.”

Riaan glo die saak het Don “baie volwasse” gemaak.

“Daardie skade wat hom aangedoen is was geweldig. Daar is geen emosionele beskerming aan hom gebied nie.”

Riaan vertel daar is ’n ondersteuningsnetwerk van mense wat Don gereeld oor naweke in die tronk gaan besoek en bystaan.

Hy sê daar is “nog baie werk” voordat hulle appèlhof toe kan gaan en het aan Huisgenoot onthul hy doen dit vir die liefde van die saak.

“Ons weet wanneer ons die dag hof toe gaan, gaan ons net die één kans hê (om sy onskuld te bewys).”

Die moorde

Skokgolwe is Paasnaweek 2012 deur die land gestuur nadat drie lede van die gesiene Afrikaanse Steenkamp-gesin van Griekwastad, toe nog ’n betreklik-onbekende boeregemeenskap in die Noord-Kaap, afgemaai is.

Aanvanklik is aangevoer dis ’n beweerde plaasaanval waartydens drie van die gesinslede een na die ander eers wreed met .357 Magnum-rewolwer en toe met ’n .22-geweer, doodgeskiet is.

Die megaboer, Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christel (43) en hul dogter, Marthella (14) se lyke is op die plaas Naauwhoek in ’n bloedbad aangetref nadat die egpaar se seun, Don (toe 15) vroegaand van Goeie Vrydag 6 April by die plaaslike polisiekantoor in hardloop en skree: “Julle moet kom! Hulle is geskiet! Almal is dood!”

Meer as vier maande later is Don op 21 Augustus 2012 by sy skool in hegtenis geneem.

Verhoor en vonnis

Don se moordverhoor het einde 2013 begin en op 27 Maart 2014 het die regterpresident, regter Frans Kgomo, in die Noord-Kaapse hooggeregshof in Kimberley hom op vyf aanklagte van moord, verkragting en regsverydeling skuldig bevind.

Hy is in Augustus daardie selfde jaar gevonnis.

Die regter het hom by die staat geskaar dat die enigste logiese gevolgtrekking oor hoekom Don sou beplan het om die driedubbele moorde te pleeg, was omdat hy nie wou hê die waarheid oor sy verkragting van Marthella, sy bloedsuster, moes uitkom nie.