Klein Danny Ackerman (6) van Vanderbijlpark in die Vaaldriehoek se bokaak is op ses plekke gebreek en hy moes sewe titaanplate tydens ’n drie uur lange operasie ontvang, maar hy is weer sy “stoute” self.

Danie Ackerman, Danny se pa, vertel sy seun is Sondag uit die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto, Johannesburg, ontslaan nadat hy Vrydag hier geopereer is.

“Die mannetjie is weer by die huis. Hy is nog kwaai geswel, maar lyk goed. Hy eet mooi en is weer so stout soos voorheen,” het die verligte Danie (34) Woensdag vertel.

Die ongeluk

Danny is beseer toe ’n swaar betonwasbak van sowat 300 kg op Saterdag 27 April op sy gesig en bors te lande kom. Sy pa en jonger boetie, Logan (3), was buite die kombuis agter hul nuwe huis toe die ongeluk gebeur.

Die gesin se hond het die oggend 'n swart sak oopgeskeur en die seuntjies was besig om hul pa te help om die vullis op te ruim.

Danie het gesien Danny se aandag word afgelei en dat hy by die wasbak speel. Die pa het die wasbak nooit voorheen as 'n gevaar beskou nie, juis omdat dit oënskynlik “stabiel” was.

Maar toe hy omkyk, sien hy hoe Danny daaraan hang en hoe die massiewe struktuur op hom neerkom. Dit het hom teen die grond vasgepen.

Danie het in die adrenalienbelaaide oomblik vir sy vrou, Lorraine (25), in die huis geskree en sy kind bevry. Hy het toe met hom na die naaste kliniek gejaag. Van daar af was hy in twee staatshospitale voor hy eindelik na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal oorgeplaas is om meer omvangryke toetse te laat doen oor wat die skade behels en die dokters kon opereer.

Hoërskool Driehoek

Later is vasgestel Danny is nie so erg beseer soos die ouerpaar gevrees het nie. Danie vertel hy was daar die dag nadat 'n loopbrug van beton op Vrydag 1 Februarie by die Hoërskool Driehoek op kinders ineengestort het.

Vier leerlinge is in dié fratsongeluk dood en meer as 20 leerlinge erg beseer.

Vir Hein Knoetze is dit steeds ondenkbaar dat vier
Vir Hein Knoetze is dit steeds ondenkbaar dat vier jong lewens geëis is op dié toneel op die skoolterrein waar ’n loopbrug ineengestort het. Foto: Papi Morake

Hy het toe eerstehands gesien sy kind kon in die voorval dood gewees het. Hy vermoed die wasbak het nagenoeg 300 kg geweeg.

“Ons is verlig dat Danny oukei is. Dink net aan wat kon gebeur het. Ek was self by die Driehoek-ongeluk betrek en was daar toe die betonstruktuur van die kinders gelig is. Party kinders was meer as 83 dae in rehabilitasie. Dit is absoluut amazing dat Danny net agt dae in die hospitaal was.”

Hy troos homself daaraan dat sy kind op die oomblik toe dit gebeur het bitter seer gekry en pyn ervaar het, maar die dokters het verduidelik die manier waarop Danny die breuke aan sy gesig opgedoen het, het daartoe gelei dat hy nie die volle agt dae gely het nie.

“Ek wil graag ouers waarsku om paraat te wees oor die ‘wapens’ in en om hul huis. Ons het as ouers baie waardevolle lesse geleer.”