Ander kere weer sal hy vir sy ma, Carin (39), sê: “Boetie moet nog bietjie hier bly by ons.”

Dis vir hom baie erg dat sy boetie, wat saam met hom in gr. R is by Laerskool Voorwaarts in Vereeniging, nie soos hy kan rondhardloop, balskop of krieket kan speel nie.

Op 1 Januarie 2016 het hy gekla sy been pyn. Vyf dae later is ’n baie aggressiewe kanker by hom gediagnoseer. Hy stry nou al vier jaar daarteen en chemoterapie het nog nie gehelp nie, wat beteken die kanker is nog nie in remissie nie.

Jayvan is drie maande gegee om te lewe. Dis nou al 46 maande later en sy tiende beenoperasie lê voor.

Blake Janse van Rensburg (3) en sy siek tweelingboetie, Jayvan, by die huis voor hulle heel eerste skooldag. Foto: Facebook

Binne die volgende paar weke sal Carin moet besluit of die gedeelte met kanker uit sy been weggesny moet word en die been dan verkort gaan word, en of hy ’n amputasie moet kry van die boudbeen af. Dit beteken hy sal nooit ’n prostese kan dra nie.

Die afgelope twee jaar druk die medies haar om die amputasie te laat doen. Die medies het hul kant gebring op die chemopad, gee sy toe.

“Vir ’n sesjarige sal dit baie moeilik wees om met een been oor die weg te moet kom,” vertel Carin hartseer oor die foon vanuit Vereeniging.

As enkelma is sy moedeloos, maar sy sal enigiets doen om haar siek seun se lewe te red.

“Met baie gebed word ek hierdeur gedra. Ek is ’n mammie en het nie ’n keuse as om sterk te bly nie. Ek het twee weke gelede my kar verkoop en is nou bereid om my huis te verkoop. Dis al wat ek het,” vertel Carin.

Jayvan se been na die operasie. Foto: Facebook

Verkorting kos baie geld en die been sal weer moet aangroei en nuwe bloedvloei verseker, anders word die been in elk geval verwerp. ’n Beter, maar duurder opsie, is die sogenaamde xfix, waar hulle plate en skroewe aan die buitekant van die been heg. Dit kan tot ’n halfmiljoen rand kos.

Erger nog is om dit sonder ’n man en pa in jou lewe deur te maak.

Haar man, Anton Janse van Rensburg (52), is presies vyf weke voor Jayvan siek geword het, doodgeskiet tydens ’n huisroof in Drie Riviere in Vereeniging.

“Dit was helder oordag,” onthou Carin en haar stem kraak.

“Hulle het my twaalfjarige seun, Enrico, flenters geslaan. Hy was alleen saam met die huishulp binne die huis toe ons daar aankom. Sy het Enrico hoor skree: ‘Mamma kom gou!’”

“Die inbrekers het op die vlug geslaan en ’n jaagtog het ontstaan waarin Anton noodlottig gewond is.”

Dokters meen die laaste operasie op 11 Januarie is al hoop dat Jayvan se regterbeen gered kan word. Foto: Facebook

“Dis maar my lewe. Wat kan ek sê? Dit klink erg, maar ek is eintlik bly hy is dood, want hy sou dit nie gemaak het met sy seun wat so swaarkry en ly nie,” sê Carin.

Albei operasies sal in die Pretoria-omgewing gedoen kan word. As daar weer soos met ’n vorige operasie ’n virus of kiem opduik sal hulle soos laas agt weke of meer in die hospitaal deurbring.

“Ek vra aan elkeen wat ’n ouer, wat sal jy doen as dit jou kind was? Amputeer?”