Elken Mynhardt se beentjie is Dinsdag net bo sy enkel geamputeer in die Medi Clinic-hospitaal in Polokwane. Elken is sonder ’n kuitbeen (fibula) in sy regterbeen gebore en het dus ook geen enkel gehad nie. “Dit was die beste keuse vir hom om te amputeer,” sê sy ma, Sumé Potgieter.

Elken Mynhardt se beentjie is net bo sy enkel geamputeer. Foto: Verskaf

Sumé sê Elken sou jaarliks ’n operasie moes ondergaan om sy been weer reguit te maak en dokters sou ’n nuwe enkel vir hom moes bou. Daar was egter net ’n 10% kans dat hulle vir hom ’n nuwe enkel sou kon bou. “Hy sou baie operasies moes hê. Ons wou dit eers nie aanvaar nie, maar die dokter het aanbeveel ons amputeer,” vertel sy.

Elken se been is Dinsdag geamputeer, maar volgens sy ma glimlag en woel die mannetjie reeds rond. “Ons is vandag (Donderdag) ontslaan en is baie opgewonde om huis toe te gaan. Elken rol rond en giggel, so dit gaan goed met hom,” sê sy. 

Elken gaan oor twee weke vir sy eerste afspraak om ’n prostese te laat maak. “Ons wou dié so vroeg moontlik doen. Nou kan hy leer kruip en loop met sy prostese. Kinders pas vinnig aan, so ons glo dit sal goed gaan met hom,” sê sy.

Sy ma sê hulle hoop dat hul seuntjie ’n normale lewe moontlik kan lei en eendag sirkels om hulle sal hardloop. 

Charl, Sumé en Elken. Foto: Verskaf

“Dit was ’n enorme skok met geboorte en ons het gesukkel om dit te verwerk, maar nou kyk ek en sy pa, Charl, net vorentoe”.