Jayvan Janse van Rensburg
Hy bly moedig, al het die Gautengse kankerlyertjie Jayvan Janse van Rensburg nóg ’n terugslag beleef. Foto: Facebook/Support Jayvan Janse van Rensburg

Haar moedige seun se jongste terugslag het haar hartgebroke, verslae en heeltemal raadop gelaat, sê die ma van ’n sewejarige kankerlyertjie wat al meer as vyf jaar lank ’n dapper stryd teen aggressiewe beenkanker voer.

Jayvan Janse van Rensburg, die jong vegtertjie van Vereeniging in Gauteng, wat harte landwyd aangegryp het sedert dié kanker in 2016 by hom gediagnoseer is, sal moontlik binnekort sy sestigste operasie moet ondergaan – hierdie keer nadat ’n plaat in sy been gebreek het.

Die kankerlyertjie se verpletterende diagnose het gevolg net ’n jaar nadat Jayvan se pa, Anton, in Drie Riviere in dié voorstad doodgeskiet is.

Vir sy ma, Carin, is Jayvan – of Pokkelpensie soos sy hom liefderik noem – se voortslepende kankerstryd soos ’n nagmerrie sonder ’n slothoofstuk, sê sy. Want net toe dit wou lyk of daar eindelik hoop is op herstel, het die soveelste terugslag haar weer opnuut verpletter.

Jayvan Janse van Rensburg
Dit breek haar hart om haar kind so in ’n hospitaalbed te moet sien lê, vertel Carin. Foto: Facebook/Support Jayvan Janse van Rensburg

“My mammahart is gedaan, stukkend en moeg,” skryf Carin op Jayvan se ondersteuningsblad op Facebook, Support Jayvan Janse van Rensburg. “Ek is moedeloos, kwaad en hartseer – alles tegelyk.” 

Weens die aggressiewe kanker in Jayvan se regterbeen is die grootste deel van die femur oor die laaste paar jaar verwyder. Teen 2019 het net ’n klein gedeelte van die femur oorgebly – bykans 2,7 cm aan die bokant en net minder as 4 cm naby die knie. 

Die sewejarige moes ’n hele klomp operasies ondergaan om ’n plaat met skroewe aan die been te heg in ’n poging om die femur se boonste en onderste gedeeltes weer te heg, maar met min sukses.

Dis juis dié plaat, wat ná ’n pynlike operasie hoop op herstel gebring het, wat nou “morsaf gebreek” het.

Jayvan Janse van Rensburg
Skanderings van die plaat aan Jayvan se been, waarmee dokters poog om die femur weer te laat groei, wys die swak groei aan die been. Foto: Facebook/Support Jayvan Janse van Rensburg

“Wat nou?” wou die bekommerde ma op Facebook hoor. “Daar is nie ’n been bo by die heup om penne in te sit nie en daar is nie ’n skag in die been om ’n pen in te sit nie. Ek het al alles gedoen . . . van tibia- tot fibula-inplantings, daar was plate op plate, skroewe en bone grafting – en 21 spesialiste. Ek het selfs chirurgie laat doen.” 

Hierdie keer het dokters drie opsies gegee: Jayvan kan sy sestigste operasie ondergaan waar dokters weer ’n plaat sal insit in die hoop dat sy been sal heg, sy kan peperduur mediese prosedures in die buiteland probeer, of sy moet ’n amputasie oorweeg.

Hierdie vrae en onsekerhede ry haar, sê Carin.

“Hoe red ek my Pokkels? Ek hardloop uit opsies uit,” skryf sy. “Help my, asseblief, Here – ek smeek om ingryping.” 

Jayvan Janse van Rensburg
Jayvan glimlag graag – selfs al ervaar hy baie pyn. Foto: Facebook/Support Jayvan Janse van Rensburg

Ná Jayvan se jongste ingrypende operasie in Mei verlede jaar, waar dokters weer ’n plaat aan sy been geheg het, het Carin aan Huisgenoot gesê dis waarskynlik ’n laaste poging om Jayvan se been te red.

Maar nou, ná die jongste terugslag, sê sy ernstig: ’n Amputasie is nié net haar besluit nie, maar ook dié van haar seun.

“Pokkels wil weer probeer [met die operasie],” laat Carin Vrydag op Facebook hoor. “Hy het gesê: ‘Mamma, asseblief, ek wil my beentjie hê. Mamma, dokter sal hom kan regmaak.'” 

Dit het haar opnuut laat besluit om nóg ’n operasie te probeer, vertel Carin. “Ek het met bitter baie dokters, spesialiste en onkoloë gepraat oor die laaste paar dae, en ons gaan voort om Pokkels se been te probeer red,” skryf sy.

Jayvan Janse van Rensburg
Ma Carin sê al breek haar hart, tel sy haarself elke dag op om haar kind te ondersteun. Foto: Facebook/Support Jayvan Janse van Rensburg

“Daar was genoeg nuwe been wat wel gegroei het in die verlede om dit nog ’n probeerslag te gee. Ons vervang die plaat en skroewe en moet weer bone grafting doen waar die been nie gegroei het nie. Dan gaan ons met alles binne ons glo en lewe spreek.” 

Sy weet baie verskil van haar, sê Carin, maar sy het ál die opsies nugter oorweeg. Buitendien sal so 'n amputasie ’n ingrypende impak op Jayvan se lewe hê – die been sal tot teen die boud geamputeer moet word en hy sal waarskynlik nooit ’n prostese kan dra nie.

“Ek weet baie mense stel die amputasie voor – ek het dit self oorweeg – maar ná al my konsultasies het ons nou finaal besluit. Ek vertrou in ons Vader en gaan net aanhou glo.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe