Die ma met die van Wu het verlede jaar met die hulp van kunsmatige bevrugting swanger geraak en haar seun het op 25 Februarie by die Chang Gung-gedenkhospitaal in Taiwan se hoofstad, Taipei, deur ’n natuurlike geboorte sy opwagting gemaak. 

Wu het onthul haar seun, wat by geboorte ’n gesonde 2,93 kg geweeg het, verjaar op dieselfde dag as haar dogter wat nou 36 is. 

Die vrou se dokter, Steven Shaw, is aangehaal dat hy so ’n hoërisiko-swangerskap afraai, maar Wu en haar man was vasbeslote hulle wou nog ’n kind hê. 

Die baba is op 25 Februarie vanjaar gebore.

Shaw het verduidelik die risiko’s wat met ’n swangerskap op ’n hoër ouderdom verbind word, is onder meer pre-eklampsie, swangerskapsdiabetes, swangerskapshipertensie, chromosoomafwykings en wanposisie. 

Wu het op 29 weke ’n skok gekry toe skanderings toon die fetus is nie reg geposisioneer nie en sy het ’n laagliggende plasenta, wat ernstige bloeding voor of tydens kraam kan veroorsaak. 

Sy het gehoor sy sal dalk ’n keisersnee moet hê, maar Wu beweer sy het die gesondheidsprobleme reggestel deur elke dag 25 minute lank oefening te doen. 

Haar man was vasbeslote dat hulle nog 'n kind wou hê. Foto: Magazine Features

Wu se verwagte kraamdatum was 27 Februarie, maar haar water het twee dae vroeër gebreek, sê Shaw.

Hy voeg by die natuurlike geboorte het net 66 minute geduur.  

Oor haar herstel ná die swangerskap, sê Wu: “Ek erken ek is dalk nie nou in die beste toestand ter wêreld nie, maar ek het selfvertroue.” 

Shaw sê Wu se geval ewenaar Taiwan se rekord vir swangerskap op ’n hoë ouderdom. Nog ’n 62-jarige vrou het vyf jaar gelede deur middel van ’n keisersnee ’n tweeling gehad.