Sewe van die verdagtes is Vrydagaand in minder as ’n halfuur deur die polisie se taakmag doodgeskiet nadat uitgevind is waar hullle wegkruip.

Daarna is 10 verdagtes in hegtenis geneem. Hulle het in die die Mancoba Seven Angels-kerk in die Nyanga-gemeenskap geskuil.

'n Lid van die taakmag is tydens die voorval in die been gewond.

Fikile Mbalula, die minister van polisie, het hom ten sterkste teen die kerk uitgespreek.

“Kom ek vertel julle wat ons daar gevind het. Daar is nie ’n kerk nie, daar is satanisme. Hulle bid nie vir iets nie, hulle is onder hipnose.”

Hy het ook gesê die taakmag het nie ’n instruksie ontvang om dood te skiet nie, maar “hulle het ooreenkomstig opgetree” toe die verdagtes hulle bestorm het.

Phumulo Masualle, die Oos-Kaapse premier, het die taakmag geloof vir hul optrede.

“Ons is ook dankbaar vir die arrestasies wat gemaak is.

"Ons versoek die publiek, sonder wie dié deurbraak nie moontlik sou wees nie, om na vore te kom met inligting sodat die res wat nog voortvlugtig is, in hegtenis geneem kan word.”

Die slagoffers

Drie polisiebeamptes is Woensdag by die Ngcobo-polisiestasie wat tussen Mthatha en Queenstown geleë is, doodgeskiet terwyl hulle aan diens was.

Die lyke van twee polisiebeamptes is langs die pad naby Nyanga-hoërskool gevind.

Die slagoffers was ao. Zuko Mbini (45), konst. Zuku Ntsheku (38), konst. Nkosiphendule Pongco (32), konst. Sibongiseni Sodlana (32)32 en konst. Kuhle Metete (27). 

Freddy Mpandeni (58), ’n afgetrede soldaat, was die sesde slagoffer. 

Die verdagtes het 10 vuurwapens gesteel en met ’n gekaapte polisievoertuig die hasepad gekies. Die voertuig is later in ’n sloot ’n paar kilometer van die polisiestasie gevind.

Die kerk

Die kerk self is glo self baie kontroversieël en die polisie moes in Februarie 2016 die gebou met mag binnegaan om 18 kinders te verwyder. Die kinders is na bewering verbied om skool toe te gaan.

Daar is ook beweer dat die ouer gemeentelende verbied word om met mense buite die kerk kontak te hê of vir hulle te werk.

Tydens die polisieoptrede Saterdagoggend is daar weer glo 40 kinders uit die kerk verwyder.


Ontstoke lede van die gemeente het na bewering ook nou genoeg van die kerk gehad.

Só kan jy kriminele/kriminele aktiwiteite aanmeld

Jy kan dit anoniem op een van drie maniere doen:

  • Crime Stop se wenkelyn: 08600 10111
  • Crime Line SMS (R1 per SMS): 32211
  • Aanlyn: crimeline.co.za

Bronne: sandton24.com, saps.gov.za, heraldlive.co.za