Jay Crouch herstel nou tuis nadat hy twee niere, ’n pankreas, lewer en dunderm tydens ’n operasie van 10 uur in die Birmingham-kinderhospitaal in Brittanje ontvang het.

Jay het aan komplikasies gely sedert hy net ses weke oud was en die toestand kortdermsindroom is by hom gediagnoseer. Dit het beteken hy sou nie kon eet en kos verteer nie. Tot nou. 

Hy is binneaars gevoed sedert hy ’n baba was nadat dokters vasgestel het sy dunderm is gedraai en veroorsaak komplikasies met sy niere en ander lewensorgane. 

Sedertdien het die seuntjie voortdurend behandeling ondergaan, maar die bykomende stremming op sy liggaam het sy organe laat ingee, wat ’n oorplanting nodig gemaak het, berig Leicester Mercury.

Die operasie in Maart was die eerste van sy soort wat in 20 jaar in die hospitaal uitgevoer is en die eerste op rekord wat vyf organe in een operasie behels. 

’n Span van 12, onder meer narkotiseurs, twee chirurge, vyf verpleegsters en drie junior dokters, en verskeie ander mediese personeel was by sy sorg betrokke.

Sy ma, Katie Freestone (28), het aan The Guardian gesê hulle is almal verstom oor die ongelooflike vordering wat Jay in so ’n kort tyd gemaak het. 

“Ek het nie genoeg woorde om vir die skenker en hul gesin dankie te sê nie en ons is verheug dat Jay die kans gekry het. Ons is ook ongelooflik bewus van die hartseer en tragedie wat ’n ander gesin moes verduur om dit moontlik te maak,” sê sy.

Jay herstel glo goed en is uit die hospitaal ontslaan. 

Hy word nou deur ’n nasogastriese buis gevoed, ondersteun deur mondelingse voeding, op die pad na volle herstel in die komende jare. 

Jay sê hy is dankbaar vir almal wat by sy herstel betrokke was. 

“Ek wil vir my ma dankie sê dat sy na my kyk en my ouma en oupa, wat elke dag vir my sê ek raak beter.”

Bronne: The Guardian, Leicester Mercury, BBC