Agt Soedanese familielede se lyke is in die Libiese woestyn gevind nadat hul voertuig onklaar geraak en hulle van honger en dors gesterf het.
Hulle motor het glo al ses maande gelede hier onklaar geraak.
Nog 13 mense van die familie word vermis.
Volgens die plaaslike media het 21 mense in die Toyota Sequoia gereis toe dit in ’n deel van die woestyn 400 km suidwes van die Libiese oasestad Kufra onklaar geraak het.
Die lyke van vyf mans en drie vroue is by die motor gevind, en die oorblywende passasiers, wat glo kinders insluit, is vermoedelik in die woestyn vermis.
’n Ondersoek deur die Libiese polisie het tot die gevolgtrekking gekom dat die gesin die stad Al-Fashir in Soedan in Augustus verlede jaar verlaat het en glo na Kufra, ’n deurgangspunt op een van die migreerroetes na die Libiese kus, op pad was.
Die voertuig is vroeg verlede week gevind, ongeveer ses maande ná die groep se vertrek, met ’n handgeskrewe briefie wat deur een van die familielede met die naam Muzna Saifuddin Hasan geskryf is.
’n Deel van haar aangrypende brief, waarin sy blykbaar bewus is van haar naderende lot, lui: “Vergewe my, my moeder, dat ek jou nie bereik het nie.”
Die ondersoek na die voorval duur voort. Die soektog na die vermiste 13 familielede gaan ook steeds voort.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET