He Youyi (90) het eerste gereageer toe die 19 maande oue kleuter se stootwaentjie van sy ouma af wegrol en in die dorpie Hejiaoqiao in die distrik Santai in suidwestelike Cihna se Sichuan-provinsie in die water beland.

Beeldmateriaal wat ’n ooggetuie net ná die redding geneem het, toon hoe die seun op droë grond gebring word terwyl ander mense die sopnat bejaarde bystaan.

Die 90-jarige man. Foto: Magazine Features

“Ek was baie bang,” sê die seun se ouma, met die van Yue. “Ek het gehuil en om hulp geskree.”

Sy kan nie swem nie en kon maar net toekyk hoe die stootwaentjie in die rivier omkeer. Dit water was nie baie diep nie, maar steeds genoeg vir haar kleinseun om in te verdrink.

Ander mense het die bejaarde bystaan. Foto: Magazine Features

Gelukkig het He Youyi met sy klere aan in die water gespring, die kleuter opgetel en hom oorhandig aan mense wat nader gehardloop het om te help.

Die held, wat self ’n oupa is, het agterna stil huis toe gestap om droë klere te gaan aantrek.

“Ek was net daarop ingestel om ’n lewe te red,” het hy later gesê. “Dit sou nie ’n verskil gemaak het as ek verdrink het nie, maar die kind moes leef.”

Die man se seun, He Chengshi, sê: “Ek het aan hom gevra: ‘Jy is so swak jy kan nie eens behoorlik loop nie. Waar het jy die moed gekry om in die rivier te spring?’”

Beeldmateriaal wat ’n ooggetuie net ná die redding geneem het. Foto: Magazine Features

“Indien nie ek nie, wie dan?” het die ou man geantwoord.

Die seun se gesin het hul bejaarde held besoek om hom vir sy dapperheid te bedank.

Dis sosialemediagebruiker HiMsCOCO het die Chinese internet se gedagtes opgesom deur te sê: “Lank lewe die ou man!”