Skaars drie maande terug nog was dit maar hittete vir oom Willie, wat in ’n woonstel by die aftreeoord Ebenhaezer in Pretoria woon.

Hy het einde Mei siek begin voel.

“Toe ek getoets word, was ek positief en het vir omtrent drie dae in my huis gebly, maar toe stort ek die een aand ineen. Gelukkig kon ek hulp ontbied,” onthou hy.

Hy is in die ouetehuis se siekeboeg behandel. Die volgende twee weke het dit so moeilik gegaan dat hy permanent suurstof moes ontvang.

“Hulle het baie mooi na my gekyk. Dit is ’n vreeslike siekte dié. ’n Mens is nie werklik kort van asem nie, maar jy is so tam, want al haal jy asem is daar nie suurstof in jou bloed nie,” vertel hy.

Hy sê daardie dae wat hy in die siekte se greep was, voel steeds soos een groot warwoel.

“ ’n Mens weet nie waar jy is nie. Jou gedagtes loop in die verlede rond . . . Dit is moeilik,” sê die voormalige bankbestuurder.

Foto: Verskaf
Die eerste keer in twee weke wat hy kon eet na hy covid-19 opgedoen het.

Hy sê dié virus was erger as toe hy 12 jaar gelede ’n pasaangeër moes kry. Hy het ook ná hy herstel het van die virus verskeie kere geval.

“ ’n Mens se lyf is maar swak daarna. As ons mense bo 80 val, kan dit soms die einde van die storie wees, maar genadiglik het ek nie een enkele been gebreek al het ek geval nie,” sê hy.

Hoewel hy ná twee weke uit die siekeboeg ontslaan is, was dit nog ’n lang pad na herstel. Hy het eers verlede maand begin om weer soos sy ou self te voel en nie meer so lam en tam nie.

Hy glo nie daar’s ’n wenresep vir ’n man om 94 te word nie.

“Ek dink dit word maar meestal aan die noodlot oorgelaat,” sê hy en lag.

 Hy sê tog dink hy sy gesonde leefstyl hét bygedra en hy probeer om nou nog besig te bly.

“Ek het baie lank gholf gespeel en geniet dit nou nog om skaak te speel. Ek speel skaak sommer op die rekenaar . . . en ek eet baie vrugte,” sê hy.

Foto: Verskaf
Van links: Raymond, Dries, Willem en hulle pa, Willie.
Foto: Verskaf
Willie en sy vrou, Takkie by seen van sy seuns Willem se troue met Corrine.

Hy geniet dit om digkuns te lees en te ontleed. “Maar ek het nou opgehou om dit op die rekenaar te skryf, want ek het nie ’n drukker nie. Ek skryf nou my eie gedigte met pen, maar ek weet nie of enige een behalwe ék dit kan lees nie,” sê hy en lag weer.

Marie Botha, een van sy skoondogters, sê haar skoonpa ken byna al die gedigte in sy Groot Verseboek uit sy kop uit. “Hy self skryf die wonderlikste stukke en is nog baie aktief en helder. Hy stap graag saam met ons om die blok en by die oord vat hy nooit die hysbak nie, hy klim altyd die trappe. Voor covid-19 het hy ook self al sy inkopies gedoen,” sê sy. 

Oom Willie se vrou, Takkie, is verlede jaar ná ’n lang siekbed oorlede. “My vrou is 20 jaar gelede gediagnoseer met Alzheimer-siekte en vir seker 19 jaar kon sy nie onthou wie mense was nie. Dit het aan my gevat, maar ek is vandag dankbaar dat ek leef,” sê hy.

Hy het dié gedig in 2015 vir sy vrou geskryf: 

By Die Bed van n Grootmoeder.

Die rooi appelwangetjies het bleek geword

Maar het die jare reeds

Hier en daar n donker merk gemaak

Bly jy steeds diep verlore, onaangeraak

Versonke in stille eensaamheid

Van alles om jou afgeskeid.

Maar tog as ek tot jou diepste sinne deur kan dring

Jy het nou n Grootmoeder geword

Miskien nie deur jou eie bloed

Maar eerder as n geskenk van liefde oor jy uitgestort

Gegewe uit die hand van God.

Oom Willie het drie seuns, agt kleinkinders en twee agterkleinkinders.

Hy kuier nou vir ’n ruk by een van sy seuns se gesin in Nelspruit.

“Ek beplan om later vanjaar so teen Desember by my ander seun in die Kaap te gaan kuier indien my gesondheid goed is. Op my ouderdom weet ’n mens nooit helemal wat wag nie,” sê hy.

Foto: Verskaf
Willie Botha (94)

En is hy dan nie bang vir doodgaan nie?

Hy lag. “Nee wat, dit is die laaste ding waaraan ek dink,” skerts hy.