Erns Grundling
Erns Grundling

Ek kuier nie genoeg langs ’n binnebraai saam metaktuarisse en advokate om te weet waaroor hulle spog wanneer almal ’n paar drankies sterk is nie. Maar as daar wel iets is waaroor ons joernaliste soms langs ’n Weber wedywer, is dit oor wie al die vreemdste storiegeskryf het.

En as jy ooit by Huisgenoot jou brood verdien het, is jy by so ’n braaivleisvuur outomaties in die binnebaan. 

Gewoonlik wag ek geduldig dat almal hul saak stel. Dan troef ek die hele braai met ’n storie uit my Huisgenoot-dae (ek het 64 uitgawes daar gewerk) wat nooit die tydskrif gehaal het nie. Ek was nog altyd lief vir ongewone, selfs absurde stories.

As kind het die Huisgenoot-artikel oor die wolfkinders van Mexiko my baie meer geboei as Karel Poskabouter se sober staaltjies. Dalk is hierdie belangstelling deel van my DNS.

Ek moet dit nog behoorlik gaan navors, maar ek het vermoedelik sirkusbloed. Die hoër takke van my ma se stamboom – haar nooiensvan was Rens – het glo Europese sirkusbase gehuisves. Die Romeinse digter Terence het geskryf: “Ek is menslik, en niks van dit wat menslik is, is vir my vreemd nie.”

Maar ek sou graag wou sien hoe Terence sou reageer as hy dieselfde SMS ontvang het as die een wat een Sondagmiddag in November 2007 by my ingerol het: “My vrou se tannie se buurvrou borsvoed haar kat. Wil jy ’n storie doen?”

Kyk, om ’n Huisgenoot-joernalis so iets te vra is soos om by iemand wat al ses Lotto-nommers (en die bonusnommer) reg geraai het te wil weet: “Het jy die geld gevat?”

’n Week later is ek dapper in die werk se Tazz op die N4 in Marikana (dit was ’n paar jaar voor Marikana ’n nasionale wond geword het) se rigting op pad.

Saam met my in die motor is ’n Huisgenoot-fotograaf, Ritamarie Potgieter. Want sien, ons opdrag was duidelik en ondubbelsinnig: Kry die storie en kom met foto’s terug. Sonder ’n foto was daarnie ’n manier dat die storie Huisgenoot sou haal nie.

Die wolfkinders van Mexiko sou destyds nie naastenby dieselfde impak gehad het as dit nie vir die foto’s van die jongseuns met hul wollerige gesiggies was nie. En so ook met die vrou en haar, laat ons maar sê, ongewone verhouding met haar kat.

Maar ek en Ritamarie het geweet vir ’n foto gaan ons harde bene moet kou. Toe ek bel om die afspraak te bevestig, het die vrou se dogter my juis oor die telefoon toegesnou: “Julle kom slaan nie my ma se naam met ’n plank nie, hoor!”

Verskeie verrassings wag ons in by die klein huisie naby ’n myn in die platinum gordel.

Eerstens: Die vrou, Alta*, is heelwat ouer as wat ek verwag het. Sy is 57 jaar oud en het byna ’n dosyn kleinkinders. En weens ’n ernstige knieprobleem is sy op krukke.

Sy ontvang ons vriendelik en is van meet af aan ’n groot geselser. Ons praat eers oor haar liefde vir diere in die algemeen: rotte, honde, katte, verkleurmannetjies en selfs ’n luislang. Nog voor ek my derde sluk Fanta kan neem, maak Kieta*, ’n tamaai swart kat met groot geel oë, sy verskyning in die sitkamer.

Nou ja, ’n mens moet so ’n bietjie diep asemhaal voor jy die storie aanhoor (en wees gewaarsku: Sensitiewe lesers moet dalk by die volgende paar paragrawe verbyhou), maar dinge het soos volg verloop:

Alta vertel Kieta was 10 jaar tevore ’n babakat en ’n verjaardaggeskenk van haar man.

“Toe kruip hy by my in. In die nag word ek wakker en voel iets vreeslik snaaks. En toe ek my nagrok so wegvat, is hy besig om te drink. Ek was toe 46 jaar oud. My dokter wou die stuipe kry en sê ek is ’n frieskoei. Dis glo my sterk moederinstink wat dit veroorsaak.”

Die hele tyd terwyl sy gesels, kan ek nie ophou dink hoe vreemd die verhaal is wat hier voor ons afspeel nie. En selfs nog vreemder: hoe gelate Alta dit vertel en dit oënskynlik as normale gedrag beskou.

“Hy is te vroeg van sy ma geskei. Hy het soos ’n kind gedrink,” gaan sy voort. “Hy het net onder my T-hemp ingekruip.” 

Soms op stories gebeur iets wat my dadelik laat dink aan die ontslape joernalis Hunter S. Thompson se woorde: “When the going gets weird, the weird turn pro.”

Haar man het glo gedink die hele storie is heel oulik,maar nie almal was ewe mal hieroor nie. Sy vertel een van haar man se drinkebroers het een aand van die storie uitgevind en uitgeroep: “Sy is ’n heks! Sy is ’n heks!”

Die volgende vyf jaar het sy en Kieta hul ongewone reëling voortgesit. Kieta het gedy. “Hierdie kat was so vet soos ’n speenvark. Hy het 9 kg geweeg; jy kon hom nie optel en dra nie.”

’n Ruk later is sy en Kieta vir ’n tyd van mekaar geskei toe sy in die buiteland was. Alta het toe ophou melk produseer.

“Die dokter het gesê op my ouderdom kan ek borskanker kry as ek hom weer laat drink. So van toe af sal hy net met sy kop kom, twee suigies en ’n lek gee en dan is hy klaar.”

Terwyl ons gesels, sit en hou Kieta, toe reeds 10 jaar oud, ons taamlik belangeloos dop, soos dit ’n kat betaam. Alta vertel benewens moedersmelk is sy groot ander liefdes chilli bites en ertjies.

Sy vertel ook sy sal ná Kieta nooit weer ’n kat kry nie. “Ek glo nie ek sal weer vir ’n kat so lief kan wees soos ek daai kat smaak nie.”

Toe is dit tyd om die foto te neem. Alta wil niks weet nie. Sy stop ons net ’n foto in die hand van Kieta saam met haar man en hoop ons sal daarmee tevrede wees. Maar Ritamarie het ’n plan.

“Ek dink Erns moet ’n sigaret gaan rook,” sê sy en beduie ek moet uit. Ek rook nooit, maar daardie dag trek ek met oorgawe aan ’n blou Peter Stuyvesant. Ek het dit nodig. 

Ter illustrasie.
Ter illustrasie.

Toe ek terugstap in die huis, hoor ek Ritamarie se kamera in die slaapkamer klik. In die verbystap loer ek gou by die deur in; ek kan my nuuskierigheid nie bedwing nie.

Kom ons sê net ek het na dese verstaan wat lady Macbeth bedoel het met: “What’s done cannot be undone.” Kort daarna val ons in die pad.

Aanvanklik is ek opgewonde; ek dink dit gaan een van die vreemdste stories nog in Huisgenoot wees. Maar daar is ook ’n toenemende gevoel van ongemak. Moet ’n mens nie soms iemand teen hulself beskerm nie?

Eindelik is dit vir my ’n verligting (en ’n verrassing) toe die foto’s Huisgenoot se hoofredaksielede so skok dat die storie dadelik van die nuuslys verdwyn.

Daar is grense wat Huisgenoot nie kan of wil oorsteek nie. Byna ’n dekade later voel ek steeds baie ambivalent oor die hele gedoente.

Ek het weer na die diktafoon-onderhoud geluister en wonder of daar ’n dieper storie was wat my parate self van 2007, wat allerhande scoops nagejaag en waarskynlik baie minder bewustelik geleef het, dalk misgekyk het.

Ek kon toe, nes nou, nie die basiese vraag en een van die hoekstene van die joernalistiek beantwoord nie: Hoekom? Alta het nie gelyk na iemand wat deur die een of ander spesifieke trauma of hartseer geknou is nie. Was dit dalk misplaaste moederinstink?

Ek onthou sy het baie liefderik met Kieta gesels, soos ’n mens met ’n klein baba sou doen. Maar baie mense doen dit tog sonder dat hulle so ver soos sy gaan?

Soveel vrae . . .

Ek wag steeds om langs ’n braaivleisvuur by ’n ander joernalis ’n storie te hoor wat myne gaan klop. Kieta is waarskynlik nou al geruime tyd saliger. My blywende indruk van die ou kat is teen die einde toe ons groet.

“Hy’s doodmoeg,” het Alta tevrede gesê. “Nou kan hy mos in vrede gaan lê.” Soos ’n kat wat room gekry het. 

*Skuilnaam. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe