Om vir Huisgenoot te werk is om knaend met die lewe op sy rouste gekonfronteer te word. Soms raak jy hartseer en huil oor dinge waaroor jy nooit gedink het jy sou nie.

Die verskille tussen mense word ook vir jou ál minder belangrik: Vandag kan jy ’n onderhoud met iemand in ’n plakkerskamp voer; môre kan jy by ’n skemerkelkie rondstaan saam met sepiesterre, ’n Idolswenner en drie gewese Mejj. SA.

Jy verleer ook om te lag waarvoor ander mense lag, en ontdek die lewe soos dit werklik is: soms mooi, soms skrikwekkend, soms verdrietig, soms net doodeenvoudig vreemd.

Een oggend ry ek en die fotograaf Nardus Nel uit Johannesburg weg, in die rigting van die Vaaldriehoek, om ’n artikel te gaan doen.

Ek kyk na die fabrieke en die rook in die verte en vra hardop wat ek altyd vra wanneer ons soontoe gaan vir ’n storie: “Is daar lewe ná die Vaaldriehoek?”

En soos altyd antwoord Nardus: “Nee, daar is nie.”

Die artikel wat ons moet gaan doen, maak ons nie juis lus om uitbundig ja te skree vir die lewe nie. Dit gaan oor ’n pa, ’n goeie Afrikanergesinsman, wat daarop aangedring het dat die kêrel wat met sy dogter wil trou hom eers ’n vark moet gee. ’n Soort Christelik-Nasionale lobola, dus.

Ons sukkel om die pa se huis te kry. Die aanstaande skoonseun – en die vark – gaan ook daar wees sodat Huisgenoot hierdie intieme oorhandiging in die volk se bewussyn kan verewig.

Natuurlik kan ek nie begin lag, na die varkie wys en iets sê soos ‘jissie, julle is darem lekker mal in hierdie huis’ nie.

Dis op die kleinhoewes – die plotte – iewers tussen Vereeniging, De Deur en die maan. Ek het die aanwysings nie korrek neergeskryf nie en dit is voor die tyd van tik-’n-adres-by-’n-GPS-in-en-ry-reguit-soontoe.

Op die ou end, nadat ’n tante met ’n klomp keffende worshondjies op een van die plotte ons met aanwysings gehelp het, kry ons die regte plot. En toe die elektriese hekke voor ons oopskuif, sê Nardus verlig: “Gelukkig sal ons hulle nie eers Pep toe hoef te vat nie.”

In daardie jare was daar ’n reël, ’n reël wat mnr. Niel Hammann, die destydse redakteur, gemaak het: Geen foto van vuil mense met verslete klere mag in Huisgenoot verskyn nie. Kom jy by sulke mense, moet jy hulle na ’n winkel neem sodat hulle vir hulle ordentlike klere kan koop voor die foto’s geneem word.

Maar dis ook nie sommer net van na enige winkel of ’n boetiek toe gaan nie; dis mnr. Hammann, en daar is ’n begroting om aan te dink. Besparing, altyd besparing. Dus: Pep.

Ons hou voor die huis stil, en opeens is Nardus weer sy opgewekte, hardwerkende self – die Vaaldriehoekblues vergete. Hoeveel keer het ek hom nie sy geesdrif beny nie.

Voor die huis wag hulle ons in: die pa, die ma, die dogter en die jong man wat met die dogter wil trou, met ’n klein varkie in die arms. Die bruidskat, wat lyk of dit kort tevore nog iewers in modder rondgerol het.

Die hele tyd terwyl ek die onderhoud in die sitkamer voer, sit die jong man met die vuil varkie op sy skoot. Natuurlik kan ek nie begin lag, na die varkie wys en iets sê soos “jissie, julle is darem lekker mal in hierdie huis” nie.

Met byna gewyde erns vra ek vrae soos: “Nou hoekom het u besluit u wil ’n vark in ruil vir u dogter hê, Meneer? Beplan u om die vark die een of ander tyd te eet, Meneer?”

Om vir Huisgenoot te werk is om knaend met die lewe op sy rouste gekonfronteer te word.

’n Huisgenoot-joernalis leer gou die grens tussen komedie en tragedie bestaan soms nie; lag en huil is eintlik bloedfamilie.

Die ma was ure lank in kraam toe die dogter gebore is. Daar was komplikasies en sy en die dogter is amper dood. En toe die pa eindelik, ná al die gebede en vertwyfeling, die dogtertjie in sy arms kan vashou, toe sê hy: “Die man wat eendag met haar wil trou, moet my ’n vark gee.”

Hoekom dit sy wens was, weet die man nie. Maar hy het dit nie vergeet nie, en nou sit sy aanstaande skoonseun hier by hom in die sitkamer met ’n varkie op sy skoot.

En toe is dit tyd om die foto’s te neem – maklike foto’s vir ’n ou hand soos Nardus. Skoonseun en vark. Skoonseun wat vark vir pa gee. Skoonseun en dogter met vark. Pa, ma, dogter en skoonseun met vark – ’n stralende familie en ’n moddervuil, gelukkige varkie.

Minder as ’n uur later ry ons terug Johannesburg toe, net betyds om ’n paar sterk doppe te gaan drink in die ou Sunninghill-hotel – of Die Geel Hotel, soos ons dit genoem het.

Dit was voor die tyd van digitale kameras. Nardus moes die film met die varkfoto’s daarop eers laat ontwikkel en daarna het hy dit per lugvrag gestuur na Kaapstad, waar Huisgenoot se hoofkantoor is en die tydskrif elke week tydskrif gemaak word. Dit kon my nie veel tyd gekos het om daardie storie te skryf en ook Kaap toe te stuur nie.

Twee dae later lui my telefoon. Dis mnr. Hammann, uit die Kaap.

Geen foto van vuil mense met verslete klere mag in Huisgenoot verskyn nie.

Mnr. Hammann het jou baie min direk gebel. As hy vir jou iets wou sê, het hy die destydse Johannesburgse redakteur, Franz Kemp, gebel en dit vir hom gesê, en dan het Franz dit weer vir jou kom sê.

As mnr. Hammann jou self gebel het, het jy geweet daar is moeilikheid.

“Wat gaan aan met hierdie foto’s?” wil hy weet voor ek nog ordentlik kan groet. “Watter foto’s, Meneer?” vra ek.

“Dié wat jy en Nardus van die mense met die vark geneem het.”

“Is iets fout met hulle, Meneer?”

Moes ons die mense nie tog Pep toe geneem het vir nuwe klere nie? flits dit deur my gedagtes.

“Daar is fout, ja,” sê mnr. Hammann. “Die vark is vuil.”

Dana Snyman is ’n bekroonde skrywer wat onder meer
Dana Snyman is ’n bekroonde skrywer wat onder meer in sy loopbaan by Huisgenoot en Weg! gewerk het. Hy was ook vroeër ’n misdaadverslaggewer by Beeld.

“Ek dink hy was voor die tyd ’n bietjie in die modder, Meneer.”

“Hoekom het julle hom nie gewas nie?”

Ek wil nog probeer verduidelik varke hou van modder en is dikwels vuil, maar toe kom die opdrag: “Julle ry soontoe en gaan neem daai foto’s oor. Ek gaan nie ’n dekselse vuil vark in my boek sit nie.”

Ek was nie daardie tyd vir mnr. Hammann daaroor kwaad nie, nou nog minder.

Hy het iets verstaan en geweet van mense en varke en respek en ordentlikheid wat ons nie geweet het nie.

Die volgende dag vat ek en Nardus toe maar weer die pad in die Vaaldriehoek se koers.

Ek kyk na die fabrieke en die rook in die verte en vra maar weer die ou vraag: “Is daar lewe ná die Vaaldriehoek?”

Maar hierdie keer lag Nardus en antwoord: “Dalk.”