Want die bruid hier onder kom voor as ’n beheervraat van formaat. Sy het ’n stel bepalings en voorwaardes aan haar gaste gestuur wat niemand ooit sal kan vergeet nie, al wil hulle ook.

Die voorwaardes om haar huwelik by te woon is so vergesog, jy kan wonder of dit nie ’n poets of fopnuus is nie.

Aan die ander kant is daar deesdae ál meer voornemende bruide wat weet hoe om die lewe uit die “mooiste dag van hul lewe” te suig met hul spesiale versoeke.

Soos die Amerikaanse bruid wat onlangs haar trougaste gedreig het: “Betaal R45 000 of bly tuis!” Sy was woedend toe net sewe uit die 150 genooides haar uitnodiging aanvaar het. Klits ons om met ’n donsveer!

Maar wag, terwyl die afkoopboete vir haar sogenaamde vriendskap jou nog laat stik, is dit tyd om die bridezilla van alle bridezillas se reëls te deel.

Dis op Twitter gedeel, en nou gons die klomp weer.

Sy wil eers weet of die uitverkore genooide alleen of met ’n metgesel kom. Dis te verstane wanneer daar aan sitplek en koste per kop gedink word. Maar dan kom die verpletterende lysie van 10 moets en moenies, en bitter min word aan die gaste se vrye denke oorgelaat.

Eerstens moet hulle seker wees hulle daag betyds op, minstens 15 minute tot ’n halfuur voor die tyd. Niemand mag wit, room of ivoorkleurige klere aantrek nie. Reg, die bruid gaan in alle waarskynlikheid in daardie kleurskema rondparadeer, maar dit laat ’n paar vraagtekens opduik oor wat mag volg.

Of dit nou by jou gesigvorm of voorkeur pas of nie, jy sál jou hare in ’n poniestert of in ’n basiese bobhaarstyl na die groot geleentheid dra. O, ja, moenie met ’n vol gegrimeerde gesig opdaag nie. Dis egter nie duidelik of dieselfde reëls vir mans geld nie.

Moenie enige opnames tydens die “ceramony” (sic) maak nie, en wag op ’n instruksie voor enigiets op Facebook gedeel word. Maar jy mag net ’n sekere trefwoord gebruik wanneer jy wel iets oor die geleentheid met jou vriende deel nadat jy toestemming daarvoor gegun word.

Maar die volgende reël bepaal dat elke siel teenwoordig wel met Rémy-sjampanje die heildronk sal instel. Net toe jy dink jy mag dit dalk nog aanvaar, slaan reël no. 10 toe: Toegang sal slegs verskaf word aan diegene wat met ’n trougeskenk van $75 of meer opdaag.

’n Paar liederlike spelfoute in die uitnodiging laat jou hoop hierdie is weliswaar net fopnuus. 

Vir die meeste sosialemediagebruikers is die doodskoot reël no. 8: Moet glad nie met die bruid praat nie.

Daar is wel een grapmaker wat bereid is om in die geskenk te belê om die troue by te woon, maar dit is bloot net uit nuuskierigheid om al die drama te sien ontvou.

Bridezilla se gebooi op Twitter.

Maar wat kan wel van gaste verwag word by ’n troue?

Daar is ’n eindelose getal reëls, oftewel etiket, wat geld vir troues. Hier is bloot net ’n paar wat gewoonlik die duwweltjies op die bruidspaar se nuwe pad kan strooi.

  • Maak in die eerste plek seker jy is tog na die troue genooi. Indien wel, doen die regte ding en bevestig jou bywoning tydig.
  • As jou uitnodiging met jou naam daarop nie daardie "+1" bevat nie, is dit duidelik: Moenie iemand saamsleep nie.
  • Is wit jou gunstelingkleur? Jy het 364 ander dae van die jaar om dit te dra, maar verkieslik nie op iemand anders se troudag nie.
  • Pak ’n stewige skeutjie respek vir die paartjie in en begin dit deur betyds op te daag vir die seremonie. Gillende helder kleure en skel oordadigheid wat die aandag van die bruidspaar gaan laat dwaal, is allesbehalwe respekvol.
  • ’n Bietjie dors? Stadig met die drankies, want ’n tranerige, rondvallende gas is net ’n groot verleentheid vir die bruidspaartjie en hul ander gaste.
  • As daar ’n sitplan in werking is, hou daarby ten minste tot al die formaliteite afgehandel is en die partytjie begin.
  • Wat van foto’s deel aanlyn? Net soos met daardie wit uitrusting die geval is, is dit ook ’n geval waar dit die bruid en bruidegom se dag is. Gun hulle die geleentheid om eerste foto’s te deel.

Bronne: dailymail.co.uk, thisisinsider.com, marieclaire.co.uk, marthastewardweddings.com