Sosialemediagebruikers kan nie uitgepraat raak oor foto’s van dié ongenooide gas wat volgens een man ná die afgelope naweek se swaar reën koers gekies het tot in ’n klein visdammetjie in sy erf nie.

Grant Tyler, ’n inwoner van The Reeds, het foto’s van dié krokodil op Facebook gedeel en inwoners van die voorstad raad gevra vir die sogenaamde ongewone verskynsel. Sy inskrywing lui: “Ek het ’n krokodil gevind in my dam in The Reeds na vandag se kitsvloede. Enige raad?”

En die foto’s is genoeg om enigeen ’n floute te gee: ’n gedierte met listige oë wat lyk of hy soek na sy volgende prooi . . . 

En die reaksies? Dié van pure skok – en natuurlik humor.

“Nes jy dink jy het álles gesien,” het Ari Gillmer opgemerk. Antoinette Fasen wou weet: “Volstruise, koeie, krokodille – wat gaan aan? Ons word ’n plaasdorp!”

Die glibberige ‘krokodil’ gluur vir die fotograaf. Foto: Grant Tyler
Die kamtige krokodil in die koidam. Foto: Grant Tyler

Die grapmakers het gou van hulle laat hoor . . . Soos Roelien Fraser, ook ’n inwoner van Centurion, voorstel: “Gebruik hom vir veiligheid!”

Maar dié krokodil byt nie, sê Grant. Hoofsaaklik omdat die gedierte van veselglas gemaak is – en die hele gedoente eintlik maar net ’n grap was.

“Die swaar reën oor die laaste paar weke het daartoe gelei dat my koidam gekraak het. Ek moes dus al die water uit tap en die dam van voor af bou. Ag, en toe die dammetjie oor die naweek met die kitsvloede vol reën, toe dog ek ek gaan bietjie pret daarmee hê,” vertel hy.

Grant, wat sagteware ontwikkel, vertel hy het eers toestemming by een van die adminbestuurders van die Facebookblad People Who Live in Centurion verkry voordat hy die foto’s van die kamtige krokodil daar geplaas het.

Die
Die kamtige krokodil in die koidam. Foto: Grant Tyler

“Daar was ’n paar skeptiese mense wat dié toneel bekyk het en gewonder hoe dit moontlik is . . . Dan was daar snaakse opmerkings van gebruikers, soos een wat gevra het sy soek ’n handsoek en skoene. Maar baie was geskok – hulle kon dit nie glo nie.

“Die krokodil lyk nogal baie oortuigend, veral daar in die bruin water. Ons het lekker vir die petalje gelag.”

Grant vertel sy dogter, Kim Tyler, het selfs in ’n stadium die grap nóg verder gevat.

“Sy het op die plasing gaan kommentaar lewer en gesê: ‘Pa, dis my troeteldier. Ek sal hom die naweek kom haal wanneer ek huis toe kom’. Toe sê ek vir haar: ‘Jong dame, jy weet jy mag nie troeteldiere hê nie – jy is in groot moeilikheid!’. Dit was baie snaaks.”

Grant sê dis lekker dat inwoners nog kan saam lag.

“Ag, jong, dis lekker om te sien alles is nie nét sleg en ernstig nie. Dis goed om van tyd tot tyd ook sommer net laf te wees.”