Die twee golden retrievers – die spelerige jong Maverick en die bejaarde Charlie – is dierbaar. 

Hulle knip saam ’n uiltjie, speel toutrek met hul speelgoed, steek tydens motorritte hul kop by die venster uit en lê saam weg aan hul kos. 

Maar die twee is eintlik meer as net beste vriende, want die 11-jarige Charlie is blind en Maverick is op net vier maande as’t ware sy oë. 

‘Dit is wonderlik om te sien hoe hulle speel, want Charlie verander in ’n babahondjie’

Nes enige goeie gidshond help Maverick sy gesiggestremde vriend om oor die weg te kom in ’n wêreld wat vir Charlie donker geword het. Hy lei hom selfs op wandelings aan ’n leiband rond. 

Maar anders as ander gidshonde is Maverick nie vir sy liefdestaak opgelei nie; hy het sommer spontaan begin om sy veel ouer maat deur die lewe te help. 

Maverick tree as gidshond op wanneer hulle gaan st
Maverick tree as gidshond op wanneer hulle gaan stap. Foto: Facebok/@weratedogs

Die verhaal van ’n blinde hond met sy eie gidshond het in die sosiale media sterre van die twee gemaak. 

Toe hul Amerikaanse mensema, Chelsea Stipe, ’n Instagramblad vir hulle begin, het hulle binne ’n enkele dag ’n volle 20 000 aanhangers gekry, en dit het nou al tot 124 000 gegroei. 

“Die reaksie het ons oorweldig,” sê sy. “Ons is verheug dat die twee honde almal so gelukkig maak.” 

Chelsea en haar man, Adam, van Noord-Carolina het besluit om nog ’n hond te kry toe hul seun, Asher, einde verlede jaar gebore is. 

Hulle wou hê hul kind moet saam met ’n hond grootword en Charlie was toe al lank in die tand. 

Maar die twee is eintlik meer as net beste vriende, want die 11-jarige Charlie is blind en Maverick is op net vier maande as’t ware sy oë.

Hulle het Maverick op 1 Januarie in hul huis verwelkom en gou besef die hondjie is meer as net ’n skattige, donsige bolletjie. 

Kort voor lank het hy besef iets skort met Charlie, wat weens die oogtoestand gloukoom blind geword het. 

“Wanneer hulle gespeel het, het Maverick agtergekom Charlie verloor soms die speelding,” het Chelsea aan die Today Show op NBC gesê. 

“Dan het Maverick dit opgetel en voor hom neergesit om hom weer aan die speel te kry.” 

Later het Maverick Charlie op wandelings begin saamsleep, vertel hul nooi. “Hulle verander byna in sleehondjies wanneer hulle so saam stap.” 

Maverick is altyd gereed om Charlie se speelding
Maverick is altyd gereed om Charlie se speelding vir hom te bring wanneer hy dit verloor. Foto: Instagram/@charlieandmav

Charlie was agt toe gloukoom, ’n toestand wat die optiese senuwee beskadig, by hom gediagnoseer is en sy linkeroog verwyder moes word. 

In die volgende jaar het hy begin sukkel om met die regteroog te sien en baie pyn verduur. 

Chelsea en Adam het toe besluit om dié oog ook te laat verwyder. Hulle het dit nooit eens oorweeg om hom te laat uitsit nie. 

“Ons moes basies ons aftreegeld gebruik om vir sy operasies te betaal, maar dit was ’n maklike besluit,” sê Chelsea. 

Sy verduidelik: “Charlie maak ons gelukkig.” Die hond het taamlik goed daarby aangepas om blind te wees.

Snoete by die motorvenster uit.
Snoete by die motorvenster uit. Foto: Facebook/@weratedogs

Vir sy huismense lyk dit of sy reuksin nog skerper geword het. “Hy kan enige krummeltjie uitsnuffel,” sê Chelsea. 

Hy was steeds die dierbare hond wat hulle geken het wat hom deur niks van stryk laat bring nie. 

Tog het dit ’n rukkie geduur voor hy die nuwe vierpotige gesinslid verwelkom het. Maar nou het die ou hond nuwe lewe gekry. 

“Dit is wonderlik om te sien hoe Maverick en Charlie speel, want Charlie verander in ’n babahondjie,” het Chelsea aan Today gesê. 

Die twee het aanlyn roem verwerf toe hul nooi foto’s van hulle op WeRateDogs deel. 

’n Sagte sitplek vir Maverick.
’n Sagte sitplek vir Maverick. Foto: Instagram/@charlieandmav

Op dié Twitterblad verskyn foto’s van honde van oor die hele wêreld waaraan hul 7,9 miljoen volgelinge punte uit 10 toeken. 

’n Mens sou reken dat Maverick en Charlie se hartroerende verhaal maklik volpunte kon kry, maar dit het alle verwagtings oortref en ’n verstommende 14 uit 10 gehaal. 

Dit het ’n wegholtreffer aanlyn geword wat rekords laat spat het toe dit 2 700 kommentare ontlok, 70 000 keer hertwiet is en binne ’n paar dae 300 000 “likes” gekry het. 

Chelsea en Adam Stipe saam met hul baba, Asher, w
Chelsea en Adam Stipe saam met hul baba, Asher, wat einde verlede jaar gebore is, en hul twee geliefde woefies.

“Dit was dol,” sê Chelsea oor haar honde wat soveel harte gesteel het. “Ek het dit regtig nie verwag nie.” 

Deesdae hou die twee se Instagramblad haar druk besig, maar danksy al hul kaperjolle het sy foto’s te kies en keur. 

Die twee het aanlyn roem verwerf toe hul nooi foto’s van hulle op WeRateDogs deel.

Op een knip Charlie ’n uiltjie terwyl Maverick se lyfie as sy kopkussing dien.

Maar die jong hondjie betaal hom in eie munt terug toe hy sy agterstewe op Charlie plant terwyl dié op die rusbank dut. 

“As ek daarop pas, sit ek daarop,” het Chelsea by die oulike foto geskryf.

Neffens mekaar lê jonk en oud in droomland
Neffens mekaar lê jonk en oud in droomland. Foto: Instagram/@charlieandmav

By nog ’n foto skerts sy dat al is Maverick ’n groot hulp vir Charlie hy die voorbarige brakkie ’n ding of twee wil leer. 

“Maverick is hier om Charlie te help om oor die weg te kom, en Charlie probeer nog vir Maverick maniere leer.” 

BRONNE: NBC PHILADELPHIA, FOX NEWS, NEWS.COM.AU, ABC NEWS, TODAY SHOW