Die Jordaniër Alia Fares lê doodstil terwyl ’n klomp slakke oor haar gesig en nek seil en ’n silwer slymspoor aan haar vel agterlaat. Dié brunet is ’n aanhanger van en dok groot geld op vir ’n slakgesigsbehandeling, die jongste skoonheidsneiging wat wêreldwyd ál gewilder raak.

Die Jordaniese skoonheidspa-eienaar Suheil Sweidan sê die taamlik ongewone gesigsbehandeling help die vel vernuwe.

“Die slak vervaardig kollageen,” beweer hy. “Terwyl die slak oor jou vel loop, eet dit die dooie vel op, maak jou porieë oop en laat die kollageen agter.”

Dié gesigbehandeling is die nuutste gesigbehandeli
Dié ongewone gesigsbehandeling is glo baie goed vir die vel. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die 35-jarige sakeman van Jordanië gebruik net spesiaal geteelde reuse-Afrikalandslakke in sy spa.

Hy erken die blote gedagte daaraan om dié gediertes oral op hul gesig te hê gee sommige kliënte die horries, maar nadat hulle dit een keer beproef het, “kom hulle vir ’n tweede sessie terug”.

Alia is ’n goeie voorbeeld, sê Suheil. Tydens haar eerste sessie het die 27-jarige so ongemaklik gevoel dat sy met alle mag wou uitloop, maar deesdae is sy ’n gereelde kliënt.

“Ek het vasgebyt en raak nou deesdae sommer aan die slaap, want dit was so ontspannend,” sê Alia.

“My gesig voel nou voller en het ’n besonderse gloed.”

Suheil Sweidan gebruik slegs reuse-Afrikaslakke by sy spa. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Suheil se skoonheidsalon in Jordanië is nie die eerste plek wat slakslymbehandelings bied nie. Ál meer skoonheidspa’s in Suid-Amerika, Suid-Asië en Oos-Europa gebruik slakekstrakte om velprobleme te behandel.

Al sê dokters en dermatoloë daar is geen wetenskaplike bewys wat bevestig dat slakslym voordelig is nie, glo Suheil dit verkwik die vel en verminder plooie. “Ek noem dit nie ’n ‘mediese’ behandeling nie,” sê hy uitdruklik.

“Dis ’n bykomende prosedure wat ’n mens kan laat doen.”

Maar hoe presies werk dié grillerige behandeling? Terwyl baie skoonheidsklinieke slakslym in verpakking vir kliënte aanbied, bied sommige spa’s ook direkte behandeling deur die “bron”.

Suheil was ’n slak onder water voor hy dit op ’n k
Suheil was ’n slak onder water voor hy dit op ’n kliënt se gesig plaas. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Eers was ’n skoonheidskundige die slakke onder lopende water af. Die glibberige weekdiere word dan op jou gesig geplaas en toegelaat om daar rond te kruie terwyl hulle slym afskei.

Behandelingstye wissel van spa tot spa, maar Suheil sê slakgesigsbehandelings by sy skoonheidsentrum duur gewoonlik een tot twee uur. Kliënte word aangeraai om hul mond toe te hou.

Die Clinical Salon in Tokio, Japan, bied ’n soortgelyke slymerige ervaring wat hulle die “celebrity escargot” noem.

Namate die slakke hul werk gedoen het, word hulle afgehaal, en dan gebruik ’n skoonheidsdeskundige die slym wat agtergebly het om die kliënt se gesig met ’n elektriese polsmasjientjie te masseer wat die gesigspiere stimuleer en verseker die slakslym dring die porieë binne.

Dit bied glo verligting vir inflammasie en bevog die vel. ’n Sessie kos sowat R3 800, maar volgens Taksaphan na Pohn, ’n student van Thailand, is dit ’n klein prys om te betaal.

Suheil was ’n slak onder water voor hy dit op ’n k
Hy sê dié ongewone gesigsbehandeling help om vel te vernuwe. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Taksaphan (22) sê die slym het die aknee wat sy weens eksamenstres gekry het, help opklaar.

“My gesig is fermer en sagter,” sê sy.

“Maar jy kry nie onmiddellik resultate nie; dit wys geleidelik.”

Spabehandelings met diere het die afgelope jare onder die soeklig gekom, maar Luc Champeyroux, eienaar van Chiang Mai’s Snail Spa in Thailand, sê die welstand van hul slakke is net so belangrik soos die gesondheid van hul kliënte.

Die slakslym stimuleer glo die vervaardiging van k
Die slakslym stimuleer glo die vervaardiging van kollageen. Foto: Gallo Images/ Getty Images

“Ons versorg die slakke asof hulle ons familie is, asof hulle ons babas is,” sê hy. Die Frans gebore sakeman besit 30 000 slakke. Die slakke word van Frankryk af ingevoer en lewe van wortels, kool en aalwyne wat van ’n organiese plaas af kom.

“Jy kan sien hulle is in ’n goeie toestand,” hou hy vol.

Slakekstrakte begin dalk nou gewild word, maar slakjel word al eeue lank gebruik, vertel die New Yorkse dr. Gregory Bays Brown, ’n plastiese chirurg en stigter van die velsorgreeks RéVive.

Alia Fares ondergaan gereeld slakgesigsbehandeling
Alia Fares ondergaan gereeld slakgesigsbehandelings by die skoonheidspa in Jordanië. Foto: Gallo Images/ Getty Images

“Baie samelewings, veral die antieke samelewings en meer onlangs die Franse, het lewende slakke as teenverouderingsmiddels ingespan,” vertel hy.

Die gesondheidsvoordele van slakke het weer in die 1980’s opspraak gemaak toe werkers op ’n Chileense slakplaas opgemerk het dat hul hande sagter is nadat hulle met die weekdiere gewerk het.

Snye en letsels aan hul hande het glo ook vinniger as gewoonlik genees. Dit is bekend dat die slym wat slakke agterlaat volop glikolsuur en elastien bevat.

Dit stimuleer glo die vervaardiging van kollageen, beskerm die vel teen snye en bakterieë en verwyder ook ongewenste dooie selle. Slakboerdery word nou ’n florerende bedryf namate ál meer mense bereid is om ’n geldjie vir slakslym op te dok.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

“Danksy die vraag in die kosmetiekbedryf het ons in net 10 maande ’n toename van 46% in slakslym gesien,” sê Simone Sampo, voorsitter van die nasionale vereniging van slakboere van Italië. Maar nie almal glo aan dié skoonheidsgier nie.

Die Amerikaanse plastiese chirurg Joel Studin is een van dié wat aandring op meer navorsing oor die gesondheidsvoordele van slakekstrakte. “Uit ’n bemarkingsoogpunt klink dit aangrypend,” sê hy.

“Maar daar is geen goeie studie wat toon dat dit werklik vir teenveroudering help nie.”

Tans is daar nog nie slakgesigsbehandelings in Suid-Afrika beskikbaar nie, maar jy kan wel slakjel of ’n slakmasker aanskaf. Die twee aktrises Katie Holmes en Drew Barrymore glo in dié skoonheidsprodukte.

Dalk moet jy dus maar twee keer dink voor jy van daardie slakke in jou tuin wil ontslae raak.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe