Sy het haar eetlus verloor, was gedurig moeg, diarree het haar begin teister en haar lyf het opgeblaas begin voel. 

Die middeljarige vrou, wat anoniem wil bly, het vasgebyt en aangehou om elke dag haar huishoudelike werk te doen. Maar mettertyd kon sy ook nie meer slaap nie. En eindelik kon sy selfs eenvoudige takies nie meer verrig nie.

Dit was 'n volle jaar nadat sy die simptome begin ervaar het toe die vrou oplaas na 'n dokter gegaan het. Sy diagnose was skokkend: pankreatiese adenokarsinoom, ’n aggressiewe vorm van kanker in die pankreas.

Wat dit selfs dodeliker maak, is dat dit tot in ’n gevorderde stadium asimptomaties is. 

Verskeie hospitale het die vrou elders verwys, want die gewas was reeds so groot soos 'n kat. Die risiko om dit te verwyder was te groot, moes sy elke keer hoor.

Sy was op die punt om tou op te gooi toe die Cleveland Clinic Abu Dhabi besluit het hulle kan haar help. Dit was net betyds om haar lewe te red. 

Dr. Naveed Ahmed
Dr. Naveed Ahmed. Foto: Cleveland Clinic Abu Dhabi/Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Dr. Naveed Ahmed, ’n chirurg by die kliniek se instituut vir spysverteringsiektes, sê in sy mediese verslag die vrou sou sonder behandeling binne drie maande dood gewees het. 

Ahmed, wat deel van die sorg- en teaterspan was, skryf: "Sy was baie swak toe sy by die hospitaal aangekom het. Haar maag het so geswel dat sy swanger gevoel het. Dis omdat die groot massa van die gewas aanhou groei het in die buik. Later was dit vasgegroei aan die groot vate wat bloed verskaf aan die buik, lewer en derms."

Volgens Ahmed was die grootte van die gewas ’n uitdaging, maar deur hul gewone tegniek aan te pas het hulle die reusekankermassa heeltemal verwyder, en die vate om die pankreas heropgebou. 

Die chirurgiese prosedure op Dinsdag 10 November was volkome suksesvol. Die pasiënt ondergaan nou chemoterapie. Medici monitor haar vordering en herstelproses deeglik.

In die hospitaalverslag vertel die pasiënt dat die hospitaal haar pad na herstel baie makliker gemaak.

"Almal was baie ondersteunend en het presies geweet wat om te doen om my beter te maak. Ek is baie bly en ek herstel baie goed," skryf sy.