Jaime Rolando Urbina Torres kon ongeag die streng inperkingreëls wat hy as burgemeester van Tantará juis moes help monitor en toepas blykbaar nie sy eie dors beteuel nie. Só gaan sak hy toe vir ‘n hele paar doppe by vriende van hom in.

Toe polisie wat ‘n aandklok- en tuisblyreëls wou toepas by die joligheid aankom, het die blykbaar aangeklamde Jaime in ‘n doodskis gaan lê en, masker oor die gesig, oë styf toe en lyf stokstyf, gemaak asof hy ‘n lyk is, ‘n COVID-19-slagoffer.

Van sy vriende het in laaikaste weggekruip.

Die wetstoepassers was glad nie beïndruk met sy optrede nie, en een het 'n foto van hom geneem, waarna die politikus uit die dood moes verrys om by die plaaslike polisiekantoor van sy gedrag rekenskap te gaan gee. Dis nie bekend waarom daar doodskiste was by die kuierplek waar hy vasgetrap is nie.

Maar inwoners van Tantará kla lankal dat hul burgemeester nie die pandemie ernstig opneem nie. Sedert die begin van die inperking daar in Maart, het hy glo nog net agt dae op die dorp deurgebring en ook nie openbare veiligheidsmaatreëls afgedwing of ‘n kwarantynskuiling vir COVID-19-positiewe mense laat bou nie.

Naas Brasilië is Peru die Suid-Amerikaanse land wat die ergste onder die pandemie ly. Teen 28 Mei is sowat 136 000 gevalle en 3 980 sterftes daar aangemeld.

Bronne: ndtv.com, news18.com, Facebook

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.