Die ikoniese Chanel-ontwerper, wat Dinsdag op die ouderdom van 85 gesterf het, sal onthou word vir sy silwerponiestert, donkerbril, sy voorkeur vir swart-en-wit uitrustings en daardie opvallende vingerlose handskoene.

En natuurlik sy liefde vir Choupette, wat oorspronklik aan die Franse model Baptiste Giabiconi (29) behoort het. Trouens, hy was so lief vir dié katkind van hom dat gerugte nou die ronde doen dat Choupette sy fortuin van naastenby $200 miljoen kan erf.

Baptiste, een van die gesigte van die modehuis Chanel, het destyds een van Karl se bediendes gevra om na Choupette om te sien terwyl hy twee weke lank uitstedig was.

"Met sy tuiskoms is daar vir hom gesê Choupette sal nie na hom terugkeer nie. Hy het ’n ander kat gekry wat vet geword het, en Choupette het die bekendste en rykste kat in die wêreld geword," het Karl in 2015 met sy wollerige vriendin gespog.

Volgens Karl haat Choupette kinders en ander diere.

"Sy is die middelpunt van die wêreld, soort van ’n Greta Garbo."

Geen wonder hy het haar drie name gegee nie: Choupette, mej. Choupette en dan natuurlik prinses Choupette.

Karl, oftewel keiser Karl soos hy in die media na verwys word, het Choupette as ’n "ryk meisie" en "erfgenaam" beskryf en verlede jaar geskimp dat sy die begunstigde van sy fabelagtige rykdom sal wees. Hy het gesê die rede daarvoor is dat Choupette se lewe moet voortgaan volgens die standaard waaraan sy gewoond is.

Etenstyd soos dit 'n prinses betaam. Foto: Instagr
Etenstyd soos dit 'n prinses betaam. Foto: Instagram (choupettesdiary)

"Choupette het ’n sterk persoonlikheid. Sy geniet middag- en aandete saam met my op die tafel, met haar eie kos. Sy raak nie aan my kos nie. Sy wil nie op die vloer eet nie.

“Sy slaap op ’n kussing en weet selfs hoe om ’n iPad te gebruik,” het hy in 2012 oor Choupette kwytgeraak.

Maar wat behels die lewe van die wêreld se rykste kat as die gerugte oor daardie enorme erflating wel die waarheid is?

Monster Choupette

Nee, dis nie omdat Choupette vitterig en vol nonsens is nie. Sy is ’n geldmagnaat danksy duisende wat sy met haar modelwerk verdien het teen ’n tempo van €3 miljoen binne twee jaar.

Boonop het sy haar eie produkreeks wat vanaf November 2014 met dié strokiesprent as handelsnaam verkoop word. Die luukse reeks wat T-hemde, handsakke en skoene insluit, is natuurlik deur die keiser self van stapel gestuur.

Een van die produkte uit Monster Chaupette se kler
Een van die produkte uit Monster Chaupette se klerereeks. Foto: Instagram (choupettesdiary)

‘Nie my Choupette nie’

Terwyl die geld ingerol het vir advertensies waarvan een vir ’n Duitse motorvervaardiger en die ander ’n Japannese skoonheidsproduk was, het Karl toegesien dat sy Choupette hoë standaarde handhaaf. Dit het beteken geen katkosadvertensies nie.

“Ek laat haar nie toe om kos en sulke goed te doen nie. Sy’s té gesofistikeerd daarvoor,” het hy in ’n onderhoud met The Cut gesê.

Onthou die silwerware, (s)kat

Wanneer Choupette "aansit" vir ete, is dit nie sommer net ’n bakkie wat nader gesleep word nie. Aikôna, net die beste silwer met ’n vernuftige reiskoffer van die Goyard-modehuis word ingespan om drie eksotiese geregte voor te sit, waar sy haarself ook al bevind.

En ja, daardie reiskoffer- en silwerkombinasie kan jou ’n hele paar duisend rand uit die sak jaag.

Choupette op reis met haar vernuftige reiskoffer u
Choupette op reis met haar vernuftige reiskoffer uit die huis van Goyard waarin haar silwer koshouers saamreis. Foto: Instagram (choupettesdiary)

Wat’s op die spyskaart?

Elke dag word vier verskillende geregte vir Choupette voorgesit. Alles moet vars gemaak wees anders teken Choupette glo stille protes aan deur vuil kyke uit te deel.

Een van die geregte is haar keuse van spesialis-droë kos, hoenderlewerpatee of krokette met kalkoen of ’n vissous. En natuurlik vars water . . .

Etenstyd bied altyd 'n keuse van vars disse. Foto:
Etenstyd bied altyd 'n keuse van vars disse. Foto: Instagram (choupettesdiary)

Wanneer haar privaat dokter, dr. Yola Horn, wat ook saam met haar en Karl gereis het, kom inloer om te sien hoe dit met haar gaan word Choupette ook op ’n teelepeltjie kaviaar of hoender in jellie met aspersies getrakteer.

Sjef Toyofumi Ozuru, vantevore van die gesogte Nobu-restaurant in Parys, is maar een van die uitgelese kosmagnate wat vir Choupette geregte berei het.

Vakansietyd is dit kattekruid en kaviaar.

Wys jou naels

As Choupette meer van ’n gewone kat was, sou Karl se huis waarskynlik duidelike krapmerke gehad het.

Maar danksy ’n weeklikse manikuur deur ’n dokter is daar geen teken van krapmerke op sy Zaha Hadid-sofa nie. Karl het Zaha as die grootste lewende argitek beskou en hulle het aan verskeie projekte saamgewerk.

Persoonlike versorgers

Benewens haar lyfwag, Sébastien Jondeau, het Choupette nie net een nie, maar twee persoonlike versorgers wat haar geselskap gehou het wanneer Karl nie tuis was nie. Hulle is Françoise en Marjory.

Hulle werk was om met haar te speel, haar hare te versorg, skoonheidsterapie vir haar oë toe te pas en haar te vermaak.

Hulle moes ook dagboek hou van Choupette se dag – wat sy alles aangevang het, wat sy geëet het en of sy moeg was en dalk ’n uiltjie of twee geknip het.

Bronne: thecut.com, instyle.com, smh.com.au, goyard.com, elle.com, gq-magazine.co.uk