Watter ander vark was immers al die inspirasie vir drie topverkoperboeke, ’n kalender, en ’n winkel gewy aan Estherprodukte – en binnekort ’n Hollywoodfliek oor haar reis na roem? G’n wonder sy heet “Esther the Wonder Pig” nie.

Esther was egter nie altyd groter as lewensgroot nie. Sy het maar 2 kg geweeg toe ’n Kanadese paartjie, Steve Jenkins en Derek Walter, haar in 2012 aangeneem het. Tóé was Esther die kleinste van die werpsel.

Maar Esther het begin groei en groei.

Binne drie jaar was Steve, ’n kulkunstenaar, en Derek, ’n eiendomsagent, se drieslaapkamerhuis te klein. Toe koop hulle ’n plaas in Cambellville, Ontario, en begin die Happily Ever Esther Farm Sanctuary – ’n paradys vir Esther én allerlei mishandelde diere.

“Ons doelwit is om ’n veilige, lewenslange tuiste aan al ons inwoners te bied en die publiek op te voed oor plaasdiere met behulp van toere, vrywilligersprogramme en gemeenskapswerk,” verduidelik die paartjie op hul webtuiste.

Vandag is daar dosyne ander diere ook op die plaas – skape, bokke, konyne, koeie, hoenders, hane, ’n eend, ’n perd, ’n donkie, die kat Wilma Ferrell, die kalkoen Cornelius . . . maar Esther, wat die paartjie se slaapkamer deel, is sekerlik die onbetwiste ster op die plaaswerf.

In 2018 het sy in die kollig beland danksy haar “biografiese boek” Happily Ever Esther.

Beskikbaar by Takealot.com
Beskikbaar by Takealot.com

“Een van die primêre boodskappe wat ons aan lesers van alle ouderdomme wou oordra, is dat familie in alle gedaantes en groottes kom,” het Steve destyds aan The Advocate gesê, ’n tydskrif wat op die LGBTI-gemeenskap fokus.

“Dis in die haak om anders te wees, want dis wat jou familie spesiaal maak.”

Dit was die begin van groter dinge. Die geïllustreerde kinderboek The True Adventures of Esther the Wonder Pig vertel die verhaal van ’n gay paartjie en hul troetelvark.

Beskikbaar by Takealot.com
Beskikbaar by Takealot.com

Dan is daar ook Esther the Wonder Pig: Changing the World One Pig at a Time.

Beskikbaar by Takealot.com
Beskikbaar by Takealot.com

Esther se halfmiljoen volgelinge op Instagram en 1,4 miljoen Facebook-aanhangers is dol oor die foto’s waarvoor sy alte graag poseer. In een stel foto’s is sy in ’n dierehospitaal weens ’n infeksie. Sy maak vriende met ander dierepasiënte en verorber kolwyntjies. ’n Ander video wys hoe sy tuis na strokiesprente op die kassie kyk.

Steve en Derek is toegewyde diereregteaktiviste, en Esther is die ster van hul veldtog teen die eet van diere­produkte.

“Ons hoop hierdie blad sal jou ’n oomblik laat dink oor wat jy eet, soos byvoorbeeld spek . . . Dalk oortuig dit jou om ’n vegetariese of veganistiese leefstyl te beproef,” skryf hulle op Facebook.

En dit werk. Internet-aanhangers van dwarsoor die wêreld vertel hoe hulle vegetaries of veganisties geraak het omdat Esther hul hart verower het.

Steve en Derek maan mense ook oor die verantwoordelikhede verbonde aan die grootmaak van ’n vark.

“Ons sal beslis nie enigeen aanraai om ’n vark soos Esther in hul huis te neem nie. Ons het ’n mikrovarkie verwag, maar toe kry ons Esther. Dis nie haar skuld nie. Sy verdien alles wat ons haar kan gee.”

En nou vir die silwerdoek . . . Die mense agter Esther se fliek, die Donners’ Company, was ook verantwoordelik vir Free Willy en Hotel for Dogs.

Sal haar varkpootjie-afdruk dalk binnekort op Hollywood se Walk of Fame verewig word?

BRONNE: MEDIUM.COM, INSTAGRAM, AMAZON.COM, FACEBOOK, DEADLINE.COM, ADVOCATE.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.