In die oprit na sy huis, waar hy jou wuifend en met ’n skuins glimlag inwag, lyk hy na ’n doodgewone man – een wat waarskynlik lank reeds “oupa” heet. Hy het ’n bril geskuif tot op die voorpunt van sy neus, diep plooie aan sy voorkop en ylerige witgrys hare.

Vir buitestanders is daar g’n rede om tot ander gevolgtrekkings te kom nie. Want hier buite sy huis in Edenvale, Gauteng, verklap Gill Rall niks. Of altans, hy verklap niks wat hom nié na net nog ’n doodgewone “ou omie” laat lyk nie . . .

Maar Gill (80) het ’n geheim. Een wat hom álles gekos het toe dit op die lappe kom . . .

“My naam is Spirit – die latekspop,” sê die bejaarde man. En binne-in die huis transformeer hy dan voor jou oë: Sy gemaklike jeans en gebreide trui verruil hy vir ’n latekskatpak. Sy skoene word uitgeskop vir hoë hakke van agt duim. Oor sy gesig trek hy ’n gesigmasker en dan ’n donker pruik. Dis dalk vreemd om te dink dat ’n man van 80 jaar agter dié alter ego – so reg uit die wêreld van fetisjisme – skuil. Maar dis nie vreemd vir Gill nie.

Die transformasie: Agter dié masker voel Gill veilig. Anders as hy is Spirit meer liefdevol en aanvaardend. Foto: Lubabalo Lesolle
Die transformasie: Agter dié masker voel Gill veil
Die transformasie: Agter dié masker voel Gill veilig. Anders as hy is Spirit meer liefdevol en aanvaardend. Foto: Lubabalo Lesolle
Die transformasie: Agter dié masker voel Gill veil
Die transformasie: Agter dié masker voel Gill veilig. Anders as hy is Spirit meer liefdevol en aanvaardend. Foto: Lubabalo Lesolle

“Wanneer ek hierdie masker opsit, my hare regkam en my leerhakskoene toeryg, is ek nie meer Gill nie. Haar naam is Spirit – ek word haar.

“Ek word iemand wat Gill nooit kon wees nie: ongebonde en sonder beperkings. Heeltemal vry.”

“Spirit loop anders as ek. Sy klink anders. Sy praat met haar hande; sy is mal oor partytjies. Gill . . . ag, hý hou van tuisbly.

Elke keer wanneer hy sy bejaarde en afgematte liggaam vir dié van ’n vrou “sonder ouderdom” verruil, vertel Gill, herinner dit hom aan die lirieke van Koos du Plessis se liedjie “Skielik is jy vry”: Niks om te verhaal nie; net die vrede bly; niks om te betaal nie – en skielik is jy vry . . .

Hy was al diep in sy 60’s toe sy fassinasie met lateks posgevat het. En nou, spog Gill, is hy Suid-Afrika se enigste egte latekspop – ’n verskynsel wyd bekend in lande soos Duitsland en Europa.

“Spirit loop anders as ek. Sy klink anders. Sy praat met haar hande; sy is mal oor partytjies. Gill . . . ag, hý hou van tuisbly. Spirit is meer ondersteunend; aanvaardend; liefdevol. En sy’t nie ’n skaam haar op haar kop nie,” sê Gill.

Dit verg mannemoed om ’n vrou te word

Spirit het hom sy huwelik gekos toe hy haar in 2005 “ontdek” het. En selfs sy verhouding met familie en vele vriende.

“Ek moes die hoogste prys betaal om haar te word. Mense sou vra: ‘Gaan dit oor seks? Soek jy na ’n man?’ Nee. Ek boots die vroulike liggaam na – maar ek is ’n heteroseksuele man. Ek voel veilig wanneer ek sy word.

“Verwag ek dat almal dit verstaan? Nee. Maar ek sê gereeld vir mense: Dit verg mannemoed om ’n vrou te word.”

Gill se huis lyk na dié van ’n modeontwerper: Binne lê verskillende materiale gestrooi, daar is patrone op die deurmekaar werktafel, en uitrustings in elke kleur en vorm hang die vertrekke vol. Ja, Suid-Afrika se enigste “regte, egte” latekspop maak al sy uitrustings self.

“Ek wil hê mense moet een ding weet: Dis nié seksueel nie. Maar ja, dis sénsueel. Jy voel goed in die materiaal. Jy kan word wie ook al jy wil,” verduidelik hy sigaret tussen die vingers.

Hy was ’n getroude man met twee volwasse kinders toe hy vroeg in 2005 afgekom het op ’n prent van ’n vrou in ’n stywe bloedrooi katpak van lateks, vertel Gill. Hy was 65 en het as dieselwerktuigkundige gewerk.

“Ek kon dit nie beskryf nie. Dit was die beeldskoonste ding wat ek nóg gesien het. Ek wou daardie vrou wees – met alles in my. Natuurlik was ek deurmekaar. Ek is nie gay nie; ek wou nie régtig ’n vrou wees nie. Maar ek wou haar naboots.”

Dis eers toe Gill oor sy fassinasie begin lees het dat hy besef het duisende ander mense wêreldwyd voel ook so. Hulle noem hulself “lewende poppe” en dra popagtige maskers terwyl hulle die vroulike liggaam naboots.

“Ek is in dieselfde jaar Amerika toe, maar my vrou het agtergebly. In New York het ek afgekom op ’n latekswinkel. Verwonderd en skaam het ek die uitrustings aangegaap. ’n Klein vroutjie het na my toe gekom en ek het die beeld van daardie vrou in die lateks vir haar verduidelik.

“Sy’t my na een hoek van die winkel gevat en gesê: ‘Trek uit!’ En toe ek wou keer en ’n aantrekhokkie vra, sê sy: ‘Ag, skat. Hier het ons al alles gesien – trek uit.’

“Ek het die mooiste latekspak en hakskoene aangepas . . . en ek het nog nooit so goed gevoel nie. Ek het net daar gesê: ‘Ek vat alles!’ “Dit was die eerste keer ooit dat ek in hakke was, maar ek het perfek geloop. Ek wou by die winkel uitloop as die vrou in wie ek verander het.”

Net daar het Spirit ontstaan. Soos Gill verduidelik: “Vriende sê altyd: ‘Gill, it doesn’t matter what happens to you, you always have spirit.’ ”

Dit neem Gill byna ’n uur om in Spirit te transfor
Dit neem Gill byna ’n uur om in Spirit te transformeer – dit sluit die hakke, hare en lateksuitrusting in. Foto verskaf

Daar in Amerika het hy talle byeenkomste vir latekspoppe bygewoon – geleenthede waar mense kuier terwyl hulle hul uitrustings vertoon. “Ek het almal daar ontmoet: polisiemanne, cowboys, sakemanne. Mans soos ek – mense met ’n alter ego, maar vir wie dit nie oor seks gaan nie. Dit het Gill se aggressie weggevat. Ek was rustiger, ’n aangenamer mens. Ek wou altyd so wees.”

Terug in Suid-Afrika kon hy Spirit nie groet nie.

“My vrou het agterkom iets gaan aan. Ek het self begin klere maak. In my kas was hakskoene en pruike. Maar ek wou Spirit nie laat gaan nie, ongeag die prys.

“My vrou het haarself in die kamer toegesluit terwyl ek Spirit was. Nes ander het sy gedink ek soek die aandag van mans – en dit het my my huwelik gekos. Dit was mý skuld.”

Die partytjies vir sadomasochisme en BDSM – waar Gill vrylik Spirit kon wees – was die laaste spyker in die doodskis.

“Ek wou Spirit nie wegsteek nie – maar sy kon haar ook nie aanvaar nie. Toe skei ons. My kinders en familie kon dit nie verstaan nie. Ons het vervreem geraak, en ek het álles verloor.”

‘Ek is al alles genoem’

Net Gill se dogter, saam met wie hy woon, het hom nie die rug toegekeer nie. Maar selfs sy, vertel hy, sien dit deur die vingers – en wil niks weet van Spirit nie. Maar om Spirit prys te gee, sê Gill, sou ’n veel duurder prys gewees het.

Hy het ná sy egskeiding in 2008 Amerika toe geëmigreer. Daar wou hy as werktuigkundige werk terwyl hy sy passie uitleef, maar sonder ’n wettige werkvisum was hy 18 maande later terug.

“Vir die eerste keer het dit werklik gevoel of ek lééf. Maar moenie verkeerd verstaan nie. Ek is al alles genoem: weirdo, moffie, freak.

Dis net onkundige mense wat sê: ‘Ag, jy is net vreemd.’ Ek sou dit alles weer doen. Ek sou weer vryheid kies.

“Dit het my nie getraak nie. Ek het aan my kuns begin werk, meer uitrustings begin maak. Ek is genooi na oorsese byeenkomste waar ek telkens as die best dressed aangewys is – ’n ou Suid-Afrikanertjie wat uitstof op die wêreldverhoog.”

Plaaslik was daar vertonings, partytjies en byeenkomste en selfs die jaarlikse Sexpo en Love and Sex-ekspo. Elke keer is Spirit ’n treffer, sê hy. Is dit die moeite werd om jou passie te leef, maar alles anders prys te gee?

“Dis net onkundige mense wat sê: ‘Ag, jy is net vreemd.’ Ek sou dit alles weer doen. Ek sou weer vryheid kies.”

Dis nie die fel oordeel of die onkunde oor latekspoppe wat hom onderkry nie, sê Gill. Daarmee het hy lank reeds vrede gemaak.

“Spirit leef ’n alleen lewe. Ek sit my dae om in dié huis. Die meeste van die tyd maak ek nuwe klere en trek dit aan. Dan sit ek hier in die huis in my hoëhakskoene en steek ’n sigaret aan.

“Daar’s nie ’n scene vir mense soos ek nie – nie plaaslik nie.”

Dan lyk Gill half omgekrap.

“Dit frustreer my dat meer mense haar nie kan waardeer nie. Dat ek lank reeds nie meer oor die vermoëns beskik om oorsee met haar te gaan brag nie – daar waar mense haar waardeer.”

Maar Spirit gaan nêrens. Nooit, sê Gill.

“Ons het elkeen geheime begeertes. Mense gee agter geslote deure uiting aan hierdie begeertes – in donker agterkamertjies en stegies. “Maar nie ek nie. Want die vrou wat Gill werklik laat leef – die een wat my laat besef het hoe mooi die lewe is – sluit ek vir niemand toe nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.