Maar dan klink die refrein op: “Maar die kat kom weer, want hy wil nie langer wag / die kat kom weer, net die volgende dag / die kat kom weer; o, glo vir my dis waar / die anderdagmôre was die kat weer daar.” 

Dís waarskynlik die temalied vir ’n wyfie-gemmerkat van Durbanville in die Wes-Kaap wat minstens een van haar nege lewens moes inspan in ’n reistog wat gestrek het oor meer as 2 000 km.

Cindy Zandberg van Durbanville vertel sy was hartgebroke toe Charlie in Februariemaand vanjaar verdwyn het. 

Die liefdevolle gemmerkat – wat soos ’n “lid van die gesin is” – het op 7 Februarie by haar huis in dié Kaapstadse voorstad skoonveld verdwyn. 

“Jy weet mos maar hoe katte is,” vertel Cindy oor Charlie se gereelde verkenningstogte in en om die buurt. 

“Daar was vir ons niks vreemd daarin wanneer sy ’n dag of twee sou verdwyn nie. Maar ná drie dae het ons geweet iets skort – sy was nog nooit so lank weg van die huis af nie.” 

Charlie die kat
Charlie span uit op die sitkamerbank noudat sy weer tuis is. Foto: Verskaf

Cindy het haar in ’n wafferse speurtog na Charlie tot sosiale media gewend. Daar het sy op elke moontlike Facebook-blad gevra of sosialemediagebruikers na Charlie sal help soek.

“’n Mens dink mos nie sommer daaraan om ver van jou buurt te soek nie. Dalk in ’n ander voorstad, of dalk êrens in die Kaap-omgewing. Ek het tog maar in elk geval my soektog landwyd uitgebrei – selfs al kan mens jou nie indink dat ’n kat so ver sal kan reis nie,” vertel sy.

Eers het net een week verbygesleep. Later was dit nog ’n week en nog ’n week . . . Met elke dag wat verbygevlieg het, het Cindy se hoop begin kwyn.

“Ons was al byna twee weke in lockdown toe ek een aand ’n plasing van ’n dierereddingsorganisasie op Facebook sien. Daar pronk toe ’n foto van my Charlie – veilig en heeltemal ongedeerd,” onthou Cindy.

Die plasing was deur Paws – ’n dierewelsynsorganisasie in Potchefstroom in Noordwes, byna 1 200km van Durbanville.

Charlie die kat
Michelle Swart van die dierewelsynsorganisasie Paws saam met Charlie. Foto: Verskaf

“Ek was in ongeloof. Ek het geweet dis my kat – ek kon haar herken aan die merkies aan haar voorkoop. Maar hoe sy daar gekom het, was vir ons ’n raaisel. Eers later, toe ons mooi daaroor sit en dink het, het ons besef sy moes waarskynlik in die bure se meubelvervoerwa geklim het en saam met hulle gereis het al die pad tot in Noordwes.” 

Charlie het glo dae lank in die strate van Potchefstroom gewandel voordat ’n inwoner haar op 31 Maart ingeneem het. Die vrou het haar drie dae lank versorg en toe na die dierewelsynsorganisasie geneem.

“Paws kon dit aanvanklik ook nie glo toe ek vir hulle sê dis my kat nie. Maar nadat ek haar beskryf het en foto’s aangestuur het, het hulle laat weet dis beslis sy. Ons was almal uit die veld geslaan.”

Charlie is vir drie weke in kwarantyn gehou nadat sy by die skuiling aangekom het, vertel Michelle Swart van dié organisasie. Dit was om haar, maar ook die sowat 80 ander katte by Paws, teen enige siektes te beskerm.

“Ons was geskok toe ons besef hoe ver sy werklik gereis het,” sê Michelle. “Ek het in my lewe en beroep nog nooit so iets teëgekom nie.” 

Charlie die kat
Charlie die gemmerkat. Foto: Verskaf
Charlie die kat
Charlie. Foto: Verskaf

Paws het gesorg vir inentings en immuunversterkers om Charlie gemaklik en gesond te hou. “Siestog, sy was aanvanklik baie bang. En dis bitter koud hier, so ons het vir haar ’n kombersie en ’n warmwatersak teen die winterkoue gegee. Ek dink sy het baie na haar mense verlang.” 

Charlie is uiteindelik verlede week – meer as vier maande later – deur middel van ’n vervoerdiens terug na Durbanville geneem, sê Cindy. Die reis het twee dae lank geneem om dit so min as moontlik stresvol vir die kat te maak.

“Ek het die heeldag op die punt van my stoel sit en wag. Dit was so lekker om haar weer hier te hê – sy het dadelik weer begin verken,” vertel sy.

Sy het nou aangesluit by haar vier ander katboeties- en sussies – en toekomstige reisplanne is vir eers van die baan, terg Cindy. 

“My man het my vir eers belet om nog diere by die huis aan te bring. Ons wil nou eers herstel ná die opdraande wat dié kiets vir ons gegee het.”  

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe