Die blondine buig haar sterk bobene, bult haar gebeitelde armspiere, neem die man wat langs haar staan in haar hande – en tel hom op haar skouers. 

Die sweet tap Kailey Louw (25), een van Suid-Afrika se kampioengewigoptellers, af. 

Om swaar gewigte veerlig te laat lyk is kinder­speletjies vir dié Bloemfontein­se buksie, maar vandag pak sy ’n nuwe uitdaging. Sy tel haar eie broer, die Sharkssenter Marius Louw (23), op. 

“Ek kan hom nou nie heeltemal bo my skouers opstoot nie. Dis ’n bietjie anders as twee gewigte aan ’n balk,” laat hoor sy terwyl kleinboet op haar skouers sit.

“Kleinboet” is self nou nie juis klein nie. Marius is gespierd danksy sy ure in die gimnasium en op die rugbyveld. Teen 1,82 m is hy byna twee koppe langer as sy ousus se 1,6 m. 

Maar sy 92 kg behoort mos nie ’n probleem vir Kailey te wees nie, het Huisgenoot in Maart vanjaar bespiegel toe sy ’n rekorddooiegewig van 162,5 kg – meer as 100 kg swaarder as haar eie gewig – kon optel. Dit het op die Internasionale Federasie vir Kraggewigoptel (IPF) se Suid-Afrikaanse byeenkoms gebeur.

Vandag, hier in ’n ondergrondse gimnasium in Umhlanga, noord van Durban, wys Kailey vir Huisgenoot sy kan haar eie boet soos die gewigte in kompetisies optel. En die sweet is net omdat dit soveel warmer hier is as in haar tuisstad, Bloemfontein, verseker sy ons; nie omdat haar broer te swaar is nie.

Marius lag saam met sy suster toe hy weer met sy voete op die grond staan. Hy is nog in sy oefenklere. Hy speel die volgende dag vir die Sharks XV-span (die unie se B-span) teen die Border Bulldogs in die Kings Park-stadion in Durban. 

Hulle redekawel goedig oor wie nou vir wie “tips gee” wat gewigoptel betref.

Dan sê Marius: “Ons was nog nooit wedywerig nie. Ons motiveer en steun mekaar.” 

Dis eintlik geen verrassing dat die twee sibbes in sport uitblink en dit ook tans hul loopbaan maak nie, sê Kailey, wat as persoonlike afrigter by die Muscle Pro-gimnasium in Bloemfontein werk.

fiksheid,gim
Kailey werk as ’n persoonlike afrigter in ’n gimnasium. Foto: Darren Stewart

“Dis oor hoe ons grootgemaak is. My pa het ons op skool vroeg uit die vere gejaag en na Grey-kollege, waar Marius op skool was, se rugbyveld aangery om te oefen. Dan moes ek ook hardloop en saam push-ups doen,” vertel sy.

Hul pa, Marius sr. (52), ’n bou­kontrakteur, het vroeër as motivering­spreker gewerk. Wanneer die Vrystaatse winter op sy koudste was en die ryp wit op die rugbyveld gelê het, was dit by hom wat hulle selfdissipline geleer het. 

“Hy het ons geleer ons moet altyd harder werk om bo uit te kom,” sê Kailey. Die woorde op haar hemp verklap sy het die les ter harte neem: Can’t stop, won’t stop.

Terwyl Marius in 2014 net ná skool by die Haaie-akademie in Durban aangemeld het, het Kailey eers onlangs in mededingende sport begin belangstel.

Sy was op skool aan die Hoërskool Sentraal en later Sand du Plessis in Bloemfontein lief vir netbal, maar het dit nie verder geneem nie.

“Sy was te kort om ver te kom as hulpdoel,” spot ­Marius en kry ’n elmboog in sy ribbes as antwoord. 

kinders
Marius en Kailey as kinders by hul pa, Marius sr., wat ’n groot dryfveer in hul lewe is. Foto: Verskaf

Kailey het vier jaar by haar pa op kantoor gewerk voor sy in 2015 Israel toe is om ’n jaar en ’n half as versorger vir mense met gestremdhede te werk.

“Ek het nog altyd belanggestel in oefening en gewigsverlies en het kort voor ek Israel toe is met bootcamp-oefeninge begin, maar kon nie so iets daar kry nie. Daar was wel CrossFit-­oefenplekke.”

Sy het toe dié internasio­nale oefenmetode begin volg.

“Die oefening was vir my lekker; dit daag jou uit.” 

Voor sy in 2017 na Suid-Afrika sou terugkom, het Kailey op die internet na ’n gimnasium in Bloemfontein begin soek waar sy as persoonlike afrigter kan werk.

“Ek het ook self ’n persoonlike afrigter gesoek om my te help met my oefen­roetine, want dit raak soms vervelig om jou eie ding te doen.” 

Sy het op Facebook op Ricardo Barreto se Muscle Pro-gimnasium afgekom; ’n gelukskoot op vele vlakke.Nie net het Ricardo iemand gesoek om hom in die gimnasium te help en kon sy onder sy leiding daar oefen nie; dié twee het verlief geraak en is al twee jaar ’n paartjie.

Dit is hier waar sy haar op kraggewigoptel begin toespits het.

“Waar ek voorheen behep was met gewigsverlies, het ek aanvaar ek sal nooit brandmaer wees nie, maar ek kan sterk wees en voel.” 

Haar oorwinning in Maart op die IPF se nasionale kragoptelbyeenkoms in Potchefstroom het haar nuwe selfvertroue gegee.

“Ek het altyd vir my pa gesê ek wil weermag toe gaan soos hy. Ek dink ek het my lewe lank gevoel ek moet myself bewys. Ná die kompetisie voel ek minder so. Dit het my laat besef ek kan enigiets doen as ek vasbeslote is.” 

Marius benader rugby met dieselfde positiwiteit. “My leuse is: Never, ever, ever give up.” 

rugby,fiksheid
Marius het twee jaar gelede sy debuut vir die Haaie se Superrugbyspan gemaak. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hy het sedert 2015 vir onder meer die Sharks XV- en die Haaie se o.21-span gespeel en in 2017 sy debuut vir die Haaie se Superrugbyspan gemaak. Toe hy vroeër vanjaar in ’n wedstryd teen die Melbourne Rebels ná ’n gevaarlike duikslag vir drie weke geskors is, moes hy deurloop onder kritiek van Haaie-ondersteuners. 

“Ek neem nie sulke kritiek kop toe nie; ek lees ook nie regtig koerant­berigte nie. Net soms, wanneer my pa dit vir my aanstuur,” sê hy.

Hy is filosofies daaroor dat hy meestal van die plaasvervangersbank af in Superrugby uitdraf, met die Springbokke ­Lukhanyo Am en André Esterhuizen wat die span se afrigter, Robert du Preez, se eerste keuse as senters is. 

“Dit is nie vir my ’n kwessie of ek vir die B-span of vir die Sharks as plaasvervanger uitdraf nie,” sê hy.

“In elke wedstryd en vir elke span gee ek my alles. Dit pla my nie wat mense van my sê nie, wel wat my coach sê.”

Tog droom hy ook van groter sukses.

“Natuurlik streef ek ook daarna om eendag vir die Springbokke te speel. Ek dink enige professionele speler wil graag die beste wees.” 

Hul grootword­jare was nie sonder hartseer nie. Marius sr. en hul ma, Roselle (49), is in 2003 geskei toe Kailey 11 en Marius nege jaar oud was. Roselle en hul jonger suster, Carmen (vandag 20), het in 2014 na Durbanville, Kaapstad, verhuis, terwyl Marius sr. met Sanette (48) getroud is.

Die Louws het twee stiefbroers, Vian (26) en Marco (21), en ’n stiefsuster, Leriscke Pretorius (24), bygekry.  

“Ons het maar ons struggles gehad, maar dit het baie beter geword. Ons drie kinders is nog altyd na aan mekaar, al sien ons mekaar min,” vertel Marius. 

gim,fiksheid
Kailey, wat in Maart ’n rekorddooiegewig van 162,5 kg kon optel, het dié sport eers twee jaar gelede begin beoefen. Dit het haar gewys sy kan enigiets doen, sê sy. Foto: Darren Stewart

Carmen studeer somatologie aan die Isa Carstens-akademie op Stellenbosch.

En ma Roselle, ’n verkoops- en bemarkingsbestuurder by ’n uitgewer, is ’n steunpilaar vir haar kinders.

“Ek kan enig­iets met my ma deel. Sy is my beste vriendin,” sê Kailey.

“In die gewigoptel­gemeenskap is dit moeilik om altyd ’n sekere beeld in stand te hou. Mense verwag ten alle tye van jou om goed te lyk. Soms wanneer ek ’n sjokolade eet, voel ek ’n bietjie skuldig. My ma is altyd daar om my te herinner dat wat ek doen my leefstyl is en dat ek ’n balans moet handhaaf.” 

Hulle lag net toe ons vra of hulle gereeld vasgesit het toe hulle kinders was.

“Dis seker ook een van die redes hoekom ek moes sterk word,” sê Kailey en lag.

“Marius het altyd oor my en Carmen gestoomroller. Iewers moes ek seker vir myself begin opstaan!” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.